Wat jy van mans moet weet

Mans is anders bedraad as vroue. As voormalige reeksmoordenaar-profielopsteller, sielkundige en konsultant het dr. Micki Pistorius die manlike psige in diepte leer ken. Sy beskryf mans as helde en krygers. Hoe benader mans emosies, dating, vrouevriende en die huwelik? Wat is mans se grootste vrees en sterkste dryfvere? Hoe kommunikeer jy met ‘n man? Micki se boek oor mans se persepsies, “Heroes”, bied antwoorde waarvan elke vrou kennis behoort te neem.

In wese is dr. Micki Pistorius ‘n ontdekkingsreisiger. As sy nie die landskap van die menslike psige ondersoek nie, bestudeer sy die neurosielkunde, breinvoeding, geskiedenis of argeologie – en as dit ‘n verkenningstog na ‘n antieke bronstydperkterrein in Griekeland, Turkye of elders kan insluit, des te beter. Sy woon deesdae op Mauritius en is onder meer redakteur van die Premium-afdeling van die internasionale argeologie-webtuiste Ancient-Origins. 

Dr. Micki Pistorius

Dr. Micki Pistorius

Een van Micki se boeke, Heroes, a psychological insight into men’s perceptions on relationships, is ’n boek met betekenisvolle insigte in die spesie sonder wie ons vroue nie kan (of wil) klaarkom nie. Waar kry Micki die inligting oor die manlike psige wat sy in Heroes oordra?

“In die Polisiediens het ek tien jaar lank hoofsaaklik saam met mans gewerk. In my sielkundepraktyk het ek opnuut besef hoe uiteenlopend mans en vroue se persepsies kan wees, en besluit om navorsing te doen.

“Ek het talle mans individueel en in groepe uitgevra oor verhoudings, dating, emosies, vrouevriende, die huwelik, egskeiding en tweede huwelike. Die bevindings het my verstom. Mans dink nie net anders as vroue nie, hulle dink anders as wat vroue gló hulle dink.

You can read this article in English.

“Natuurlik is daar individuele verskille; as jy ’n fenomeen beskryf, moet jy in ’n mate veralgemeen. Die inligting in Heroes is nie die alfa en die omega nie. En dis nie vir feministe geskryf nie. Dit hoef nie té ernstig opgeneem te word nie, maar dalk beskerm dit ’n paar vroue teen seerkry.

“Moenie dink die spelreëls tussen mans en vroue is regverdig nie! As ek in die hof as ’n kundige getuienis lewer, beklemtoon ek dit dat ek nie daar is om sekere optredes te veroordeel of te verskoon nie, maar om dit te verklaar. Dieselfde geld Heroes.”

Kort en kragtig: die verskille tussen mans en vroue

In Heroes sit Micki die agtergrond vir die volgende stellings uiteen:

• Mans doen. Vroue praat.

• Vroue is gemaklik met emosies, mans nie.

• Vroue fokus op die liefde; mans fokus op hul quest.

• Vroue glo die liefde oorwin alles. Mans glo hulle kan die wêreld oorwin.

• Mans se grootste vrees is om iemand teleur te stel; dit laat hulle skuldig voel. Vroue se grootste vrees is om verstoot te word; dit maak hulle hulpbehoewend.

mans-se-fantasie-begin-met-n-soen.jpg

• Wanneer ’n vrou oor ’n eerste afspraak fantaseer, eindig die fantasie met ’n soen. Wanneer ’n man oor ’n eerste afspraak fantaseer, begin die fantasie met ’n soen.

• ’n Man se seksuele sintuig is sig. ’n Vrou se seksuele sintuig is aanraking.

• Mans kan seks hê sonder om emosioneel betrokke te raak. Vroue sal eers emosioneel betrokke raak, en dan seks hê.

• Wanneer ’n paartjie baie tyd eksklusief saam deurbring en saam slaap, beskou die vrou dit as ’n verhouding. Die man beskou dit slegs as ’n verhouding as hy haar formeel gevra het om sy meisie te wees.

• As mans trou, offer hulle hul vryheid op. As vroue trou, wen hulle sekuriteit.

• Vroue benader ’n huwelik vanuit ’n romantiese oogpunt. Mans benader ’n huwelik vanuit ’n pragmatiese oogpunt.

• Mans is bedraad om te voorsien en te beskerm, en vir hulle verteenwoordig geld status. Dit wys hulle is bekwame voorsieners. Vroue wil veilig en versorg voel, en vir hulle verteenwoordig geld sekuriteit.

Here body language expert Tania Steyn highlights the differences between men and women’s communication styles and views of emotional connection.

Mans se kerndryfvere

In Heroes gebruik Micki die Griekse mitologie as ’n metaforiese agtergrond. Argetipes soos helde en krygers vloei gemaklik hieruit voort.

“Die feit dat ek in die Polisiediens profiele van die heel ‘slegste’ mans moes saamstel, het my waarskynlik gehelp om die goeie mans te herken: die helde wat in die openbare oog of ongesiens hul dagtaak verrig. Mans word gebore met die dryfkrag om te voorsien en te beskerm. Dis wat van hulle mans maak. Die vervulling van hierdie tweevoudige oogmerk laat hulle goed voel. Indien hulle misluk, voel hulle soos ’n antiheld. Dit werp hul psigiese balans omver en hulle sal enigiets doen om dit te voorkom.

“Elke man het ’n quest, ’n passie wat hom aanvuur. Soms is dit sy loopbaan, soms ’n tydverdryf. Mans verklap nie noodwendig hul doelstellings nie, want hul grootste vrees is om iemand – veral die vrou in hul lewe – teleur te stel.

vroue-moet-mans-ruimte-gee-vir-hul-passies.jpg

“’n Man se ideale maat is een wat sy quest begryp, ruimte daarvoor skep en haar eie belangstellings het sodat haar lewe nie om hom draai nie. As hy haar alles is, raak sy ongelukkig as hy tyd aan sy passie bestee. Dit laat hom skuldig voel.

“Mans is aksiehelde. Dis wys om meer aandag aan hul volgehoue optrede te gee as aan dit wat hulle sê. ’n Man kan jou die son, maan en sterre belowe en sy eie woorde op daardie oomblik glo, maar sy optrede is ’n betroubaarder maatstaf. ’n Man wat ’n vrou liefhet, doen sy bes om haar probleme op te los, aan haar wense en behoeftes te voldoen, vir haar dinge te koop, en hard te werk om haar te versorg.”

Kommunikasie: die moets en moenies

“Al staan aksie vir mans voorop, is hulle antwoord op die vraag oor die belangrikste aspek van ’n romantiese verhouding nie ‘seks’ nie. Soos een man antwoord hulle: ‘kommunikasie’. En tog vlot die kommunikasie in ’n verhouding baie keer nie. Die volgende wenke kan help:

  • Luister aandagtig, sonder om hom voortdurend te onderbreek. Dit wys hy is vir jou belangrik.

  • Probeer om die boodskap uit sy perspektief te sien en die onderliggende emosies en motiewe te verstaan. Dis verstandig om hom nie dadelik advies te gee nie – dit kan geïnterpreteer word as kritiek of ’n poging om hom te beheer. ’n Dag of wat later kan jy sê: “Ek het gedink oor wat jy gesê het, en ek wonder of … ”

  • ’n Man wil hê ’n vrou moet haar behoeftes aan hom oordra. Tog ervaar mans vroue baie keer as hulpbehoewend wanneer hulle dit doen. Wat is die verskil tussen ’n vrou wat haar behoeftes kommunikeer en ’n needy vrou? Skynbaar maak tydsberekening die verskil. Wanneer hy op iets anders gefokus is, of wanneer sy neul of hom kritiseer, werk dit nie.

tydsberekening-is-belangrik-wanneer-jy-jou-man-iets-vra.jpg
  • Vroue kla dikwels dat hulle mans vra om ’n werkie te doen, en dan gebeur dit nooit. Mans lag verleë as hulle dit hoor. Vra: “Sal jy asseblief hiermee ’n plan maak? Ek sal so bly wees!” Wees sjarmant. Mans ken die verskil tussen manipulasie en sjarme. Hulle hou daarvan om liefies behandel te word. Een man het gesê: “As sy aandring dat ek alles los om die takie af te handel en ek kom agter dit was nie so dringend nie, spring ek nie weer so gou in nie. As sy my sê hoekom sy dit nodig het, kan ek bepaal hoe dringend dit is.”

  • Vroue praat, mans tree op. Ongelukkig reken vroue dikwels hulle moet mans vertel wat om te doen. Mans is mans. Hulle is helde en krygers wat wéét wat om te doen. Wanneer ’n vrou hulle voorsê, ervaar hulle dit as ’n mosie van wantroue en ’n poging om hulle te beheer. Mans wil nie opdragte van vroue ontvang nie. Hulle wil vertrou word om die besonderhede self uit te pluis en die taak op hul eie manier te verrig. As hy nie dadelik reageer nie, help dit nie jy herhaal die instruksies nie. Hy hét jou gehoor.

  • Omdat mans aksie bo woorde verkies, is ’n lang, uitgerekte argument nutteloos. Mans is ook nie ontvanklik vir skimpe nie.

  • Wanneer ’n man iets vir jou gedoen het, kan ’n opregte dankie en “jy is my held!” – in die oomblik, nie later nie - wondere verrig.

  • ’n Vrou se tong is die wapen wat mans die meeste vrees. Haar woorde of toon kan hulle emosioneel kastreer. ’n Vrou wat kwaai praat of skree, kry selde die gewenste resultate. Wanneer ’n man in vegmodus is, kan hy letterlik nie hoor wat jy sê nie omdat streshormone deur sy are pomp om hom op aksie voor te berei. Jou frons prikkel sy vegmodus. Jou glimlag of sagte uitdrukking prikkel sy bekermingsmodus.”

    Moet jy ‘n man help?

    Mans en vroue sien hulp verskillend. Vroue is hulpvaardig. As een vrou in die tou by ’n kasregister ’n item vergeet het, sal ’n ander vrou solank haar trollie vorentoe stoot. Die kans dat ’n man dit sal doen, is skraal. Vir vroue is dit sosiaal aanvaarbaar om gehelp te word. Vir mans is dit ’n teken van swakheid. Moet ’n man nie help nie, tensy hy jou vra.

moenie-aanbied-om-n-man-te-help-nie.jpg

“Moenie vra of jy hom kan help om die stoele te verf nie; vra of jy by hom kan aansluit. As hy sukkel om die voordeur oop te sluit, moet jy nie die sleutel uit sy hand neem en dit doen nie, al is hy nie heeltemal nugter nie. Moet jy maar staan en wag tot hy dit regkry? Ja!

“Een man het dit só verduidelik: ‘Vir ’n vrou is haar voorkoms van kernbelang. ’n Man moenie sê sy moet op ’n dieet gaan omdat sy vet is nie. Vir ’n man is sy bevoegdheid van kernbelang. ’n Vrou moenie sê hy moet ’n nutsman kry omdat hy niks kan regmaak nie. As sy uit haar eie op ’n dieet gaan, kan hy haar ondersteun, en as hy uit sy eie ’n nutsman kry, kan sy hom bedank.’

Foto Pexels

“Die geslagte se siening van ondersteuning is ook uiteenlopend. ’n Ingenieur wat tydelik werkloos was, het gesê hy wens sy vriendin wil hom ondersteun. Op haar beurt het sy gesê sy ondersteun hom, maar hy weier om saam te werk: ‘As ek tuis kom ná ’n lang dag, sê ek hy moet kom dat ek sy CV opdateer. Dan gee hy my ’n skewe kyk en bly voor die TV sit. Ek het ingenieurstydskrifte gekoop, die advertensies uitgeknip en gesê hy moet dit opvolg - alles tevergeefs.’

“Wanneer ’n vrou vir ’n man vertel wat hy moet doen en boonop inmeng, voel hy soos ’n mislukking. Die ingenieur het die steun wat hy wou hê só verwoord: ‘As sy sê sy glo in my, dat die terugslag net tydelik is, dat dit weer beter sal gaan en dat ek die beste ingenieur in die wêreld is, sal dit my aanspoor.’ Die versekering dat sy maat hom nie sal verlaat nie en dat sy daar is vir hom, besiel hom.”

Wanneer hy nie jou probleem kan oplos nie

“Mans wil wel vroue se probleme oplos. Dis hoe ’n held optree. As ’n vrou haar maat van ’n onderonsie met ’n kollega vertel, onderbreek hy haar om te vra wat die uiteinde van die saak was. Hy wil uitwerk hoe hy kan help. As sy sê die saak is reeds opgeklaar, vra hy dalk verbaas. ‘Hoekom vertel jy my dan daarvan?’ Mans sukkel om te verstaan dat vroue oor ’n opgeloste situasie wil práát. Een man sê selde vir ’n ander: ‘Ek het vandag ’n pap wiel gekry, en dit reggemaak.’ Dis iets wat vroue doen.

mans-se-empatie-verskil-van-vroue-sn.jpg

“Wanneer ’n man nie ’n vrou se probleem kan oplos nie, sal hy haar óf aanval óf ignoreer. As ’n vrou huil omdat haar hondjie dood is, sê die man: ‘Hou tog net op huil!’ en ry om ’n ander hondjie te gaan koop. Of hy ignoreer haar, klim in sy kar en ry troeteldierwinkel toe terwyl sý dink: Jou hartelose idioot!

“In albei gevalle kan die man nie begryp hoekom sy nie die hondjie wil hê wanneer hy daarmee by die huis aankom nie.

“Die saak staan so: ’n man los ’n probleem op deur pragmaties op te tree. Hy vervang die hondjie sodat sy sal ophou huil, want dit maak hom ongemaklik. Wanneer sy oplossing nie werk nie, voel hy soos ’n antiheld. Daarom loop hy weg en ignoreer haar, of nog erger – skree op haar. Dis nie regverdig nie, maar dis soos dit is.”

“Vroue ervaar empatie op ’n emosionele vlak. Mans empatiseer op ’n kognitiewe vlak. Omdat mans aksiehelde is, distansieer hulle hulle noodgedwonge van die emosionele inhoud sodat hulle objektief kan beplan en rasioneel kan optree.”

Heroes bied nog tientalle skerp, soms verrassende insigte in die verskille tussen mans en vroue. Dit laat jou wonder hoekom vroue so min van die manlike psige weet. “Ons vroue luister nie,” sê Micki. “Mans sê en wys hierdie dinge vir ons, maar ons glo dit nie omdat óns nie so is nie.”

Wel, nou weet ons!

Luister ook na ds. Braam Klopper se verduideliking oor hoe mans en vroue se rouproses ná die dood van ‘n geliefde verskil.

Kontakbesonderhede

Dr. Micki Pistorius is ‘n forensiese sielkundige, skrywer, joernalis, konsultant, kursus- en werkwinkelaanbieder en die redakteur van die Premium Ancient-Origins webwerf. 

Meer inligting by https://mickipistorius.co.za/ 

https://heroes-warriors.com/   

https://www.ancient-origins.net/

Teken in op Micki se nuwe YouTube reeks, “Profiler on record”: https://www.youtube.com/@MickiPistoriusProfilerOnRecord

heroes.jpg

Koop die Kindle-uitgawe van Heroes, a psychological insight into men’s perceptions on relationships deur Micki Pistorius op Amazon.

Hierdie artikel is oorspronklik geskryf vir rooi rose.

Foto’s: Unsplash, tensy anders vermeld

Foto van dr. Micki Pistorius: verskaf

Previous
Previous

My partner has erectile dysfunction – please help!

Next
Next

How to build your personal brand to enhance your success