Martjie Roos oor glansmense, draaiboek skryf en kinderkerk

Vermaaklikheidsjoernalis Martjie Roos praat oor die koerant- en tydskrifink wat in haar are vloei, bek-en-klouseer, verre lande en skeppingsvreugde.

martjie-roos-joernalis

1 Hoe het dit gebeur dat jy ‘n joernalis geword het?

Ek was van jongs af lief vir skryf en van my onderwysers op hoërskool het my baie aangemoedig. My een onderwyser, dr. Van Aardt, het ’n paar keer my opstelle vir my klasmaats voorgelees, maar ek het dan bloedrooi gebloos. In matriek wou ek eers ’n fisioterapeut word, toe ’n maatskaplike werker en later ’n kleuterskoolonderwyseres omdat ek baie lief is vir kinders (my ma was ’n laerskoolonderwyseres en sy wou baie graag hê ek moet onderwys gaan studeer.) My ouers was bevriend met wyle prof. Willem de Klerk en sy vrou tannie Elsabé en ons het een naweek vir hulle op Potchefstroom gaan kuier (hy was toe nog dosent en huisvader op die PUK). Oom Wimpie het toe vir my vertel daar’s ’n wonderlike kursus naamlik BA Kommunikasiekunde op die PUK en hy dink dit sal nommerpas wees vir my. Ek was toe reeds ingeskryf om onderwys aan die onderwyskollege op Potch (Pote) te studeer en het van plan verander (my ma was aanvanklik bietjie teleurgesteld).

Op die PUK was ek bevoorrreg om wonderlike dosente soos  wyle prof. TT Cloete, prof. P.D. van der Walt, dr. Van der Elst  en Elsabé Steenberg te hê by wie ek Afrikaans-Nederlands studeer het en hulle het my liefde vir Afrikaanse letterkunde en poësie nog meer aangewakker. En dan was daar natuurlik wonderlike dosente in die Kommunikasiekunde departement soos dr. Johann de Jager wat vir ons gesê het: “As die ink van koerante of tydskrifte eers in jou bloed is, kry jy dit nie maklik uit nie!”

2 Hoe het jy op die vermaaklikheidwêreld begin fokus?

Ek en my broer en suster was van kleins af -- danksy my oorlede ouers -- aan die teater, kunsuitstallings, opera, ensovoorts blootgestel. Nadat ek my studies op Potch voltooi het, het ek by die weekblad Die Noord-Transvaler in Pietersburg (Polokwane) vir ses maande gaan werk (dit was deel van my prakties vir my honneursgraad) en ek moes oor byna alles onder die son van motors, bek-en-klouseer tot nuwe rolprente berig.

durban-martjie-roos

Durban

Ná ses maande is ek deur Perskor na die weekblad Tempo in Durban verplaas waar ek ook algemene beriggewing gedoen het. Na ’n paar maande het wyle Karel Steyn, wat die redakteur van die tydskrif Radio en TV Dagboek was, my gevra of ek vir hom wou kom werk. (Afrikaanse joernaliste was destyds skaars soos hoendertande in Durban!) Karel het ’n groot rol in my loopbaan gespeel en my touwys gemaak hoe om my skryfstyl van koerantberiggewing na tydskrifartikels te verander en ek het uiteraard toe meer oor die vermaaklikheidsbedryf begin skryf.

En kort voor lank het wyle tant Bybie Heymann (wat redakteur van Rooi Rose was) weer vir my gevra om vir Rooi Rose te werk. Ek is gereeld deur Ster-Kinekor van Durban na Johannesburg toe gevlieg om rolprentvoorskoue by te woon en ek het ook dikwels onderhoude met akteurs in Johannesburg kom doen. Omdat die vermaaklikheidsbedryf hoofsaaklik in Johannesburg gesetel was, het ek besef dit gaan vir my loopbaan tot voordeel strek as ek Johannesburg toe verhuis en ek het ’n oorplasing by Rooi Rose gekry en Durban ná vyf jaar gegroet.

Luister hoe Martjie positief bly ná twee knievervangings, ‘n heupvervanging en gordelroos.

3 Jy’t onder meer jou staal as draaiboekskrywer gewys. Vertel!

Ek het destyds tekste vir eerste twee seisoene van die leefstylreeks Glam Guru geskryf en een van die vervaardigers van die program het vir my toe gevra of ek sou belangstel om ’n kinderreeks, Bundu Buddies, vir kykNET te skryf. Ek het die geleentheid met albei hande aangegryp. Daar was twee seisoene van Bundu Buddies en ek het altesaam 250 episodes geskryf. Die reeks is in ses tale vertaal en ook in ander Afrika-lande soos Kenia en Nigerië uitgesaai. (Twee ander skrywers het wel saam met my die tweede reeks geskryf). Dit het baie dissipline geverg om soveel episodes te skryf, maar dit was vir my soos poeding en ek het my absoluut in die karakters soos Walter die Vlakvark (vertolk deur Cindy Swanepoel) en Kallie die Apie (Nadia Beukes) se manewales verlustig.  

engel-skildery-deur-martjie-roos

Een van Martjie se skilderye

4 Beny sommige mense jou omdat jy soveel bekendes onder jou vriende tel?

Nee wat ek dink nie so nie. Ek was nog nooit self star struck nie en van die akteurs met wie ek regtig oor die jare bevriend geraak het se vriendskappe is nooit gesmee omdat hulle dalk gedink het ek kan vir hulle publisiteit gee of omdat ek gedink het dit is nou ‘grend’ om met so-en-so bevriend te wees nie.  

 

5 Jy is familievas, nie waar nie?

Ja, baie. My broer Pedro en suster Stefanie woon albei reeds jare in Engeland. My suster het eers 7 jaar in Denemarke gewoon en woon nou reeds meer as 20 jaar in Surrey, Engeland en my broer  Pedro en sy gesin woon ook al meer as 20 jaar in Engeland. Dit is wel altyd lekker om te gaan kuier, maar ek het my familie vier jaar laas gesien -- die Covid-pandemie en my drie operasies die afgelope paar jaar het my oorsese kuiers ongelukkig gekortwiek en ek verlang baie na my familie.

 

Nog een van Martjie se kunswerke

6 Jy’s nooit getroud nie maar het baie kinders. Vertel ons meer.

Ek het agt jaar Sondagskool of Kinderkerk vir vierjariges by ons gemeente, die Gereformeerde Kerk in Linden, gegee en ’n hegte band met baie van die kinders gesmee. Baie van die kleintjies kom gee nog vir my drukkies by die kerk. En van die jonger aktrises soos Cindy Swanepoel en Nadia Beukes met wie ek in die bedryf gewerk het, het ook maar amper vir my soos my eie dogters geword.

7 Jy is lief vir skilder, mosaïekwerk, koor sing … 

Ek het drie jaar skilderklas geneem en ook saam met my suster ’n kitskursus in die prentjiemooie Devon in Engeland bygewoon. Ek het ook ’n kits-mosaïekkursus in Engeland gedoen maar het lanklaas mosaïek gedoen of geskilder. Ek skets wel nog graag blomprentjies wat ek baiekeer in groetekaartjies laat druk.

Ek het op skool in verskeie kore gesing en ook na skool in Ansa du Toit se koor Musica Mundo gesing en ’n paar jaar terug in Louis Fourie se Paasfeeskoor. My liefde vir musiek en koorsing kom ook maar van my ouers af. My pa het in TRUK se operakoor gesing en my ma het ook in haar jong dae koor gesing. My suster het ook in talle kore, waaronder die Bach-koor in Londen, gesing.  

 

8 Wat maak die lewe vir jou kosbaar?

Familie, vriende, samesyn, en boweal goeie gesondheid. En genade wat ons elke dag uit die Here se Hand ontvang. Ek het die afgelope paar jaar met die Covid-pandemie en met my twee knievervangings en een heupvervanging net meer besef hoe kosbaar die lewe en gesondheid is.

Tulpe deur Martjie

9 Jy is ook baie lief om te reis?

Ja, ek was bevoorreg om met my werk baie te reis en uiteraard ook omdat my familie oorsee woon. Toe ek by Rooi Rose gewerk het het ek byvoorbeeld na Spanje, Duitsland en die Ooste gereis en toe ek by Beeld gewerk het het ek na talle Afrikalande soos Egipte, Uganda, Kenia, Ghana, Namibië, Zambië en Zimbabwe gereis.

Ek het ook 35 jaar gelede in die Middellandse See na onder meer die Vulkaniese eilande en die Griekse eildande Paxos en Corfu geseil en ook daardie tyd saam met twee vriendinne gebackpack en die Griekse eilande Ios, Santorini en Mykonos sowel as Turkye besoek.

Ek en my suster was vier jaar gelede op ’n onvergeetlike bootreis van Corfu na Venesië, Slowenië, Kroasië, en Montenegro en terug na Corfu. Ek en Stefanie het ook voorheen na verskeie lande soos Frankryk, Skotland, Griekeland, Duitsland en Nederland gereis. Ek het ook twee keer by haar in Denemarke gaan kuier en was reeds twaalf keer in Engeland.  

Meer oor Martjie

Martjie Roos is ‘n vermaaklikheidsjoernalis van Johannesburg met wye ervaring van publisiteit, skakelwerk en bemarking. Sy vryskut vir onder meer rooi rose, LiG en TVPlus.

Van Martjie se sketse word as groetekaartjies gedruk

Foto van Martjie Roos en haar kunswerke: verskaf

Hooffoto: Unsplash

Previous
Previous

Tania Steyn on a life that fell apart, the caveman days and what the world needs now

Next
Next

Marilyn Hallett on a death-do-us-part relationship, backpacking and her happy place