Het nuuskierige kinders ‘n voorsprong?

Nuuskierigheid, ‘n honger na kennis, ‘n ondersoekende gees – die Engelse woord curiosity word moeilik vertaal. Tap jou kind se onophoudelike vrae soms jou energie? Lees waarom jy sy of haar weetlus moet aanvuur! Vind uit wat die 3 soorte nuuskierigheid en “produktiewe frustrasie” behels, en kry wenke om ‘n nuuskierige agie te help kweek. Hierdie artikel het oorspronklik in rooi rose verskyn.   

“Mamma, wat beteken …? Watter een …? Waarom is …?” Vrae, die een op die ander. Sommige jong kinders vra tot eenhonderd vrae binne ‘n uur, sê die navorsing. En dié verskynsel moet jou nie teen die mure uitdryf nie. Nee, jy moet jou verheug oor jou weetgierige spruit!

Dit verg natuurlik selfbeheersing, veral as jy grootgeword het met die spreekwoord “van nuuskierigheid is die tronk vol en die kerk leeg.” Ian Leslie, skrywer van Curious: the desire to know & why your future depends on it (Quercus, 2014) het’n gans ander uitkyk. “Nuuskierige mense is geneig om slimmer, kreatiewer én suksesvoller te wees. Ongelukkig word leergierigheid dikwels onderskat of verkeerd verstaan. Hoewel ons almal daarmee gebore word, verloor baie mense dié vermoë. Nuuskierigheid is soos ‘n spier wat gereeld oefening moet kry. Dit kan beskryf word as ‘n gewoonte - een wat ouers, skole, werkplekke en individue moet koester om dit te laat gedy.”

Kan jy té nuuskierig wees?

Dis natuurlik waar dat mense wat (veral kritiese) vrae vra deur die eeue met agterdog bejeën en selfs tereggestel is. “Curiosity is insubordination in its purest form,” het die romanskrywer Vladimir Nabokov dit raakgevat. Dit kan riskant wees om vrae te vra aan iemand in ‘n gesagsposisie - of dit nou jou pa is, ‘n onderwyser, of die verteenwoordiger van ‘n regeringstelsel of ander sosiale instelling.

Foto: Pexels

Verwerping is ‘n verdere gevaar wat weetgieriges op die lyf loop. Het jý sonder om twee keer te dink in die klaskamer vrae gevra? Die meeste van ons is bang ander spot met ons onkunde. Daarby verg “goeie maniere” en politieke korrektheid dat jy nie aanstoot gee deur emosioneel gelaaide onderwerpe soos godsdiens, seksualiteit en die politiek aan te raak nie.  

Dis ironies: geleerdheid en oorspronklike denke word oënskynlik hoog aangeslaan, maar dit bly ‘n waagstuk om meer inligting te versoek of te laat blyk dat jy anders dink. Soos Leslie dit stel: “Elkeen, van Galileo tot Charles Darwin tot Steve Jobs, kan daarvan getuig dat ‘n ondersoekende ingesteldheid jou een of ander tyd in konflik bring met gesag.”

Hoekom sou jy dan jou kind wou aanmoedig om nuuskierig te wees oor die werklikheid?

Eerstens verhoog weetgierigheid ons lewenskwaliteit. Het jy geweet ons is evolusionêr bedraad om plesier uit die soektog na inligting te put? Neurowetenskaplikes het bevind weetgierige vrae stimuleer die koudaatnukleus, dié deel van die brein wat met leer, visuele skoonheid en romantiese liefde verbind word. Die koudaatnukleus is ryk aan neurone wat dopamien vervoer, ‘n chemiese stof wat deur ons brein stroom wanneer ons kos of seks geniet.

Kinders wat “wil weet” vind die lewe nie net meer bevredigend nie, maar het ook ‘n groter kans op studie- en loopbaansukses. “Opvoedingsvlak is die grootste enkele bepaler van mense se potensiaal om welvarend te wees,” skryf Leslie. “In die VSA verdien gegradueerdes vandag 80% meer as studente wat nie hul hoërskoolloopbaan voltooi het nie. Akademiese prestasie maak die deur oop vir tersiêre onderrig. 

“Ons weet almal intelligensie het ‘n invloed op akademiese sukses, maar studente se houding teenoor die leerproses is van kernbelang. Dink maar aan eienskappe soos deursettingvermoë, self-dissipline en veerkragtigheid. Deesdae beland intellectual curiosity toemenend onder die soeklig. Navorsers meen intelligensie, pligsbesef en nuuskierigheid is die drie pilare van akademiese prestasie. 

“Om die waarheid te sê is daar nou die eerste keer ‘n wetenskaplike instrument wat intellektuele nuuskierigheid meet: die “need for cognition” of NFC. NFC meet onder meer die honger na nuwe kennis, en deursettings- en kognitiewe vermoë. Die drang om sin te maak van die werklikheid is ‘n universele eienskap, maar party mense verkies kortpaadjies terwyl ander langer, ryker intellektuele roetes neem. Sielkundiges gebruik NFC om vas te stel hoe hoog mense in dié verband toets. Die telling bly egter nie noodwendig konstant nie – ons kan enige tyd kognitief ‘lui’ raak!

“Mense met ’n hoë NFC-telling is die beste keuse vir poste waarin hulle nie bloot prosedures moet volg of op versoeke moet reageer nie, maar indringende vrae moet vra en probleme moet oplos.  Hulle kan die kognitiewe uitdagings in kennisryke velde soos finansies en sagteware-ontwikkeling goed hanteer. Gewoonlik maak hulle maklik kreatiewe konneksies tussen studievelde, en daarom is hulle ideale kandidate vir interdissiplinêre spanne. Hulle is in die gelukkige posisie dat rekenaars nie sommer hul werk sal kan oorneem nie. Van geen rekenaar, hoe gesofistikeerd ookal, kan gesê word dat dit nuuskierig is nie.

Lees ook hoe jy die angel uit jou laerskoolkind se huiswerk kan haal.

Drie soorte nuuskierigheid: divers, epistemies en empaties

mom-showing-baby-a-mobile

Ons het reeds van kleins af ‘n oog vir iets nuuts. Wanneer babas van twee maande met bekende en onbekende patrone gekonfronteer word, verkies hulle die onbekendes. Dié voorkeur vir ‘n verskeidenheid prikkels staan as diversive curiosity bekend. 

Diverse nuuskierigheid is ‘n rustelose verlange na the next thing,” sê Leslie. “Ons moderne wêreld speel slim hierop in. Elke tweet, koerantopskrif, advertensie, blog post en app dra die belofte van ‘n bevrediging wat ons ongeduldig bly begeer, maar selde vind.

“Populêre vermaak beweeg al vinniger om ons aandag te behou. Die gemiddelde skoot in vandag se Amerikaanse flieks is ongeveer twee sekondes, teenoor 27.9 sekondes in 1953.”

Foto: Pexels

In wese is diverse nuuskierigheid oppervlakkig. Dit raak maklik ‘n rigtinglose rondspring van een prikkel na die volgende. Dis egter ook noodsaaklik vir leergierigheid, want dit vestig ons aandag op die onontdekte. Dit kan die poort wees tot ‘n insigryker soeke na kennis: die tweede vorm van nuuskierigheid, epistemic curiosity. Epistemiese nuuskierigheid behels die stadige, gedissiplineerde, soms frustrerende inwin van kennis. Dit verg volgehoue inspanning en is ‘n voorwaarde vir gespesialiseerde kennis oor ‘n onderwerp.

Derdens kry ons empatiese nuuskierigheid, ‘n intense belangstelling in ander se denke en gevoelens. Dis dieper as “skindernuuskierigheid”, wat eintlik diverse nuuskierigheid oor die detail van ander se lewens is. Deur empatiese nuuskierigheid probeer jy jou in iemand se plek stel. Diverse nuuskierigheid laat jou wonder watter werk iemand doen, terwyl empatiese nuuskierigheid jou laat vra hoekom sy daardie werk gekies het.

Jy kan jou kind (en jouself!) dophou om te sien watter vorms van nuuskierigheid eie is aan hom. Die ideaal is dat diverse in epistemiese nuuskierigheid omskep word, sodat hy hom in spesifieke velde kan ingrawe - vir studiedoeleindes of individuele vervulling.

Watter rol speel die Internet?

Die Internet is ‘n speelplek waar elke vorm van nuuskierigheid tot sy reg kan kom. Empaties nuuskieriges kan hulle na hartelus in ander se gedagtes en innerlike belewenisse verlustig. Epistemiese nuuskierigheid kan deur dieptenavorsing oor bykans enige onderwerp bevredig word. En die Internet is vanselfsprekend ‘n onuitputlike bron vir diverse nuuskieriges – jy kan tot jou grysheid van webwerf na webwerf spring.

Soos enige kragtige hulpmiddel moet die Internet egter oordeelkundig gebruik word, veral deur kinders wat ‘n groot deel van hul dag daar deurbring. “As jy glo jy kan net mooi enigiets met jou slimfoon vasstel, sal jy waarskynlik minder moeite doen om dié soort kennis na te speur wat jou krities na Google se antwoorde laat kyk,” sê Leslie.

Foto: Pexels

Gebruikers moet weet dat die toeganklikheid van inligting op die Internet vervlakking kan meebring. Leslie gebruik die voorbeeld van “puzzles” en “mysteries”. ‘n Raaisel is iets wat ‘n enkele antwoord het, byvoorbeeld watter karakter in ‘n speurroman die moord gepleeg het. ‘n Misterie dui op ‘n wyer kwessie, soos die definisie van skoonheid (jy kan dit mos aan woorde en die natuur ook toeskryf, nie net aan sekere vroue nie!)

“Die gevaar van die Internet is dat dit kitsantwoorde op raaisels verskaf. Dit voorkom produktiewe frustrasie – die begeerte om iets te wete te kom en aan te hou soek tótdat jy die oplossing kry, soos wanneer jy ‘n speurroman lees. Navorsing dui aan dat hoe meer moeite dit verg om inligting te verwerk, hoe beter leer ons. Ons ontwikkel ook ekstra vaardighede soos om leidrade raak te sien en te oordeel hoe belangrik elkeen is. Kitsantwoorde ontneem jou van dié verrykende aspekte van ‘n ontdekkingstog. 

“Die Internet is ook geneig om misteries tot raaisels te vervlak. Kinders kan ‘skoonheid’ google en met ‘n kort antwoord tevrede wees, terwyl dit ‘n verwikkelde begrip is wat jou dae lank kan besig hou.

“Die Internet gee ons meer geleenthede om te leer as ooit tevore, maar maak dit  ook moontlik om ons glad nie aan hierdie onontginde rykdom te steur nie,” beklemtoon Leslie. Volwassenes wat dit besef, kan leergierigheid op ander maniere stimuleer.”

Wenke: stimuleer jou kind só

baby-girl-pointing
  • Navorsers verstaan nou beter waarom babas op ongeveer ‘n jaar met die vinger na voorwerpe begin wys. As dit geen reaksie uitlok nie, hou die kind op “vra”. As ‘n volwassene elke keer bloot die voorwerp vir die kind gee, wys die kind minder dikwels. As die volwassene die voorwerp ‘n naam gee, wys die kind al meer. As die volwassene die verkeerde name aan bekende voorwerpe gee, hou die kleintjie later op wys.

Foto: Pexels

  • Kleuters jonger as 30 maande vra meestal “wat”- en “waar”-vrae. Op drie vorder hulle na “hoe” en “hoekom”, wat verduidelikings eerder as net feitelike inligting verg. Tussen twee en vyf jaar vra woelwaters sowat 40 000 vrae wat verduidelikings behels. Dit stel geweldige eise aan ouers, wat soms net ‘n oomblik se stilte begeer! Elke reaksie op ‘n kind se vrae kan egter sy weetlus aanvuur of smoor. 

  • Bevorder jy kinders se nuuskierigheid slegs deur hul vrae getrou te antwoord? Nee! Navorsing met vier jaar-oue kinders wys dié wat meer vrae van hul ouers kry, vra self meer vrae. Ouers wat baie vrae vra is ook geneig om die kind se antwoorde as wegspringplekke vir ‘kettinggeselsies’ te gebruik deur daarop uit te brei of daarby aan te haak.

  • Kinders stel selde belang in ‘n onderwerp waarvan hulle niks weet nie. Al het ouers min tyd, kan hulle gereeld ‘n kwartiertjie afknyp om hul kind aan interessante onderwerpe bloot te stel. Lees vir hulle voor of knoop doelbewus geselsies oor interessanthede aan terwyl julle TV kyk of inkopies doen – byvoorbeeld: “Sien jy daardie baba-renoster? Hoekom dink jy …” en “Wat sou gebeur as hierdie wasmasjien …”

  • Leer jou kind om met haar eie vrae vorendag te kom. As jy haar dokter toe vat vir ‘n lugweginfeksie, vra vooraf wat sy die dokter alles wil vra. Dalk onthou sy dat haar deodorant ‘n allergiese reaksie veroorsaak. Só leer sy om verder te dink én om met selfvertroue vrae te vra.

Foto: Pexels

  • Anders as wat sommige mense meen, maak die Internet feitekennis van ‘n vakgebied nie oorbodig nie. Denkvaardighede en kreatiwiteit word nie in ‘n lugleegte aangeleer nie; dit verg ‘n konteks. ’n Stewige basiskennis van velde soos wiskunde is noodsaaklik. Ons stoor slegs ‘n paar items in ons korttermyngeheue, en dit raak meestal binne 30 sekondes verlore tensy dit aan iets in die langtermyngeheue gekoppel kan word. ‘n Ryk langtermyngeheue help met leer, en bevorder ook probleemoplossing. Wanneer die onderliggende elemente van ‘n probleem (soos die simbole in ‘n som) bekend is, is daar meer breinkapasiteit beskikbaar om die antwoord uit te werk.

Feitekennis kan kreatiwiteit ‘n hupstoot gee. “Jy moet ‘n gebied se reëls deeglik ken voor jy hulle kan buig of breek,” skryf Leslie. “Selfs geniale mense bestudeer hul velde jare lank voor hulle ‘n meesterstuk lewer. Mozart het sy eerste musiekstuk van blywende artistieke waarde eers in sy twaalfde jaar gekomponeer.”

Ondersteun dus jou kind in die aanleer van feitekennis.

  • Ontwikkel gerus jou eie weetgierigheid!

Dr. Melodie de Jager explains how gravity influences your child’s physical, emotional, social and intellectual development.

Verskillende uitgawes van ‘Curious: the desire to know and why your future depends on it’ deur Ian Leslie is deur verskillende uitgewers uitgegee. Google gerus om meer te wete te kom.

Alle foto’s deur Unsplash, tensy anders aangedui.

Hierdie artikel is oorspronklik geskryf vir rooi rose.


Previous
Previous

Johan Allers: stories & prentjies, ouer word en ‘die saligmaker’

Next
Next

How to create resilience in the face of adversity