Riette Rust oor gogo-wees, ‘n skoon denklyn en ‘n treintjiekoek

‘n Skrywer, spreker en joernalis skryf oor jazz en kerse, ‘n mislukte skubaduikpoging, ‘n suksesvolle valskermsprong en “pure malvalekker.”

1 Jou boek Die geskenk: Liefde, selfdood en dieper leef wat pas verskyn het, is jou sesde boek. Vir watter een van jou vorige vyf boeke moes jy die grense van jou gemaksone die verste verskuif?

Nie een nie, ek dink oopkop. Ek vors enige onderwerp met vreugde na, veral as dit van ’n sielkundige of mediese aard is. Die enigste skryfwerk waarvoor ek my gemaksone al verlaat het, was vir regsartikels in tydskrifte. My man JD was ’n regsman. Wat my hoogs frustreer is dat ’n regsaak nie net swart of wit is nie, daar is dikwels uitsonderings.

Met die skryf van finansiële artikels moes ek ook aanvanklik die grense van my gemaksone verskuif, maar toe word meer as een artikel met ’n finansiële prys bekroon. So mens weet nooit wat met die regsartikels kan gebeur nie . . .

2 Jy skryf en bied boekresensies op verskeie platforms aan, ook radio. Wat verg dit om ’n voortreflike boekresensie te skryf – ook wanneer die boek dalk nie in jou smaak val nie?

Jy moet goed ingelig wees oor die genre en ook presies weet waaroor die boek handel. Hoewel jy jou mening kan gee, moet jy nie vooroordele teenoor ’n bepaalde skrywer of genre hê nie. Jy moet ook weet wie die waarskynlike leser van die resensie gaan wees en jou invalshoek en taalgebruik daarby aanpas. Soos Hennie Aucamp gesê het: “’n Goed beredeneerde argument, ’n skoon denklyn, en ’n billike slotoordeel is vir die intelligente leser van resensies oorgenoeg.”

Dís waaraan jy in volgorde aandag kan gee: Wat sê die teks? Hoe gaan die skrywer te werk om sy of haar sê te sê? Het die skrywer geslaag in wat hy wou doen? As jy wil en kan debatteer, doen dit gerus. Jy moet net elke uitspraak kan staaf.   

Foto: Unsplash

Pasop vir reklametaal. Soos om sommer te sê ’n werk is “magistraal”. Min werke is.

Wanneer ekself nie dink ’n boek is goed nie, ignoreer ek dit of skryf ek eerder oor die inhoud daarvan. Maar as foute soos struktuurprobleme of ongeloofwaardigheid opval, noem en motiveer ek my kritiek beslis ook.


3 Jy het twee dogters, Zahn en Cara. Vertel meer van hulle en wat jy omtrent hulle waardeer.

My oudste dogter Zahn het pas 38 geword. Sy het ’n meestersgraad in visuele kuns en bestuur al sewe jaar lank haar florende blommemaatskappy, Bulb Flowers, wat veral troues en blomaflewerings vir spesiale geleenthede behartig.

Cara is 32. Sy het ’n dramagraad en is tans ’n vryskutvideoredigeerder, ook vir oorsese maatskappye. In haar vryetyd vervaardig sy kortfilms wat sy ook skryf en regisseer. Meeste is al internasionaal bekroon. Sy mik daarna om ’n voltydse regisseur te word.

Ek en my dogters was nog altyd na aan mekaar, maar ná JD se selfdood is ons nog sterker as span. Ons ondersteun en moedig mekaar deurentyd aan. Ons kinders is emosioneel volwasse, slim, wys, snaaks en liefdevol. Ons drie pas mekaar soos goud op.    


Luister ook na Riette se episode oor liefde, selfdood, naasbestaandes se verantwoordelikheid, en vergifnis.


4 Dan is jy ’n ouma! Hoe voel dit?

’n Gogo, ja. “Ouma” klink oud en outyds en ek het blonde hare en rooi lippe. Luca is ’n pragtige, slim seuntjie oor wie ek baie dankbaar is. Ek is nie ’n tipiese ouma wat presies weet hoe om ’n baba te vermaak nie, maar Gogo leer hom wel vroeg-vroeg sit-ups en stand-ups doen wat hy natuurlik met my hulp uitvoer.

Ek bak koek vir sy vieringe. Zahn soek altyd ’n geleentheid vir ’n partytjie. Só kry sy die hele familie bymekaar. Wanneer Luca op 31 Oktober een jaar oud word, moet ek ’n lang treintjiekoek met verskeie trokke bak. Ek weet nie hoekom ek altyd ja sê vir sulke “projekte” nie.

Die treintjiekoek wat Riette jare gelede vir haar jongste, Cara, gebak het.

Ek sien geweldig uit na wanneer Luca kan praat sodat ek hom behoorlik kan verstaan, hom kan leer lees en ook om ’n waardering van die kunste te kweek. In my huis hoor hy meestal jazz.

Ná ’n lang dag is dit goed om te weet ek kan hom aan sy ma teruggee!   


5 Vertel van jou verhouding met musiek - ook oor die liedjie met jou liriek wat Willie Strauss opgeneem het.

Ek kan my lewe nie sonder musiek voorstel nie. Saans kalmeer jazz (en kerse) my en naweke luister ek na ouer musiek soos dié van Tony Bennett of Dean Martin. Wat jazz betref, hou ek veral van Keith Jarret se klavierspel en om na Shirley Bassey se stem te luister. Ek is al sedert my tienerdae gaande oor haar talent. Ek het dit behoorlik ontdek nadat ek ’n plaat van my tannie gegaps het. (Sy weet daarvan en het jare later gesê ek kan dit gerus hou.) 

Die “Over the Rainbow”-weergawe deur Israel Kamakawiwo’ole maak my op ’n goeie manier emosioneel. Ek luister ook graag na Pavarotti. Wat ’n briljante tenoor is hy nie!

Foto: Unsplash

Ek het ’n eie liedjie geskryf omdat ek wou weet of ek dit kon doen. Dis moeilik, veral om die ritme reg te kry, maar dit was ’n besondere ervaring. Toevallig het die sanger Willie Strauss ’n liedjie gesoek vir sy album Seisoene. Dit was ’n voorreg om myne vir hom te kon gee. Die talentvolle Christa Steyn en Fanie Fouché, albei oorlede, was ook betrokke. Hier is die liedjie. Luister gerus daarna op YouTube:

Waar bly jy?

Ek hoor jou in elke stem,

in die oktaaf van ’n klavier.

In die klanke wat beklem,

het jy my hart kom rem.

Ek ruik jou in elke geur;

in die reuk van angelier.

Ek ruik jou iewers raak,

in die boeket van my likeur.

Jy’s die ritme van my stem.

Jy’s my hart se gevoel.

Jy’s die raaisel van my spieël.

Jy’s net vir my bedoel.

Waar bly jy, my lief?

Is jy naby?

Is jy ver?

Laat hoor van jou, my lief

Stuur ‘n boodskap, stuur ‘n brief.

Ek sien jou in elke mens,

in die fokus van my lens.

In die letsels van onthou,

het jy my só laat wens.

Ek proe jou in ’n vy,

in die vlees van ’n lemoen.

In die smaak van wat ek eet,

het jy my mond verlei.

Jy’s die ritme van my stem.

Jy’s my hart se gevoel.

Jy’s die raaisel van my spieël.

Jy’s net vir my bedoel.

Waar bly jy, my lief?

Is jy naby?

Is jy ver?

Laat hoor van jou, my lief

Stuur ‘n boodskap, stuur ‘n brief

… Vanaand (x2)

6 Hou jy daarvan as die adrenalien deur jou are bruis? Wat is die avontuurlikste ding wat jy nog gedoen het?

Wanneer ek ’n besondere artikel moet skryf, ’n boek teen ’n sperdatum moet voltooi of op die verhoog as motiveringspreker (oor seks, narsisme of selfdood) moet optree, voel ek die adrenalien. Maar ek het regtig die grense van my psige uitgetoes – en dít om artikels oor te kan skryf –  toe ek ’n helikopter in sterk wind gestuur het, ’n valskermsprong (solo!) gewaag het, ’n minder suksesvolle skubaduikpoging aangepak het, en heerlik saam met die bulle in Pamplona gehardloop het.

Wat die suksesvolle valskermsprong en die mislukte skubaduikpoging (ek het amper verdrink) betref, het ek geen adrenalien voel inskop nie, ek was eerder absoluut vreesbevange.        

Foto: Unsplash

7 Jou psigiese vermoë om die bonatuurlike te kan aanvoel, is besonder goed ontwikkel. Hoe ervaar jy dit?

Al veroordeel ander dit, is dit ’n gawe. Ek is intens op vibrasies ingestel. Ek weet dikwels wat ander dink en voel  ̶  hulle hoef niks te sê nie  ̶  én wanneer iemand my probeer manipuleer, agteraf is, of ’n leuen vertel.

Ek sal uit die bloute aan iemand dink wat ek jare laas gesien het, dan kom sy of hy binne ’n week te voorskyn.

Ek weet dadelik wanneer iemand na aan my deur ’n moeilike tyd gaan, siek is, of pas gesterf het. Ek het ook al via ’n kundige, Christelike medium boodskappe van Bo gekry, spesifiek van my oorlede man JD. Ook van my latere geliefde wat aan kanker gesterf het. Die inligting wat ek van JD gekry het, het my gehelp om sy dood te verwerk.

Ek hoor ook dinge, soos gevangenes uit vorige dekades wat met kettings aan hul bene loop.

My ma en pa het kort ná hul afsonderlike sterftes aan my verskyn.

Soms skakel ek my gawe af, want ek wil nie alles voel, weet, hoor of selfs sien  nie. Dis ontsaglik uitputtend en soms ontstellend.   

 

8 Het blondines meer pret?

Ek het nog nooit so daaroor gedink nie, maar ek hou van my haarkleur. Mense dink jy is ligsinnig, ook tydens onderhoude, dan verwag hulle nie intelligensie of die aard van sommige van my vrae nie.

Blonde hare laat mens “sagter” lyk. Dit pas my want my binnekant ís pure malvalekker.

Wat ek ook ná al die jare weet, is dat ’n vroulike blondine makliker aandag van mans kry. Ha-ha!

Meer oor Riette

Riette Rust is ‘n skrywer, spreker, bekroonde vryskutjoernalis en boekresensent van Kaapstad. Sy het twee TV-draaiboeke geskryf, verskyn gereeld op TV en neem aan regstreekse radio-onderhoude deel. Sy is ’n lid van die SA Brandewyngilde, wat haar vir haar joernalistieke bydrae tot die brandewynbedryf vereer het.

Sy het onlangs Sielkunde 1 tot 3 deur Unisa gestudeer.

Die geskenk  ̶  Liefde, selfdood en dieper leef is Riette se sesde boek.

E-posadres: rietterust06@gmail.com

Webwerf: https://www.rietterust.co.za/

Facebook: Riette Rust

Hooffoto: Unsplash

Foto’s van Riette Rust en die treintjiekoek: verskaf



 




Previous
Previous

Mona-Lize Moolman on an unconventional spin, wiping away the tears, and insects as pets  

Next
Next

Suzanne Kotze oor verhoogvrees, diep denkers en ‘n restaurant in ‘n ou plaasdam