Philip Liebenberg: verhuising, verwondering, teleurstellings en ouer word

Hanteer jy verandering goed? Wat van onvoorspelbaarheid, ontnugtering en ouer word? Skrywer, spreker en spirituele begeleier Philip Liebenberg praat oor verskillende soorte verandering, denkskuiwe wat dit vergemaklik, diere en dekor, soepelheid, vrede en aanvaarding.

As podsendings vir jou nuwe terrein is, kan jy op die pyltjie klik om na Philip en Mariette te luister, of op die aflaaiknoppie (download button) om die gesprek op jou rekenaar, tablet of selfoon te stoor en te luister wanneer dit jou pas.

In episode 189 van die weeklikse reeks Calm, Clear & Helpful, praat skrywer, spreker en spirituele begeleier Philip Liebenberg oor

  • sy lewenslange reis met verandering – en hoe hy daarmee vrede gemaak het

  • verhuising, kreatiewe ingrepe en ander vorme van verandering

  • sy verknogtheid aan die stad en (uiteindelike) verhuising na die plaas

  • wat sy “fanatiese netheid” laat bedaar het

  • die gewaarwording dat “wie ek is” nie staties is nie

  • werklikhede waarteen baie van ons skop: ouer word en aftrede

  • soepelheid van liggaam en gees

  • die vraag: “Hoe weet ‘n mens wanneer dit tyd geword het dat jy jou met Afgetredenheid in die eg laat verbind?”

  • teleurstellings, byvoorbeeld om voortdurend ontwortel te word op skool

  • om vreugde te vind in die aanvaarding van die onvoorsiene

  • natuurskoon teenoor mensgemaakte skoonheid

  • die storie van Marmeroortjies

  • make-do dekor

  • verwondering, ook in die konteks van godsdiens en spiritualiteit.  
    In hierdie episode haal Philip vir Abel Pienaar, die voormalige leier van die Renaissance Gemeenskap, aan: “Jy is ‘n storie wat jy en jou mense vir jou vertel. Jy kan enigiets wees.”
    Rol af vir meer inligting oor Philip en die teks van die gedig Kleurwiel in die wind wat Philip in die opname voorlees.

Lees ook ‘n artikel waarin Philip 8 persoonlike vrae beantwoord, met foto’s.

Klik op “Home” hierbo en kyk gerus watter van die artikels en potgooie oor liefdesverhoudings, ouerskap, emosionele en fisieke gesondheid en persoonlike groei jou aandag trek!

Meer oor Philip, insluitend kontakbesonderhede

Philip Liebenberg is ‘n spreker, huweliksbevestiger, skrywer asook hoofspreker en spirituele begeleier by Renaissance Gemeenskap, Pretoria. Hy bied begeleiding, skryf boeke en artikels, bied lesings aan en lewer praatjies. Hy bevestig gay sowel as heteroseksuele pare in die huwelik.

Philip is die gasheer van ‘n gesprekskanaal, “Tweerigting met Philip Liebenberg,” op Youtube: https://www.youtube.com/results?search_query=philip+liebenberg 

LinkedIn: Philip Liebenberg

Facebook: Philip Liebenberg

Boeke:

“Daar's 'n Gay Pastoor in my Kop” (Penguin, 2008)
“Aikôna Moses! Mag ek van die Bybel verskil oor vroue en gays?” (Boekemakranka, 2014)
“28 Superstitions in Christianity” (Naledi, 2020)
 

Kleurwiel in die wind

Op hoë plekke

In chemiese chaos,

het ek gesoek

na antwoorde

na God

na die hartklop van die dood

Die raaisels het my stom bly tart.

Bóéke oopslaan

wýsheid najaag…

Die naelloop het my hempsoom soos seil-esse in die wind laat bol

Ek het met elke woord núwe twyfel gevind.

My reis het my longe na die wind se god laat snak

Min het ek geweet -

Waarheid wóón in die wind

Op ‘n rots in die oop veld

waar ‘n vlakhaas versigtig agter ‘n bos uitloer,

het ek meteens gevoel hoe die vraag in my skedel sterf,

hoe my lippe nie meer roep na rede nie, maar saggies saam met die sonbesies sing

Die lug was blou, waarom wéét ons

Die son was goud, waarom wéét ons

Die Misterie het soos die kleurwiel

in my kop begin draai.

Nou lééf ek

In vrede

Sonder om alles te weet

Die wind waai deur my siel

Die son skyn op my gelaat

My gemoed lê soos ‘n groot tevrede hond

aan die voete van die Geheimenis

wat bó alles wat is, wakend bly staan.

Philip Liebenberg © 2024 kopiereg voorbehou

Oorspronklike musiek deur Mart-Marie Snyman

Hooffoto: Pexels

Foto van Philip Liebenberg: verskaf

Previous
Previous

Understanding and managing food trauma

Next
Next

Moms: Nurturing your baby, nurturing your brain