Afwesige pa’s en die heilsame invloed van mentors

Hoe gemaak met die groot persentasie kinders in ons land wat nie ‘n pa in die huis het nie? Jaco van Schalkwyk van The Character Company verduidelik wat dit verg om ‘n seun informeel of deur ‘n organisasie te mentor, hoekom positiewe manlike rolmodelle so nodig is, die vyf waardes wat mentorskap kan versterk, en hoe om enkelma’s te ondersteun.

Elke kind kort pa-energie - ’n liefdevolle mansfiguur wat geborgenheid verskaf en beskikbaar is om leiding te gee. “Tog word ongeveer 60% van die kinders in Suid-Afrika groot sonder ’n pa in die huis,” sê Erna Rheeder, maatskaplike werker en koördineerder van SAVF FAMNET. “Die gemis wanneer ’n pa nie fisiek of emosioneel teenwoordig is nie, sny diep. Gesonde pa-energie is deurslaggewend vir kinders se geborgenheid en eiewaarde, asook hul intellektuele, geestelike, emosionele en liggaamlike ontwikkeling. Volgens navorsers vaar kinders met betrokke pa’s op al hierdie gebiede beter. Studies wys ook dat 95% van alle mans wat tronkstraf uitdien, sonder ’n pa grootgeword het.

“Hierdie skokstatistieke hoef nie tot hooploosheid te lei nie. Die afgelope dekade is daar ’n opbloei in die vaderskapsveld: die aantal werkers, organisasies, hulpbronne en algemene bewustheid bly groei. ‘Gewone’ mans kan ’n reuseverskil maak deur uit te reik na kinders met afwesige pa’s wat hul pad kruis. Dis nie so moeilik nie. Dit kan informeel gebeur, of met die hulp van ’n organisasie wat hulle op mentorskap toespits. So word lewens verander.”

Hoewel seuns en dogters ’n ewe groot behoefte aan positiewe, manlike rolmodelle het, fokus hierdie artikel op maniere waarop mans as mentors vir seuns kan optree.

Here are Erna’s hints and tips for making moms’ lives easier.

Pa’s kan op vier vlakke afwesig wees

“Daar is vier vlakke waarop ’n pa afwesig kan wees,” sê Jaco van Schalkwyk, stigter van The Character Company, ’n mentorskaporganisasie met die slagspreuk Raising boys to be good men.

  • Die pa is oorlede;

  • die kind weet nie wie sy pa is nie;

  • die kind het min kontak met die pa;

  • of die pa is fisiek teenwoordig, maar emosioneel afwesig.

wanneer-n-seun-se-pa-dood-is-is-daar-n-mate-van-closure.jpg

“As die pa dood is, het die kind ’n sekere mate van closure. In die ander gevalle glo die kind die fout lê by hom. ’n Agtjarige sê kwalik: ‘Ek is ’n awesome kind - my pa weet nie wat hy mis nie!’ Nee, hy betwyfel dit dat hy sy pa se tyd en aandag waardig is, met noodlottige gevolge vir sy selfbeeld en identiteit. Dikwels tref die volle omvang van die verwerping hom eers later en knou dit hom lewenslank.

“Ons lewer so maklik kritiek op die jeug se ‘gebrek aan morele waardes’ of die hoë misdaadsyfer, maar ontleed selde die oorsake. Baie seuns word hoofsaaklik tussen vroue groot, tuis én by die skool, sonder voldoende kontak met ’n toonbeeld van gesonde manlikheid. Geen ma kan hierdie funksie vervul nie.”

Toksiese manlikheid

“Kinders word dikwels word aan toksiese manlikheid blootgestel: mans wat sonder respek vir hulself, ander, en selfs die lewe optree. Dit skep ’n kultuur van angs en aggressie wat maklik in geweld oorvloei. Die slegte gevolge van ‘pa-loosheid’ begin op individuele vlak en kring uit na gemeenskappe. Álle woonbuurte en sosiale groepe word hierdeur geraak. Dis in elkeen van ons se belang om die afwaartse spiraal te stuit.

“My ervaring van seuns wat die pad byster raak, het my aangevuur om The Character Company (TCC) te stig. Die verwonding uit my kinderjare met ’n pa wat daar was, maar nooit regtig beskikbaar nie, dryf my ook. Ek is vas oortuig dat elke seun én man ’n mentor nodig het wat gereeld met hom interaksie het - en nie net maande nie, maar jare lank beskikbaar bly. Ons mentors ontmoet ‘hul’ seuns weekliks en verbind hulle om onbepaald betrokke te bly. Dit gee die seuns ’n vaste fondament.”

Die vensterperiode vir ‘n pa

“Navorsers het bevind ma’s speel in die eerste vyf jaar van ’n kind se lewe die grootste rol. Van vyf tot tien is die pa die belangrikste – ongelukkig baie keer juis die tyd wanneer pa’s die korporatiewe leer uitklim. Ná tien jaar seëvier die ouderdomsgroep. Ons mentor seuns verkieslik van vier of vyf af, en hulle bly betrokke solank hulle wil. Ons het ook ’n big brother-program waar ons van ons senior seuns mentor om ook mentors te word. Dis vir ons belangrik om ’n kultuur van mentorskap in ons samelewing te vestig.”

Luister na joernalis Julian Jansen se gesprek met Mariette oor sy boek “Seuns sonder pa’s”.

Wie kan ’n mentor word?

the-character-company-mentor-seuns-van-jongs-af.jpg

“Beslis nie net volmaakte mans nie! Baie voel huiwerig om hulle informeel beskikbaar te stel, byvoorbeeld vir ’n buurkind, of as deel van ’n program soos TCC. Jy het nie ’n sertifikaat nodig nie, net die wil om ’n kind se hand te vat en ’n heilsame pad met hom te stap. Jy neem nie die plek van die kind se pa in nie - jy speel net ’n aanvullende rol.

“Dit spreek vanself dat jy iemand is wat respek afdwing en jou tot die uitleef van sekere waardes sal verbind. Die geloofwaardige mentor is een wat kan erken dat hy ook foute maak!”

Hier skryf joernalis Julian Jansen hoekom seuns - én volwasse mans - behoefte het aan ‘n gerusstellende manlike teenwoordigheid.

Here are 3 reasons why being a dad may be hard.

Vyf kernwaardes

“By TCC vorm vyf waardes die kern van wat ons doen:

• eerlikheid – om die waarheid te praat, selfs wanneer dit moeilik is;

kindness – om te wys dat jy ’n goeie hart het;

• respek – om ander, hul besittings en hul tyd te behandel soos ek behandel wil word;

• moed – om jou vrese te eien en te oorkom;

• selfdissipline – om die regte ding te doen voor iemand jou aansê om dit te doen.

“Die kinders ken hierdie waardes. Ons praat by elke sessie, naweekuitstappie of kamp oor hoe dit in ons daaglikse lewe na vore kom. Ons het selde dissiplineprobleme, want as ’n kind byvoorbeeld ’n maatjie omstamp, vra iemand hom: ‘En watse respek wys jy nou?’ Die kinders spreek natuurlik die mentors ook aan – ek sal dit nie waag om oor ’n rooi lig te ry met hulle in die motor nie!”

Avontuur en ander aktiwiteite

tcc-leer-die-seuns-fietsry-rotsklim-of-swem.jpg

“Ons speel en stoei met die seuns en leer hulle fietsry, rotsklim of swem – soos pa’s maak. As iemand byvoorbeeld bang is om van ’n rots in die water te spring, hanteer ons dit sensitief. Ons sluit ook aktiwiteite soos verf, teken of houtwerk in, en soek voortdurend na mans én vroue wat ons hiermee kan help.”

Foto: Pexels

Hoe aandag régtig lyk

“Dit verg ure se saamwees om positiewe manlikheid aan ’n kind oor te dra. ’n Pa is sy dogter se eerste liefde en sy seun se eerste held. Wanneer jou kind op die mat speel terwyl jy na die rugby op TV kyk, bestee jy nie tyd met hom nie. ‘Aandag’ beteken om die TV af te skakel en jou saam met hom op die mat tuis te maak, of jou dogter toe te laat om knippies in jou hare te sit. Dit beteken om vroeër van die werk af te kom met ’n pakkie wors, jou seun te laat vuurmaak, en saam vir die gesin te braai.

“Baie mans, veral dié sonder betrokke pa’s, sweet meer voor ’n paar klein seuntjies as voor ’n paneel invloedryke direkteure. Dis in orde as jy onervare voel. Die kuns is om iewers te begin deur die kind se wêreld te betree. So saam met die geselsies en saamdoen leer die kind hoe ’n man wat werklik omgee sy vrou en ander mense behandel. Hy leer die gevoelens, gedagtes en optrede van ’n positiewe rolmodel ken.”

‘n Hart vir ma’s

ons-leer-die-seuns-om-hul-ma-te-respekteer.jpg

“Die seuns op ons program sien dat hul ma’s swaarkry. Hulle wil die man word wat sy nie het nie, en die pa wat hulle nie het nie. Hoewel die ma’s nie ons primêre teiken is nie, probeer ons hulle ondersteun. Hulle is die seuns se first line of defence. Ons maak seker dat hulle die vyf waardes verstaan, ingelig is oor ons aktiwiteite, en ons vergesel hulle op skoolbesoeke, ensovoorts. Ons leer die seuns die eerste mens teenoor wie jy soos ’n gentleman optree, is jou ma.”

Foto: Pexels

Vir mans wat wil help

“By TCC word ons oorval deur versoeke om seuns te mentor. Die behoefte is groot. Ons hoofkantoor is in Krugersdorp. Ons is ook in Kaapstad, Oos-Londen, Bloemfontein, Greytown en Hluvukani. Ons kort net één gewillige man om TCC in ’n omgewing te vestig. Ons help om die proses uit te rol. Ons het hard gewerk om ’n model te skep wat doeltreffend funksioneer, en ons mentor ook ons mentors. Ons het ’n kurrikulum van tien temas wat met elke ouderdomsgroep behandel kan word. Mentors met kinders van hul eie se seuns skakel by die program in.

“Ek is voltyds by TCC betrokke. Donasies stel ons in staat om meer personeel aan te stel. Geen aanbod van hulp of tyd is te gering nie. Elke seun wat gementor word, se invloed kring positief uit namate hy ouer word.”

Hoe skole, geloofsgemeenskappe en werkgewers kan bydra

“Daar is verskeie mentorskaporganisasies beskikbaar,” sê Erna. “Ek is betrokke by ’n sambreelorganisasie, Fathers’ Network, wat verskeie inisiatiewe met ’n mentorskapfokus insluit, onder meer TCC, Grooming Boys, Dads in the Picture, Ambassadors’ Football en The World needs a Father. Die oordrag van ’n vaardigheid skep die ideale omgewing vir mentorskap.

“Skole, kerke en geloofsgemeenskappe kan doelbewus geleenthede daarstel om kinders aan positiewe rolmodelle bloot te stel. Werkgewers wat pa-kind geleenthede reël, kan voorsiening maak vir kinders sonder pa’s deur groepe volwassenes met groepe kinders af te paar.

“Informeel, sommer op hul eie, kan mense soos oupas, ooms, ouer broers, stiefpa’s en die aanbieders van ekstra klasse berge versit. Die belangrikste is die mentor se opregtheid, beskikbaarheid en toegewydheid.”

Wat enkelma’s kan doen

“’n Ma wat besef haar seun het ’n mentor nodig, kan ’n familielid of ’n vriendin se man vra om haar seun op gesinsuitstappies te betrek. Ter wille van haar kind se veiligheid moet sy oordeelkundig kies. Vir vroue wat so seergekry het dat hulle nie ’n man in hul kind se lewe wil toelaat nie, is dit moeiliker. Tog genees die wond wat deur ’n onbetrokke pa veroorsaak is, die beste in ’n verhouding met ’n gesonde rolmodel.”

Kontakdetail

The Character Company: 084 777 7114 of www.thecharactercompany.co.za 

Fathers’ Network: www.justdadit.co.za

Hierdie artikel is oorspronklik gepubliseer in rooi rose.

Foto’s: Unsplash, tensy anders aangedui. Modelle is gebruik.

Previous
Previous

Is dit jou ideaal om ‘n supervrou te wees?

Next
Next

Imago relationship therapy: regain the love you once shared