Philip Liebenberg oor rowwe rommel, eietydse integrasie en ‘n skaaplam by sy voete

‘n Huweliksbevestiger, spreker, skrywer en spirituele begeleier skryf oor onafhanklike denke, waagstukke met vars produkte en watter ouetehuis hom nooit sal sien nie.


1 Waar het jy en Johan Swart, jou “boertjie,” mekaar ontmoet?

Ek en Johan het in 1985 van mekaar kennis geneem sonder om te ontmoet. Trouens; toe ons die dag ontmoet het, het ons ontdek dat elk van ons deeglik van die ander bewus was sonder dat ons besef het dat daar wedersyds van ons kennis geneem is. Hy was ‘n student aan die Berea Teologiese Seminarium en ek aan die AGS Teologiese Seminarium. Ons instansies het teen mekaar meegeding in atletiek. Johan was ‘n kranige atleet en in 1986 was hy die Victor Ludorum. Ek het steeds ‘n video-opname van die byeenkoms waar hy die een item na die ander gewen het. Ek was ‘n goeie hoogspringer en het dié dag tweede gekom in hoogspring, maar die video het my ego ‘n lekker streep getrek - dit wys slegs een sprong, en dis waar ek die lat afspring. 

Jare later, in 1997, toe ons beide getroud was, het ons mekaar in Exclusive Books raakgesien. Ek was in ‘n kwaai wroeging oor my seksualiteit gewikkel en het ‘n boek oor die onderwerp staan en lees, toe Johan my raaksien en ook ‘n boek van dieselfde rak afhaal. Ons het nie toe met mekaar gepraat nie, maar het beide met skok oor die ander een se moontlike gay oriëntasie na ons onderskeie huise toe gery. 

Ek was skaars tuis toe Johan my kerkkantoor geskakel en gevra het om met my te praat. Ons het ‘n afspraak gemaak om mekaar die volgende dag te ontmoet. Dit was die begin van ‘n moeilike pad wat tot ons twee se lewe saam gelei het.

 

Luister ook na Philip se insigte in die hantering van verandering, soos verhuising, onvoorspelbaarheid en teleurstellings.

2 Jy het ‘n oog vir ‘n treffende interieur. Waar kom dié talent vandaan? 

My gewese vrou het ‘n kursus in binneversiering voltooi en dit het nie lank geneem voordat daardie gogga my gebyt het nie. Dit het my nogal onverhoeds getref dat die aanvoeling eintlik iewers in my geskuil en gewag het om te ontluik. Ek hou veral daarvan om met goed wat deur ander as rowwe rommel weggemaak word, te werk. ‘n Mengsel van rustic, junkstyle, industrieël en plaashuis huislikheid. Dit alles in neutrale kleure. Helder kleure is vir my te definitief en ‘n té sterk impak om op die lang duur mee saam te leef. Die vrugte en groente moet maar die kleur verleen aan my en Johan se huis.

3 Jy het ‘n keer geskerts dat jy “Afgetredenheid” gaan verkul deur onder meer houtskoolsketse van jou vriende te maak. Vertel van die sketse. 

Een van my lidmate in Melville was ‘n kunsdosent by Wits gedurende die 2000’s. Sy het my eers gevra om vir haar klas te poseer wanneer hulle life drawings gedoen het. Dit was totdat die dekaan eendag daar ingestap en gevra het waarom ek nie naak poseer nie. Die antwoord was dat ek nie as predikant voor een van my vroulike lidmate wou naak wees nie, maar vir hom het dit nie genoeg sin gemaak nie - ek moes my speedo uittrek of my werk as model verloor. Dit was die einde van daardie deeltydse werkie.

interieur-met-skets-deur-philip

Een van Philip se sketse hang bo die kaggel

Die klasse het egter my belangstelling geprikkel, en kort voor lank het daardie dosent vir my en ‘n paar vriende klas begin gee in my en Johan se kombuis. Een aand was ek verveeld met die stoel wat ons moes teken en het die dosent besluit dat ek my ma moes teken. My ma het op ‘n stoel gaan sit en twee ure later was daar ‘n presiese gelykenis van haar gesig op my esel. Daar het ek ontdek dat my spasiëring van gelaatstrekke sodanig is dat ek mense lewensgetrou weergee. Die tegniek laat veel te wense oor, maar die gelykenis is daar.


4 Hoe voel jy oor kos en kosmaak?

Eerstens hou ek van vars kos. Hoe meer vrugte en groente daar is, hoe vinniger lê ek weg. Kos moet nie baie lang prosesse verg nie, maar wel onortodoks en oorspronklik gekombineer word. Ek is geen kok nie, hoegenaamd nie, ek hou van vinnige waagstukke met vars en kleurvolle produkte. Lensies en bone is ook gunstelinge. Die bakkies en borde waarin kos bedien word, is bykans die helfte van my kosstorie. En natuurlik troef die mense om die tafel alles.


5 Lê die diereryk jou na aan die hart?

honde-en-skape

In 2018 het ‘n klein Jack Russel baba-hondjie op ons plaas aangeland en met die eerste treë in ons oprit in my hart beland. Daarna was dit ‘n tweede, en nog later ‘n hanslam. Gedurende die inperking is ons eerste lam van die seisoen deur sy ma weggegooi. Ek het hom in ons kombuis met ‘n bottel grootgemaak en toe vir twee maande elke dag met hom in die veld gaan deurbring sodat hy die trop kon leer ken. As enige mens vir my sou vertel dat ek agt weke lank op ‘n draadstoel sou sit met ‘n skaaplam by my voete, sou die woord “vervelig” by my opkom. Daardie skaap het saam met al die ander plaasdiere ‘n kamer in my gemoed oopgeblêr, gebulk, geblaf en gekwaak. Dit sou akkuraat wees om te sê dat ‘n ouetehuis wat diere belet my nooit sal sien nie.

skape-met-tafel-en-koffiebeker

6 Jy het drie boeke agter die blad. Watter storie skuil agter elke boek?

Die eerste, Daar's 'n Gay Pastoor in my Kop (Penguin, 2008), was my outobiografie. Die boek is uit druk en slegs gebruikte boeke is op die web verkrygbaar. ‘n Filmmaker het my onlangs gekontak om te hoor of ek te vinde sal wees vir ‘n film wat op die boek geskoei is. Die gesprekke is tans aan die gang, so ek weet nog nie of dit wel sal gebeur nie.

Die tweede boek, Aikôna Moses (Boekemakranka, 2014), handel oor die verskil tussen die Antieke Naby Midde-Oosterse perspektief op vroue, gays en egskeiding, en ons tyd se etiese benaderings. Hierdie boek is as e-boek op die web beskikbaar.

Die derde boek, 28 Superstitions in Christianity, is in 2020 deur Naledi uitgegee en kan direk by hulle bestel word. Dis in Engels geskryf en handel oor bygelowige elemente wat in die Christendom voorkom.

7 Hoe kies jy die gaste vir jou YouTube gesprekskanaal, Tweerigting met Philip Liebenberg?

My gaste is elke mens wat my pad kruis en gewillig is om dit wat die lewe vir hulle beteken met ons te deel. Daar is geen mens op aarde wat storieloos deur hierdie lewe stap nie. Om te leef is om ‘n storie te skryf, en ek wil daardie storie laat hoor op Tweerigting.

renaissance-gemeenskap-logo

8 Het jy ‘n WIG – ‘n Wildly Impossible Goal?

As begeleier by Renaissance Gemeenskap hoop ek om mense te inspireer om ‘n outentieke en eietydse spirituele pad te stap, pleks van tradisies te volg wat in antieke tye ontstaan het. Dit is eie aan ons dag dat mense godsdiens vir spiritualiteit verruil. Dit beteken dikwels dat ander antieke spirituele paaie bewandel word, ten koste van eietydse integrasie met ontdekkings van ons dag. My droom is werklik om mense te inspireer om vir hulleself te dink, logika en wetenskap te betrek, en nie ‘n antieke ideologie, filosofie of denkskool na te praat nie.

Meer oor Philip

Philip Liebenberg is ‘n spreker, huweliksbevestiger, skrywer asook hoofspreker en spirituele begeleier by Renaissance Gemeenskap, Pretoria. Hy bied begeleiding, skryf boeke en artikels, bied lesings aan en lewer praatjies. Hy bevestig gay sowel as heteroseksuele pare in die huwelik.

Philip is die gasheer van ‘n gesprekskanaal, “Tweerigting met Philip Liebenberg,” op Youtube:

https://www.youtube.com/results?search_query=philip+liebenberg

LinkedIn: Philip Liebenberg

Facebook: Philip Liebenberg

Hooffoto: Pexels

Ander foto’s: Facebook en verskaf.

 

Next
Next

Lohra de Waal on proudly holding the flag, low-intervention wine and a farm in Slovenia