Psigiese siektes: so help jy jou geliefde en jouself
Het jy of iemand ná aan jou ‘n psigiese siekte? Joernalis Pieter van Zyl praat oor sy boek, “Verhale van hoop: só help jy jou geliefde en jouself”, vir mense wat met ‘n uitdaging soos depressie, angsversteuring, opgaarsindroom of obsessief-kompulsiewe versteuring saamleef. Hy vertel waar die aangrypende verhale in sy boek vandaan kom; van sy eie pad met angsversteuring, major depressie en ‘n lewensmaat met bipolariteit; en hoe die navorsing en praktiese raad in sy boek uit sy eie dringende behoefte aan hulp gebore is.
As podsendings vir jou nuwe terrein is, kan jy op die pyltjie klik om na Pieter en Mariette te luister, of op die aflaaiknoppie (download button) om die gesprek op jou rekenaar, tablet of selfoon te stoor en te luister wanneer dit jou pas.
In episode 22 van die weeklikse reeks Calm, Clear & Helpful, vertel Pieter
hoe dit voel om 4.00 in die oggend in ‘n woonstel te sit tussen glasskerwe wat tydens ‘n maniese episode stukkend gegooi is
hoe sommige psigiese siektes deur ‘n spesifieke gebeurlikheid “aangeskakel” kan word
hoe hy as jong misdaadverslaggewer sy psigiese balans verloor en oor ‘n lang tydperk weer herwin het
hoe moeilik veral mans dit vind om oor hul binnewêreld te praat
dat baie mense met psigiese siektes vrees hulle sal hul werk verloor
wat die belangrikste ding is wat die geliefdes van mense met psigiese siektes moet doen
waar hulp beskikbaar is
hoekom psigiese siektes skaamte en skuldgevoelens wakker maak
watter rol kommunikasie, vertroue en time out speel
Pieter se drie beste wenke oor hoe om jou kop in moeilike tye bymekaar te hou.
Die gratis podsendingsreeks Calm, Clear & Helpful is op iTunes, Spotify, Player FM and Iono.fm beskikbaar.
Meer besonderhede
Pieter van Zyl werk as joernalis by Huisgenoot. Hy het Verhale van Hoop in sy privaat hoedanigheid geskryf en is ook die skrywer van Gert en Joey. Pieter woon in Kaapstad.
Musiek deur Mart-Marie Snyman
Foto: Unsplash
Foto van Pieter van Zyl: verskaf
Let wel: Hierdie podsending is slegs vir opvoedkundige doeleindes bedoel en moet nooit ‘n plaasvervanger wees vir professionele evaluering of bespreking nie.
Mense met selfdoodgedagtes moet onverwyld die gratis SADAG hulplyn by 0800 567 567 bel (24 uur per dag beskikbaar), ‘n SMS stuur aan 31393 (24 uur per dag beskikbaar), of ‘n gekwalifiseerde persoon met toepaslike mediese opleiding kontak.