Dr. Marietjie van Loggerenberg oor slaap onder die sterre, onreg en genade

Ontmoet die pastorale terapeut, dosent en méns agter die kampvegter. Dr. Marietjie van Loggerenberg praat oor Kalahari-liefde, haatoproepe, verliese, steun, en oor God se teenwoordigheid in elke terapiesessie.

1 Vertel ons van jou grootwordjare en jou gesin.

Ek is op Vryburg in die Noord-Kaap gebore, die middelste kind van ‘n gesin van vyf. My ouers het in die Kalahari met beeste en mielies geboer.  Hulle was goeie, sobere, liefdevolle en belese ouers, wat ons kinders laat glo het dat ons die beste was wat met hulle kon gebeur het.  Ons het aan die Gereformeerde kerk behoort.  Christelike waardes soos eerlikheid en geregtigheid is deeglik aan ons oorgedra.  My pa het my geleer dat ‘n mens, indien dit enigsins in jou vermoë is, teen onreg moes opstaan.  My ma het my geleer dat die waarheid jou vry maak.  Ek onthou dat ons baie speletjies gespeel, gelag en dikwels snags buite onder die sterre geslaap het. Dan het my ouers ons van die planete en sterre en van God geleer. Saans is daar huisgodsdiens gehou. In my geheue ingeëts is ook die beeld van my twee ouers waar hulle voor slaaptyd knielend langs mekaar voor hul bed met God praat.

Op vyf is ek na ‘n plaasskool gestuur.  Omdat ek reeds kon lees en skryf is ek op my eerste skooldag “gepromoveer” na Sub B. Al tien kindertjies in die plaasskool het daar ingewoon en ek het net elke drie weke vir ‘n naweek huis toe gegaan. Op my sewende verjaardag is ek na die “groot skool” op Vryburg oorgeplaas waar ek van st. 2 tot en met matriek voltooi het.  Teen dié tyd was ek al aan die koshuisverblyf gewoond.  

In die middel van my st. 8-jaar beleef ek my eerste groot ervaring van verlies. Ons plaas word deur die vorige regering as deel van Bophuthatswana verklaar en my ouers moes trek. Alles wat hulle so moeilik ná die Tweede Wêreldoorlog opgebou het, moes hulle net so agterlaat. Hartverskeurend.

Aan die einde van my matriekjaar het my ma ‘n reuse beroerte oorleef.  Na ‘n breinoperasie herstel sy gedeeltelik, maar sterf ‘n paar jaar later. ‘n Mens het net een ma.

Op 16 bevind ek my op die kampus van die destydse PU vir CHO.  Ek behaal my BA, HOD en B.ED grade.  Hierna aanvaar ek ‘n pos aan die PU vir CHO se biblioteek op voorwaarde dat ek ook deeltyds ‘n nagraadse diploma in Univ. Biblioteekkunde moes doen. Ná twee jaar voltooi ek die UDB.

2 Waar het jy jou man, Johan, ontmoet?

Aan die einde van my tweede jaar ontmoet ek Johan, ‘n fisikus en rekenaarkundige, wat toe ook pas ‘n pos by die PUK aanvaar het.  Twee jaar later trou ons en nog drie jaar later is ons dogter Annerie gebore. Ons was oorstelp van vreugde. Sy is vandag ‘n CA en getroud met Willem Pretorius, ‘n ouditeur. Hulle het drie kindertjies: Nicholas, Oliver en Mia. Ek verkneukel my in hul ouerskapstyle: demokraties en baie betrokke. Hulle is ook glad nie suinig om hul kindertjies met ons te deel nie.  Ons is bevoorreg om van die begin af goeie verhoudings met hierdie drietjies te kon bou.  Ek dink ek het eers regtig van die grootheid van God se liefde in my bewus geraak toe ons kleinkindertjies gebore is.

3 Vertel van die pad wat jy en jou gesin sover gestap het.

Drie jaar ná Annerie se geboorte is ons seun, Eben, gebore. Ons bekers van geluk het oorgeloop. Twee maande na sy geboorte verhuis ons Bloemfontein toe. Op ons erf daar was ‘n halwe tennisbaan. Eben kon op drie al dien! Hy het met goeie afrigting en talent van die Here in ‘n kranige tennisspeler ontwikkel.

Foto Unsplash. Model gebruik.

Aan die begin van sy st 5-jaar verhuis ons na Pretoria. Onder die bekwame leiding van Kobus Botha is hy in sy matriekjaar Nasionaal nr. 1 dubbels en nr. 2 enkels, asook junior Davisbekerkaptein. Na matriek behaal hy ‘n graad in Bemarking aan US. In 2006 sterf hy aan ‘n bloeiende maagseer. Ek het t.o.v. hierdie verlies nog net gevorder tot waar ek aan die afwesigheid van my kind gewoond geraak het.

In 1989 is my oudste broer een aand by ‘n vulstasie oorrompel, beroof en toe vermoor. Hy was op pad huis toe.

4 Jy was lank ‘n dosent, nie waar nie?

Gedurende ons verblyf in Bloemfontein het ek ‘n pos aan die destydse Vista Universiteit in die Opvoedkunde Fakulteit aanvaar.  Ek het ook ‘n M.Ed (c.l.) in Psigopedagogiek (ontwikkeling van kreatiewe denke van begaafde leerlinge) aan die UOVS behaal.  Met ons verhuising na Pretoria is ek oorgeplaas na die Daveytonse kampus van Vista Universiteit.  Ek was in totaal 16 jaar lank as dosent by Vista Universiteit betrokke. Ek het ook ‘n paar jaar lank Sielkunde aan Unisa studeer. 

My droom was altyd om my eie praktyk as terapeut te hê.  Ek het na iets meer as wat ek tot op daardie stadium studeer en doseer het, gesoek. Narratiewe pastorale terapie het my soos ‘n handskoen gepas.  In 2001 het ek by die Instituut vir Terapeutiese Ontwikkeling (ITD) ‘n kursus in Narratiewe terapie voltooi en my praktyk begin. Ek het ook by Coram Deo, ‘n pastorale Sorgsentrum wat o.l.v dr. André Botha begin is, betrokke geraak. Sedert 2002 is ek deeltyds as dosent  by die opleiding van pastorale narratiewe terapeute betrokke.  Ek het ook ‘n M.Th in Narratiewe Terapie aan Unisa, asook ‘n Ph.D in Narratiewe gesinsterapie aan UP voltooi.

5 Jy werk nie uitsluitlik met gay mense en hul naasbestaandes nie, maar dis waarop ons in jou podcast-episodes fokus. Hoe het jy begin om berading met gay mense te doen?

My eerste bewuswording van die verwerping van gay Christene was ‘n paar jaar voordat ek my as Narratiewe terapeut bekwaam het. Ek het ‘n EE111 kursus gedoen en toe my twee vrae (“as jy vandag sou sterwe, sou jy seker wees dat jy hemel toe gaan?” en “op grond waarvan sou jy dit kon sê?”) op my gay haarkapper, Francois, “geoefen”. Nadat hy in trane vertel het van sy eie bekering en van hoe die kerk hom as gay Christen verwerp het, was ek geskok, verbaas en hartseer.

Daarna het hy my uitgedaag met: “Dit maak nie meer saak wat die kerk sê nie, maar jy, wat sê jy? Kyk my in my oë en stuur my hel toe.”

Dit was vir my ‘n moment of insertion. ‘n Daarvóór en daarná moment.  Ek het toe nie geweet wat om daarmee te doen nie.  Maar die pyn en ongemak en bewus word van die onreg het in my lyf kom lê.

As terapeut was my eerste kliënt ‘n gay jongman.  Met ‘n pet op sy langerige hare en ‘n donkerbril was hy redelik goed gekamoefleer toe hy in ‘n fluisterstem vra of daar enige opneemapparaat in die vertrek was. Hy wou my iets vertel wat hy nog nooit met iemand gedeel het nie.  Ek het gedog hy het dalk ‘n ernstige oortreding begaan, selfs ‘n moord gepleeg.  Ek het hom verseker dis ‘n veilige ruimte.  Sy skaars hoorbare antwoord: “I think I’m gay” het met die onreg wat ek destyds by Francois ervaar het, geresoneer. 

Ek het aan my pa gedink en geweet ek moes iets doen.  Ek was ‘n onbekende, onervare terapeut en om die NG Kerk se beleid oor gaywees te verander het op daardie stadium na ‘n onbegonne taak gelyk.  Ek het nagte om met God geworstel, maar het telkens rustigheid gekry in die wete dat as ek gehoorsaam was, Hy my bekwaam sou maak.

Hier bespreek Marietjie 12 vrae wat talle ouers met ‘n gay kind vra.

Marietjie praat deernisvol oor die pad van genesing wat elkeen wat seksuele molestering ervaar het, kan stap.

Marietjie belig die 4 fasette wat seksuele identiteit behels en praat oor bewusmaking en in- of uitsluiting.

6 Jy is ‘n uitgesproke Christengelowige. Deel iets van jou pad met die kerk.

Dit was nie ‘n maklike pad met die kerk nie. Predikante het my probeer stilmaak, en haatpos en haatoproepe was iets wat ek daagliks moes trotseer.

Maar intussen het die boodskap ook onder die gay gemeenskap versprei dat daar in Pretoria ‘n terapeut was wat hulle nie wou verander nie, maar aanvaar het net soos hulle is. Belangriker as mý aanvaarding was dat hulle beleef het die Here het hulle lief, nes hulle is.

Foto Unsplash.

Ek het van die gay kerk (Reformerende Kerk) gehoor en in samewerking met die stigter, ds. André Muller (‘n gay NG Kerk-predikant wat moes bedank) het ek gratis groepe vir gay mense asook vir hul ouers begin aanbied.  Ons het Bybelstudiegroepe vir gay mense begin en vele gay mense wat die kerk verlaat het, het terug kerk toe begin gaan.

Hier is hulp vir ouers wat uitvind hul kind is gay en onseker is oor hoe om te reageer.

Ek het ook met ds. André Bartlett begin saamwerk op die Suid- Transvaalse sinodale kommissie vir homoseksualiteit. Gevolglik kon ons die eerste werkswinkel vir gay mense, asook later vir die ouers van gay kinders, reël.

Dr Willie Botha (destydse algemene sekretaris van die Algemene Sinode) het my genooi om in 2004 ‘n bydrae in die klein groepe by die Algemene Sinode in Hartenbos te maak. Tydens daardie sinode is gay mense vir die eerste keer amptelik as lidmate toegelaat, slegs op grond van hul doop en hul geloof. 

Ek is daarna op die taakspan oor homoseksualiteit van die Algemene Sinode  gekoöpteer wat in 2007 ‘n verslag aan die Algemene Sinode van die NG Kerk moes voorlê.  Ek het in dié tyd as deel van my aanbieding by die taakspan ook ‘n DVD (Marietjie van Loggerenberg in gesprek met gay Christene) gemaak en aan al die sinodegangers versprei. Tydens die sinode is gay predikante tot die bediening toegelaat op voorwaarde dat hulle selibaat bly. My proefskrif (2014) het juis oor die impak van die selibaatbesluit van die 2007 op gay predikante gehandel.

Intussen het Bybelmedia my ook gevra om ‘n boek met stories van gay Christene saam te stel.  Die boek, Gaygelowig is tydens die Algemene Sinode van 2015 vrygestel. Tydens die sinode is die beleid oor homoseksuele predikante verander. In 2016 is die beleid a.gv. vele beswaarskrifte weer terug verander. 

In 2017 verskyn my tweede Gaygelowig-boekie waar ouers van gay kinders asook huweliksmaats van gay persone hul stories vertel.

Ná die 2016 sinode het ‘n groep gay lidmate en hul ondersteuners die NG Kerk voor die hof gedaag – ‘n saak wat in 2018 deur die gay lidmate gewen is. Hierdie was vir my ‘n hartseer geskiedenis in ons kerk, hartseer dat daar ‘n hofsaak moes wees tussen lidmate van dieselfde kerkgenootskap.

By die 2019 Algemene Sinode is die beleid t.o.v. gay predikante weer met ‘n paar veranderinge aan die beskrywingspunte terug verander.  Op die oomblik is die beleid dat gay predikante net soos heteroseksuele predikante in verhoudings mag wees, asook dat NG Kerk-predikante gay paartjies in burgerlike verbintenisse mag bevestig, maar dit bly die keuse van gemeentes, asook van individuele predikante.  Almal in die NG Kerk is nie hiermee tevrede nie en talle gemeentes doleer oor die beleid.  Die toekoms sal leer hoe nou verder.  Ek bly lid van die NG Kerk.  By Lynnwood-gemeente kan ek my Christenskap uitleef.  Ek hou van my kerk.

Marietjie gee raad vir die ouers van ‘n gay kind, ook gelowiges, en omlyn 7 stappe na die aanvaarding van hul kind se seksuele oriëntasie.

7 Jou privaatpraktyk moet baie energie verg. Hoe behou jy jou emosionele balans?

Na twintig jaar in privaat praktyk weet ek dat ek niks anders sou wou hê nie. Omtrent 30% van my kliënte is gay, waarvan ‘n paar ook interseks en transgender is. Ek het wyser geword. Maar eintlik ook baie nederig, veral omdat ek besef hoe min ek van die kompleksiteit van menswees weet en verstaan. God se storie met elke mens wat in terapie voor my sit, lees ek maar soos deur ‘n dowwe spieël in ‘n raaisel.

My man, kinders en goeie vriende het my onmeetbaar baie ondersteun. Ek het die getrouheid, die liefde, die deernis en soms selfs die verrassende humor van God opnuut leer ken. Ek het geleer as jy lief is vir iemand, vedryf dit die vrees om vir so ’n persoon teen onreg op te staan.

En ek het die gay gemeenskap innig lief. Ek geniet hul kreatiwiteit, hul vars benadering tot probleme. Miskien omdat die gay kerk klein is, word aktiwiteite vinnig gereël. Daar is baie gewillige helpers. Gay mense hou daarvan om take ordentlik en keurig uit te voer.

My werk is my passie.  Mense gee my energie.  Maar ek hou ook ‘n fyn balans tussen werk en speel. Ek is lief vir my gesin, raak verlore in my tuin, skryf hier en daar ‘n gediggie, stap gereeld met my man.  My beleid t.o.v. terapie is: ek nooi God in elke terapiesessie in.  Saam met Hom neem ek verantwoordelikheid om die sessie te fasiliteer.  Wanneer die kliënt loop, is dit net hulle en God.  Ek kan net verantwoordelikheid neem vir dit wat ek kan beheer.  En buitendien: ek vertrou God; so ek slaap (meestal!) rustig.

Kontakdetail:

Dr. Marietjie van Loggerenberg, pastorale narratiewe terapeut en dosent met ‘n privaatpraktyk in Pretoria: 082 324 3726 of marietjie.vl.za@gmail.com

Marietjie is die samesteller van “GayGelowig: ingesluit in die gesprek” en “Gaygelowig 2: ouers en lewensmaats vertel”, uitgegee deur Bybelmedia: bestel@bmedia.co.za

Hoe maak ouers vrede met hul gay kind se seksuele oriëntasie? Marietjie gee wenke vir die pad.

Die gratis podsendingsreeks Calm, Clear & Helpful is op iTunes, Spotify, Player FM and Iono.fm beskikbaar.

Hooffoto: Pexels

Ander foto’s: Unsplash

Foto’s van Dr. Marietjie van Loggerenberg en publikasies: verskaf

Previous
Previous

Angela Hardy on floating, brilliance and falling in love

Next
Next

Eleen Polson on being wild at heart, honest sharing, and sisterhood