Suzanne Kotze oor verhoogvrees, diep denkers en ‘n restaurant in ‘n ou plaasdam

‘n Entrepreneur en die mede-eienaar van Stylvol skryf oor oggendgeselsies, ‘te veel goetertjies’, oefening-endorfiene en uitbundige vriende.

1 Vertel ons van jou gesin van herkoms en jou kinderjare. 

Ek het op ’n plaas in Worcester grootgeword. Ek is is die oudste van drie kinders. My ouers het ’n restaurant in ons ou plaasdam/swembad oopgemaak gedurende my hoërskooljare en ons het almal ingespring en gehelp, van kelnerin speel tot kosmaak. Ek was altyd lief vir kuns en sport op skool. Ek het wonderlike skoolvriendinne met wie ek nou nog vriende is en al elf van ons gaan steeds op ’n jaarlikse girls’ weekend.

Suzanne en Danie (in die middel) in Japan in 2024

2 Hoe het jy jou man, Danie, ontmoet?

Ek en Danie het as studente in Stellenbosch ontmoet. Ek het sy vriende geken en hy myne, en hy het een aand langs my in Die Akker kom sit. En vandaar af kon ons nie ophou praat en lag (en soen) nie ;-)

 

Hier gesels Suzanne oor die glans van mode en skoonheid, entrepreneurskap, ma-wees en gewone vreugdes.

3 Vertel meer van julle twee seuns en wat jy hulle toewens.

My seuns is 10 en 14 en ons geniet hulle so. (Natuurlik is daar baie kwaai tye en frustrasies ook). Hulle is altwee kreatiewe seuns en ek hoop hulle sal dit altyd koester. Hulle is ook altwee diep denkers en ek hoop hulle bly altyd nuuskierig oor die lewe en dinge in die wêreld en hou nooit op vrae vra of dink nie. En dat hulle sal weet hierdie mamma is altyd daar vir ’n cuddle en gesels. 

4 As voormalige skoonheidsredakteur by rooi rose en as mede-eienaar van Stylvol is glansmense, besigsheidslui, lesers/webwerfbesoekers, kenners op talle gebiede en ander deel van elke dag se werk. Vind jy dit maklik om by so ‘n wye verskeidenheid mense aanklank te vind?

Ek vind dit maklik om aanklank by mense te vind omdat mense my nog altyd fassineer het. Ek het van kleins af ’n wye verskeidenheid vriende gehad. Ek het vriende by die kunsskool gehad en vriende op die sportveld. Uitbundige vriende en stil vriende, en ek het dit selfs geniet om saam met my ouma en haar vriendinne tee te drink.  Ek hou daarvan om mense beter te leer ken en te verstaan. So dikwels het ons ’n idee van hoe ’n seker glanspersoonlikheid of besigheidspersoon of enige persoon is, en dan is die teenoorgestelde baie keer waar. 

5 Jy en jou vriendin en Stylvol-vennoot Justine Kroes tree dikwels as sprekers op. Kry jy ooit verhoogvrees? 

Ek het geen idee hoekom nie, maar ek was nog altyd baie gemaklik daarmee om voor mense te praat. Ek word ’n klein bietjie op my senuwees, maar nie baie nie. Ek het dramaklasse gedoen en ’n paar redenaarsklasse op skool, en dit het waarskynlik gehelp. As student het ek ook ’n radioprogram op MFM aangebied en dit het natuurlik ook gehelp. Dit maak dit beslis makliker om dit saam met iemand te doen. Dit is amper maar net soos om met jou vriendin te gesels en dit met ander mense te deel. 

 

6 Wat doen jy as jy die oggend opstaan en nie regtig vir die dag kans sien nie?

Dit help my vreeslik baie om in die oggend te oefen. Ek is deel van ’n boot camp-groep vir vroue en ons oefen in die Kirstenbosch-tuine. En al voel jy hoe moeg of mislik as jy opstaan, voel ‘n mens wonderlik daarna. Daar is natuurlik dae wat ek net in die bed bly lê ook, maar oefening-endorfiene is wonderlik. 

7 Jy stel nog altyd belang in dekor, en Dekor is een van die afdelings op Stylvol. Watter gevoel probeer jy in julle huis skep – miskien in een spesifieke vertrek?

Ek is baie lief vir mooi goed, maar ons huis is taamlik modern. Ek probeer ’n balans hou van skoon lyne en minimalisme, met tikkies mooi goed. (Ek moet myself maar terughou om nie te veel goetertjies te wil uitstal nie). Ek hou daarvan dat dekor-items stories moet vertel en om na dekor-items te kyk en te onthou waar ek dit gekoop het (ek koop dikwels dekor-items as ons reis) of by wie ek dit as geskenk gekry het. Ek hou ook daarvan om oud en nuut te meng. 

Een van die gunsteling vertrekke in ons huis is ons slaapkamer. Ons is ’n cuddle-familie. En dit is waar die kinders kom cuddle of tee drink op die bank voor almal gaan slaap. Dit is ook so in my ouerhuis. As ons daar kuier en ek vroeg wakker word (wat ek gewoonlik doen) gaan ek heel eerste na my ouers se kamer en val op die bank neer vir ’n oggendgeselsie of ‘n koppie koffie of tee.

Ons Stylvol tuiskantoor is die enigste vertrek in die huis wat meer vroulik en vol goetertjies is en ek geniet dit vreeslik om hier te sit en werk saam met Justine. (Ons werk so een keer per week saam).

stylvol-kantoor-met-lessenaar

 

8 In watter historiese tydperk sou jy graag wou geleef het, en hoekom?

Ek geniet die era waarin ons nou leef. Ek hou natuurlik baie van die modes van die 1920’s en 40’s, maar ek sou nie regkom met veral die vroueregte van daardie era nie. 

Saans drink Suzanne en Danie tee in die koppies wat hulle in Kyoto in Japan gekoop het: “Ons onthou dan opnuut hoe spesiaal dit was. Die koppies is gemaak deur ’n familie wat al eeue lank kleigoed maak in ‘n klein dorpie in Japan.”

Meer oor Suzanne:

Suzanne Kotze is ‘n entrepreneur en mede-eienaar van Stylvol.co.za

Sy en haar Stylvol-vennoot, Justine Kroes, tree onder meer op as gassprekers by vrouedae. Meer inligting oor die dienste wat hulle bied by https://stylvol.co.za/oor-ons-2/ - rol net af.

Webwerf: www.stylvol.co.za 

Facebook: @stylvol

Instagram: @stylvol.co.za

Hooffoto: Unsplash

Ander foto’s: verskaf

Previous
Previous

Riette Rust oor gogo-wees, ‘n skoon denklyn en ‘n treintjiekoek

Next
Next

Dr Ronél le Roux on bareback riding, rescuing lizards and delightful goals