Julian Jansen: elke seun kort ‘n vaderfiguur

Joernalis Julian Jansen, die skrywer van Seuns sonder pa’s, beantwoord vrae oor seuns wat sonder pa’s grootword. Selfs volwasse mans het die diep behoefte aan ‘n manlike teenwoordigheid wat respek afdwing en liefde, geborgenheid en leiding kan verskaf. Julian belig die positiewe rol van mentors en “riskant leef”, en gee praktiese wenke vir enkelma’s en mans wat voel hul pa het hulle in die steek gelaat.

Rol af vir meer inligting oor Julian en sy boek ‘Seuns sonder pa’s.

1 In watter persentasie van huishoudings in Suid-Afrika word kinders sonder ’n pa groot?

Ongeveer 60%: in swart gemeenskappe ongeveer 70%, in bruin gemeenskappe 47%, wit gemeenskappe 17% en in Indiërgemeenskappe sowat 15%.

Nota: Die aantal pa’s wat die huis verlaat en afwesig word, groei steeds, wat net weer beklemtoon hoeveel groter die uitdagings - om die impak daarvan op enkelouergesinne teen te werk - is en sal wees.


2 Kom ons kyk na seuns en pa’s. Hoekom het ’n seun ’n liefdevolle mansfiguur nodig wat geborgenheid kan verskaf en leiding kan gee?

Eerstens het ‘n seun ’n verwysingsraamwerk in lewende en teenwoordige lywe nodig, iemand wat hy kan vertrou, na wie hy kan opkyk, van wie hy raad kan ontvang en terugvoer kry, met wie hy gedagtes kan uitruil.

Foto: Pexels. Modelle gebruik

Die verhouding tussen pa en seun moet binne ’n veilig geskepte ruimte wees, waar die seun sy gedagtes kan toets, terugvoer kan kry op sy optrede en aanpassings kan maak rakende dit wat hy vorentoe wil doen.


3 Het volwasse mans ook so ’n figuur nodig, en waarom?

Glo dit of nie, maar volwasse mans het ook ’n vaderfiguur nodig en dit vind hulle in mentors. So kan ‘n senior en meer ervare person in die werkplek daardie rol vervul, bv. ’n senior bestuurder teenoor ’n junior bestuurder. Binne ’n veilige ruimte kan die volwasse persoon ook groei, bemagtig en veerkragtig word. Op ’n geestelike vlak sal volwasse mans dalk ook sê dat hulle God (as ’n vaderfiguur) in hul lewe nodig het.


4 ‘Pa-loosheid’ is ’n universele verskynsel en veroorsaak ’n verwonding van die seun. Watter vorms kan verwerping aanneem, en wat is die gevolge?

hartseer-seun

‘n Wond is iets wat aangespreek moet word, dit moét gesond word. Indien nie, kan ’n soort septisemie die lewe van die verwonde persoon vir altyd sielkundig benadeel en veral verhoudinge met diegene om hom of haar lelik verongeluk.

Foto: Pexels, model gebruik

Dan ontvang die persoon van buite af meestal negatiewe terugvoer, bo en behalwe die negatiewe beeld wat die persoon self uitdra. Meestal word die verwonding van ’n seun veroorsaak deur die pa: ‘n pa wat die huis verlaat, afwesig is, kinders afknou, ja, selfs mishandel. So ’n wond heel moeilik, in sommige gevalle nooit.

5. In jou boek Seuns sonder pa’s beskryf jy die positiewe rol wat mentors in jou lewe gespeel het. Wat behels hierdie soort mentorskap?

Daardie mentors was volwasse mans, wat ek my “gideonsbende” genoem het. Toe daar groot uitdagings in my lewe was, het hulle my met raad en daad bygestaan, sonder ’n kwitansieboek. Hulle het my gewys hoe om daadwerklik en slim op te tree, positief te dink, nooit moed te verloor nie, geduldig te wees en te werk na ’n positiewe uitkoms. Ek kon weer veerkragtig word op so ’n wyse dat ek op my beurt ander kon help, raad kon gee, kon ondersteun. Dis ’n soort pay it forward-aksie: ons wil niks as vergoeding ontvang nie.

6 In jou loopbaan as onderwyser het jy gevind dat wilderniservarings soos ’n staptog ‘n kragtige leerervaring is. Vertel asb. meer oor die kwessie van seuns en ‘gevaarlik leef’.

Die natuur is een van die kragtigste tonikums. Dis ’n ruimte waarin seuns hulle kan begeef, maar hulle moet vooraf weet watter uitdagings daar wag. Dat jy moet beplan, voorberei, strategie uitwerk, en sterk en swak eienskappe in die groep trou sodat die span soos ’n sterk ketting kan wees. Jongmense moet weet dat jy in die berge kan sterf, dat daar gevare is: dít is die “gevaarlik” oftewel “riskant” leef - om berekende risiko’s te kan neem.

Foto: Unsplash

Dieselfde beginsel kan jy ook in jou skool- en professionele loopbaan toepas. Die werkplek is nie altyd ’n paradys nie, dis nie ’n plek vir sussies nie. Ja, daar is altyd die kollega(s) wat jou wil leed aandoen (soms uit professionele jaloesie). Ek sê jy “kill them with kindness” en deur net jou beste te lewer.

As ek vandag terugkyk op my eie lewenspad en na die suksesse wat ek kon behaal, is ek van mening dat ‘n mens daardie sogenaamde “rugstekers” eintlik moet bedank. Hulle was onbewustelik die agente wat my gedwing het om, binne daardie “krisis” wat hulle in my persoonlike en professionele lewe help skep het, van rigting te verander - myns insiens, ten goede.

Vreemd genoeg: ek is húlle ewig dankbaar.


Luister ook na Julian se gesprek met Mariette oor sy boek “Seuns sonder pa’s”.

7 Watter praktiese wenke het jy vir ’n man wat voel sy pa het hom in die steek gelaat?

Ons moet onsself vergewe dat ons so voel, maar daarna ook die afwesige pa vergewe. Dis nie maklik nie. Die proses is dalk tydrowend, maar moet voltooi word. Ons wil vorentoe beweeg. Vergewe hom, net soos ons wil hê of verwag dat ander ons moet vergewe. Indien jy daardie verwonding saamdra en nie vergewe nie, sal die onderliggende trauma mettertyd toksies raak (die verwonding kan septies blyk) en op een of ander manier in jou lewe en verhoudinge met ander manifesteer. Kies jou “gideonsbende”, kies mentors wat ’n verskil in jou lewe kan help maak. Ons praat nie van ’n bewonderaar of fên wees van ’n potensiële rolmodel nie. Maak werk daarvan en maak dinge werk. Raak opgewonde en bly positief.

8 Watter raad het jy vir enkelma’s met seuns?

sportafrigter-kyk-na-seun-se-besering

Soek, kies en omring jou kinders met positiewe rolmodelle en mentors. Dis die sosiaal-maatskaplike ankers.

Foto: Unsplash. Modelle gebruik

  • Laat die seuns aansluit by sportklubs, jeugorganisasies, naweekwerk doen by ’n onderneming soos ’n restaurant, laat hy vroeg al job shadowing doen.

  • Gesels binne veilige ruimtes met die seun oor haalbare doelwitte en hoe hy dit gaan bereik.

  • Gaan gesels met die seun se onderwyser, sportafrigter. Skryf jou seun in by organisasies soos byvoorbeeld Hearts of Men, wat seuns onder hul vlerk neem en lewensvaardighede leer.

  • Gee kinders geestelike ankers, dat die kind kan glo dat sy of haar lewe ’n geestelike/godsdienstige doel het.

  • Gee kinders sielkundige ankers, rus hulle toe met vaardighede sodat hulle trauma en dinge soos boeliegedrag beter kan hanteer, en veerkragtig kan bly.

  • Bou ’n oop verhouding met die tienerseun sodat wanneer die storm- en drangjare kom, die kanaal oop sal wees en jy die reeds gesag verwerf het (wat ook gerespekteer sal word) óm te kan praat.

  • Wanneer die ma ook ’n vriend (kêrel) raakloop, kies mooi en slim, want daardie persoon sal heel moontlik ’n instaan-pa vir jou seun word. Hy word heel waarskynlik die pa-figuur in die huis en voltooi so mettertyd die vermiste skakel van ’n manlike figuur in die seun(s), ja ook in die dogter(s) se lewe.

Meer oor Julian

Julian Jansen is ‘n joernalis by Rapport, skrywer van Die De Zalze-moorde en Moord op Stellenbosch (albei ook in Engels beskikbaar), oud-onderwyser en voormalige provinsiale woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid van die Strand.

Faceboekblad: https://www.facebook.com/seunssonderpas

Kry Seuns sonder pa’s hier:

Seuns sonder pa’s (Lux Verbi, 2021) is beskikbaar by https://www.nb.co.za/af/luxverbi - tik net “Julian” in die soekfunksie en rol af.

Here are 3 reasons why being a dad may be hard.

Lees ook hoe ‘n mentorskaporganisasie met hul hoofkantoor in Gauteng seuns sonder betrokke pa’s benader.


Klik gerus op “Home” en ontdek die groot verskeidenheid gratis artikels en potgooie oor inniger liefdesverhoudings, ouerskapkwessies wat pla, beter emosionele gesondheid en hoe om verskeie uitdagings aan te pak - of gebruik die Soekfunksie (soek in Engels of Afrikaans).

Foto van Seuns sonder pa’s: verskaf

Hooffoto: Unsplash

Previous
Previous

How to navigate the natural stages of your love relationship

Next
Next

Navigating prostate cancer: what I’ve learnt