Lyno: ‘n oplossing vir chroniese pyn en herhalende beserings

Kan onopgeloste trauma werklik chroniese pyn of beserings veroorsaak? Hoe hou dit verband met die fascia of bindweefsel in ons liggame? Fisioterapeut Benita Kropman het twee en twee bymekaargesit en met die kragtige, sagwerkende Lyno-metode vorendag gekom. Hierdie artikel het in die Februarie 2024-uitgawe van rooi rose verskyn. 

Benita Kropman, stigter en direkteur van die Lyno® Method

Maak nie saak hoe oud jy is nie: beweeglikheid speel ‘n kernrol in jou lewenskwaliteit. Indien chroniese pyn of ‘n herhalende besering jou mobiliteit inperk, wéét jy hoe frustrerend dit is om sekere aktiwiteite te vermy of noodgedwonge ‘n stadiger pas te volg. En vir ‘n atleet is dit soveel erger.

Benita Kropman, ‘n fisioterapeut met 35 jaar se ervaring agter die blad, vertel: “In die vroeë jare tagtig het ek deur ‘n sameloop van omstandighede op sportbeserings begin fokus. Ek het verskeie private praktyke geopen en gereeld met elite-atlete gewerk. Die feit dat ek nie ‘n oplossing vir chroniese sportbeserings kon vind nie, het my gehinder.

woman-with-hurt-knee

“Ek het byvoorbeeld atlete gehad wat ‘n jaar lank vir die Olimpiese Spele sou voorberei en ‘n lastige probleem – sê maar met ‘n linkerknie - sou optel. Uit ‘n fisioterapeutiese oogpunt sê ons dis ‘n hardlopersknie of ‘n meniskusbesering, of wat die geval ookal mag wees. Elke diagnose word met spesifieke metodes, soos elektroterapie of strekke rondom die knie, behandel. Ons sou die probleem onder beheer kry, maar wanneer die atleet by die Spele sy of haar lyf ‘n bietjie harder sou druk, sou die probleem weer opduik, ‘n besering word en verhoed dat hy of sy hul prestasiedoelwitte bereik.

Foto: Pexels. Model gebruik.

“Omdat my konvensionele mediese agtergrond nie ‘n permanente oplossing kon bied nie, het ek my op navorsing toegespits en na die liggaam as ‘n geheel begin kyk. Ek het my afgevra óf elke deel beweeg, hóé elke deel beweeg en of ek my behandeling op ‘n ander area as die knie in die voorbeeld moes fokus. Telkens het ek afgekom op liggaamsdele of -areas, ver van die chroniese besering geleë, wat nie vry beweeg het nie. Die atleet met die linkerknieprobleem se regterskouer sou byvoorbeeld heeltemal styf wees.

“Toe ek meer oor fascia begin leer, het die Lyno® Method beslag gekry. Fascia is die bindweefsel wat soos ‘n net onder die vel lê en elke orgaan, bloedvat, been, ensovoorts in plek hou. Ek het agtergekom dat die bindweefsel in sommige liggaamsdele saamtrek – in ons voorbeeld, in die regterskouer. Sodra ek dié fascia-sametrekking kon vrylaat, is die beweeglikheid daar herstel. Terselfdertyd het die oorspronklike probleem – die chroniese linkerkniebesering - en die gepaardgaande pyn verdwyn en weggebly.”

Wat veroorsaak die sametrekking van bindweefsel in sekere gebiede van die liggaam?

“Die oorsaak is meestal onopgeloste fisieke of emosionele trauma. Die fascia beskerm die liggaam deur saam te trek en onopgeloste trauma in ‘n spesifieke area te berg. In ons voorbeeld het die atleet moontlik sy regterskouer jare tevore beseer en gevolglik het sy brein, sonder dat hy daarvan bewus was, die regterskouergebied ‘gevries’ om te voorkom dat dit verder skade ly.

“Die gevolglike wanbalans in die atleet se liggaam het veroorsaak dat sy linkerknie meer gewig moes dra, wat chroniese pyn veroorsaak het. Behandeling van die knie self het slegs tydelik verligting verskaf; die nadelige bewegingspatroon het voortgeduur. Eers toe die oorsprong van die probleem - die stywe regterskouer - aangespreek is, is die balans herstel.”  

Benita gee Lyno-opleiding in Kenia

Hoe Lyno saamgetrekte bindweefsel vrylaat 

“Aanvanklik het ek ‘n probleem soos die stywe skouer in ons voorbeeld probeer behandel deur dit met fisioterapietegnieke te strek. Die uitkoms was nie bevredigend nie.

“Bindweefselwerk is anders. Die fascia vorm verskillende lae en ek het agtergekom jy moet dit laag vir laag vrylaat deur dit met jou hande te skuif sodat die lae bo-oor mekaar gly. Op dié manier kon ons probleemareas soos die skouer in ons voorbeeld weer beweeglik kry.

“As Lyno-praktisyns gebruik ons ons eie selfoontoepassing met ‘n goniometer om ‘n kliënt se liggaam van kop tot tone te assesseer en die gebiede waar die fascia saamtrek, of waar daar ‘n gebrek aan beweeglikheid is, te identifiseer. Ons meet byvoorbeeld die hoek waarteen ‘n ledemaat kan beweeg voor en ná die behandeling.”

‘n Voorbeeld van die beelde wat die Lyno selfoontoepassing genereer. Die blou en pers dele dui gebiede aan waar die fascia saamtrek.

Here Benita explains how to participate in sport injury-free and at your best - and how to choose optimal training shoes.

Die oorspronklike Lyno-tegniek

“Ek het ‘n spesifieke tegniek ontwikkel wat ons in Lyno gebruik het,” verduidelik Benita. "Ek sou met my hande direk op die vel werk en beweging van die skouer met 'n diep masseringstegniek kombineer. Hoewel die resultate merkwaardig was, was die behandeling pynlik.

“Ons het hierdie indringende tegniek ongeveer 21 jaar lank gebruik. Vyf jaar gelede het daar egter iets interessants gebeur.

“Ek het op daardie stadium osteopate in Duitsland opgelei en oudergewoonte gevra dat die klere op die probleemarea verwyder moes word sodat ons met ons hande op die vel kon werk. Kort daarna is ek na Suid-Korea om fisioterapeute daar op te lei. Toe ek vra dat die klere op die spesifieke gebied verwyder word, het hulle gesê hul kultuur laat dit nie toe nie. Kon ek die tegniek sommer bo-oor die klere demonstreer?

“Ek was benoud omdat ek geweet het ek moes die vel vasgryp om die dieper bindweefsel-lae te kon vrylaat, maar uit radeloosheid het ek ingestem. Ons het die aanvanklike assessering gedoen; die bewegingsreeks was 20 grade en dit moes 40 grade wees. Ek demonstreer toe die tegniek deur my vingers saggies bo-oor die klere te beweeg. Toe ons die eindresultaat toets, was die bewegingsreeks ‘n volle 40 grade.

“Jy kon my met ‘n veertjie omtik. Die kursus het voortgeduur en die sagte aanraking het elke keer tot die gewensde vrylating gelei. Terug in Duitsland, waar ek die vorige groep osteopate verdere opleiding moes gee, was hulle ook uit die veld geslaan.”

Benita demonstreer ‘n Lyno-tegniek op haar man, Jeremy, tydens opleiding in Indië

“Om te verstaan wat aan die gang was, het ek nagelees oor die manier waarop die outonome senuweestelsel traumatiese gebeure hanteer. Wanneer ons bedreig word, reageer ons deur te veg, te vlug of te vries. Wanneer ons vries, trek sekere dele van die liggaam saam. Indien die trauma oorweldigend is en nie opgelos word nie, word dit deur die bindweefsel ‘vasgehou.’ In ons daaglikse kom en gaan beperk hierdie stywe areas die manier waarop ons beweeg. Dit plaas spanning op ander gebiede en lei tot chroniese pyn en terugkerende beserings.  

“Navorsingstudies wat met die vagus-senuwee verband hou, toon dat slegs 20% van trauma deur die brein en ons denkprosesse ervaar word, terwyl 80% van alle trauma direk deur ons liggame ervaar word, terwyl ons denke onbewus is daarvan. Dit beteken dat ons totaal onbewus is van ten minste 80% van ons onverwerkte trauma, hetsy emosionele of fisieke trauma, wat nou in ons liggame skuil en chroniese pyn en beserings veroorsaak.

“Wanneer ons Lyno doen, hoef ons nie te weet wat die onbeweeglikheid veroorsaak het nie. Ons waarsku kliënte dat die behandeling moontlik ‘n emosionele reaksie tot gevolg kan hê, maar ons skep ‘n ruimte waar hulle veilig voel. Die sagte aanraking is nie pynlik of indringend nie en ons fasiliteer die kliënt se asemhaling en beweging. Dis byna asof hul senuweestelsel besef dis veilig en vanself die fascia-inperking vrylaat.

“Dis ongelooflik om kliënte se reaksie te sien wanneer hulle reeds tydens die eerste sessie beweeglikheid herwin. Hulle kry gewoonlik ‘huiswerk’ – hulle moet die spesifieke beweging twee maande lank twee maal per dag herhaal sodat die brein die herinnering aan die traumatiese gebeurtenis kan vervang met die vertroue dat alles wel is. Al my kliënte doen hul oefeninge, só bly is hulle oor hul herstel.”  

jeremy-kropman-using-lyno-method

Jeremy gebruik die sagte Lyno-tegniek

Help die Lyno-metode in alle gevalle?

“Wanneer chroniese pyn of ‘n terugkerende besering ‘n strukturele oorsaak het, bied Lyno nie ‘n oplossing nie. Neem byvoorbeeld skoliose, die kromtrekking van die ruggraat. Indien iemand gebore is met ‘n ruggraat waarvan die been self aan die linkerkant korter is as aan die regterkant, is dit ‘n strukturele probleem en sal Lyno moontlik tydelike verligting bring, maar nie ‘n permanente verskil maak nie.

“Indien die ruggraat egter ‘n kurwe vorm omdat die bindweefsel en spiere aan die linkerkant in ‘n kort posisie saamgetrek is en die spiere aan die regterkant in ‘n verlengde posisie sluit, kan die ruggraat herstel wanneer die onopgeloste trauma in die fascia vrygelaat word.”

 

Is Lyno geskik vir alle ouderdomme?

“Beslis! Ons ervaar almal trauma en die tegniek is so sagwerkend dat ons dit selfs met babas kan gebruik. Ouer mense vind baie baat hierby – indien ‘n ouer persoon se beweging ingeperk is en ons slegs ‘n persentasie daarvan kan herstel, maak dit alreeds ‘n groot verskil.”

Meer inligting

Meer inligting oor die Lyno® Method, opleiding en praktisyns (in Suid-Afrika en elders) by www.thelynomethod.com

Benita explains how the Lyno Method can relieve chronic pain and recurring injuries by releasing unresolved trauma.

Read Benita’s thoughts on travelling the globe with her husband, ocean swims and forest walks, and neighbours with cows and chickens.

Meer oor Benita

Fisioterapeut Benita Kropman is die stigter en direkteur van The Lyno® Metode, 'n holistiese benadering om chroniese pyn en herhalende beserings op te los deur fascia-beperkings te identifiseer en die vrystelling daarvan te fasiliteer. Benita en haar man, Jeremy, reis wêreldwyd en bied opleiding op verskillende plekke aan.

Webwerf: www.thelynomethod.com

Facebook: Benita Kropman Lyno Method

LinkedIn: Benita Kropman; The Lyno® Method

Hooffoto: Unsplash, model gebruik.

Foto’s verkry by Benita Kropman Lyno Method op Facebook, tensy anders aangedui.

Previous
Previous

Triple Transformation Therapy: healing emotionally, physically and energetically 

Next
Next

How to assert yourself in a healthy way