Eerlikheid in julle verhouding: hoe kry paartjies dit reg?

Min verhoudingsmaats kan sê hulle praat oral en altyd die waarheid, verswyg nóóit iets nie, en systap enige “wit leuentjie”. Voorligtingsielkundige Ronelle Hart lig die sluier oor grondige redes vir stilswye of leuens. Dit neem twee mense om ‘n ruimte te skep waar die waarheid welkom is - weet jy en jou maat wat dit verg?

“Het jý dit gedoen?” Jou ma staan met die gebreekte glas in haar hand, en haar uitdrukking voorspel niks goeds nie. Jy het ’n keuse. Jy kan erken dat jy die skuldige is, met pynlike gevolge. Of jy kan jok en jou bas red.
“Van kleins af word dit vir ons moeilik gemaak om die waarheid te praat,” sê Ronelle Hart, voorligtingsielkundige van Johannesburg. “Kinders weet dat oortreding van die huisreëls tot straf lei. Wanneer skulderkenning lyfstraf, die verlies aan ’n voorreg of die ouer se misnoeë gaan beteken, is die kans goed dat die waarheid in die stof gaan byt.”
As volwassenes sit ons dikwels dié patroon voort. ’n Gebreekte glas is dalk nie meer ’n krisis nie, maar om in onguns te kom by jou lewensmaat of werknemer kan ’n onplesierige - selfs angswekkende - vooruitsig wees. Om ons prakties en emosioneel te beskerm kan ons ’n leuen vertel, of gewoon die ware toedrag van sake verswyg.
Sienings van die waarheid, hoe dit hanteer moet word en wat met oortreders behoort te gebeur, is deur die eeue op baie maniere deur geloofs- en ander gemeenskappe bepaal. Hierdie beskouings het van plek tot plek en tyd tot tyd verskil.
“Die waarheid” is vandag steeds geen eenvoudige saak nie. Selfs mense met dieselfde agtergrond, soos twee sussies wat in een huis grootword, stem nie noodwendig daaroor saam nie. Wanneer dit gaan oor wie die glas gebreek het, is daar natuurlik ’n objektiewe, feitelike toedrag van sake. Die “waarheid” in terme van mense se emosionele ervaring van ’n situasie is egter ’n ander saak. Elkeen ervaar anders.
Watter insigte en riglyne kan ons help om wyser om te gaan met die waarheid, ons verhoudingsgenote, en onsself?

Wat is die geheim?


Op die vraag wat dit vir iemand maklik maak om die waarheid te vertel is die antwoord: ’n veilige ruimte.
Dis die vrees vir straf, verwerping of ’n ander ongewenste uitkoms wat tot leuens lei. Die Amerikaanse inspirasiespreker dr. John Demartini het ’n keer gesê die beste ding wat mense vir hul verhoudingsmaats kan doen, is om ’n veilige ruimte te skep waarin elkeen met vrymoedigheid kan sê wat hulle dink en voel. Dis ’n kragtige uitspraak, maar moeilik om in die praktyk toe te pas.
Hierdie benadering veronderstel ’n nieveroordelende emosionele ruimte tussen twee mense. Jy gaan nie sommer jou oordeelsfoute, flaters of misstappe deel met iemand wat oorgehaal sit om ’n vonnis oor jou te vel nie. Wanneer die een teenoor wie jy “bieg” ’n deurleefde mens is met begrip vir sy eie én ander se menswees, kan jy jou hart oopmaak.
“As dit vir jou maklik is om in ’n verhouding die waarheid te praat dui dit op gesonde en heilsame intimiteit,” sê Ronelle. “Binne die konteks van ’n liefdesverhouding is dit realisties om te verwag dat jou maat jou en jou diepste gevoelens aanvaar. Wanneer jy feite verdoesel of verswyg – soos hoeveel geld jy uitgee en of jy gelukkig is in die verhouding – is daar fout. Vra jou af hoekom jy draaie om die waarheid loop.

“Is jy bang vir die gevolge indien jy jou belewenis eerlik sou verwoord? Verwag jy dat die ander persoon jou op een of ander manier gaan straf, deur byvoorbeeld kwaad te word of emosioneel te onttrek?

Read how Imago Relationship Therapy can restore passion and emotional intimacy

vrees-vernietig-verhoudings.jpg

Onthou: vrees vernietig verhoudings.

Die fisieke en emosionele stres wat jy ervaar wanneer jy dinge vir jouself hou, benadeel jou én jou verhouding.
“In my ervaring dui hierdie vrees dikwels op ’n mate van emosionele onvolwassenheid in onsself, op ’n magswanbalans in die verhouding, of op medeafhanklikheid (co-dependency). ’n Voorbeeld van medeafhanklikheid is wanneer my maat alkohol misbruik en ek hom beskerm, of - meer subtiel - wanneer my gemoedstoestand en gevoelens bepaal word deur hoe hy voel.
“Die vrees om openlik te kommunikeer, kan ook verband hou met ’n maat wat ’n persoonlikheidsversteuring het soos narcisme of sosiopatie. Afhangende van die aard en graad van ’n persoonlikheidsversteuring, kan mense wat daaraan ly die waarheid sonder respek behandel. Hulle kan hulself en hul prestasies in ’n onrealisties positiewe lig stel, voel hulle het die reg om te jok, of ander meesterlik manipuleer. Omdat hulle uit voeling is met hul eie en ander se diepste emosies, is daar min begrip vir die impak van hul optrede en ‘n gebrek aan empatie met hul maats.
”Hierdie situasie beïnvloed hul verhoudingsmaats se sin vir dit wat reg en waar is. Dit skaad hul vertroue in hul eie oortuigings, en dan is die herstelproses swaar. Soms is die enigste teenmiddel dat so ’n maat self leer om deurgaans die waarheid te praat, en besef dat vertroue beteken ons kiés om die ander een te glo. Wanneer hierdie vertroue verbreek word, kan ons weer kies om die persoon te glo, te vergewe en terug te neem - of om die verhouding te beëindig.
“As jy onseker voel oor jou verhoudingsmaat of omstandighede, is dit sinvol om ’n sielkundige te besoek sodat jy helderheid en perspektief kan kry. Jy hoef nie jou maat saam te neem nie.
“Ons innigste behoefte is om gesien en gehoor te word vir wie ons is. As jy ’n openhartige verhouding begeer, kan die terapeut jou help kyk of en hoe ’n hegte verhouding tot stand gebring kan word. Intimiteit kan net ontstaan waar twee mense hul binneste eerlik met mekaar deel - met ander woorde, waar die waarheid welkom is.”

Die groot leuen: ontrouheid

“Wanneer ons ons innerlike waarheid nie kan deel nie, skep dit ’n leemte wat ’n derde persoon kan betree. Dis verloklik om iemand te kry vir wie jy alles sonder vrees vir veroordeling kan vertel.
“Ontrouheid in ’n liefdesverhouding noodsaak die voortdurende vertel van leuens, of verswyging van die ware toedrag van sake. Wanneer dit op die lappe kom, is dit meestal nie die seksuele betrokkenheid by iemand anders wat die diepste sny nie, maar die vertrouensbreuk. Dis traumaties om te ontdek dat ’n maat oor ’n tydperk gejok het, veral wanneer hy of sy herhaaldelik gerusstellend geantwoord het op vrae of daar ’n ander persoon op die toneel is.
“In ’n liefdesverhouding aanvaar ons gewoonlik dat albei persone betroubaar is en die waarheid praat. Vertroue vorm tog die basis van enige goeie verhouding, ook vriendskappe. Kom ons agter dat iemand vir ons gejok het, verbreek dit die gevoel van konneksie. Dan is die vraag: ‘Wie is hierdie mens aan wie ek verbind is? Dis iemand wat ek nie ken nie!’

verlies-aan-emosionele-veiligheid.jpg

Daar is ‘n traumatiese verlies aan emosionele veiligheid.

“Dit geld ook gevalle waar een van die persone sonder die ander se medewete in onwettige bedrywighede betrokke is, ’n verslawing het, of onverantwoordelik met geld omgaan.

“Wanneer ’n paartjie vir verhoudingsterapie kom, sê ek in die eerste sessie: ‘As een van julle ’n ander verhouding het en nie bereid is om eerlik te wees daaroor nie, gaan die terapie nie werk nie.’ Hiermee veroordeel ek nie die persoon nie, want ’n buite-egtelike verhouding is gewoonlik ’n aanduiding van ander emosionele kwessies waarmee daar in individuele terapie gewerk moet word. Nieteenstaande is eerlikheid ’n voorvereiste vir doeltreffende verhoudingsterapie.
“Dis uiters moeilik om veroordeling, skaamte, blaam of straf in die gesig te staar en te erken: ‘Ek het ’n affair.’ Min mense sal dit in die eerste ronde doen. Maar verhoudings kan net herstel wanneer hierdie pynlike onthulling gemaak word, juis omdat dit nie net die ontrouheid nie maar die gepaardgaande lae van leuens is wat die pyn veroorsaak.
“Mense sê soms hulle kán hul maat nie die waarheid vertel nie omdat dit hom/haar te seer sal maak. Dit klink groothartig, maar dis eintlik ’n poging tot selfbeskerming. Jy wil nie gekonfronteer word deur jou maat se reaksie nie.
“Die waarheid is dat elkeen van ons verantwoordelik is vir die manier waarop ons reageer. Ander mense maak my nie seer nie; hulle doen of sê iets wat ’n pynlike reaksie in my ontlok. Daarom ervaar een persoon ’n situasie as pynlik, en ’n ander nie. As jy nie vir jou maat sê hoe jy jul verhouding beleef nie, ontneem jy hom of haar van die keuse om op die ware toedrag van sake te reageer.
“Die mate waarin jy die waarheid praat, stem dus ooreen met die mate waarin jy dit nodig vind om jouself te beskerm. Loop jy ’n pad van aanvaarding van jouself, ander en die wisselvallighede van die lewe, en leer jy dat jy staande kan bly voor ander se deling, word jy toenemend iemand wat eerlik kan wees oor wie jy is, hoe jy voel en dink, en wat jy doen. Ons grootste gawe aan ander is die uitleef van ons outentieke self, want dis hoe ons vir ander ’n nieveroordelende ruimte skep.”


Ronelle Hart is ‘n voorligtingsielkundige met ‘n privaatpraktyk in Johannesburg: tel. 082 560 2803 of http://www.ronellehartpsychologist.com/

Hierdie artikel is oorspronklik gepubliseer in rooi rose.

Hooffoto: Unsplash

Ander foto’s: Pexels

Previous
Previous

Hulp vir ouers wat uitvind hul kind is gay

Next
Next

Hoekom babas moet kruip en hoe om dit aan te moedig