Mariette Snyman

View Original

Johan Allers oor ‘n ma wat kinderkoppies streel, wie minder lieg, en verwondering

‘n Deurwinterde uitsaaijoernalis skryf oor swart en wit cowboy-films, potjiekos vir die siel, en ‘n  knorrige ou vroutjie vol fiemies. 

1 Watter herinneringe uit jou kleintyd is vir jou kosbaar?

My pa se groot, groter en grootste stories. Altyd in die belaglik oortreffende trap. Hy’t nooit klein vissies gevang nie en was altyd skreeusnaaks. En Vrydagaande. Vis, slaptjips met sout en asyn en fliek. Pa huur ‘n projektor en ma hang ‘n groot wit laken oor die wasgoedlyn. Ons sit op die gras (pa en ma op opvoustoele) en kyk swart en wit cowboy-films. Ons verstaan nie ‘n woord Engels nie maar kraai van die plesier. Ma sê ook altyd “nee my kind, Ma weet ook nie wat hulle sê nie”. Die flikkerende swart en wit beelde op die bedlaken het my betower.

Kosbare herinneringe uit my kleintyd? Die belaglike groot jaffels (jêvfils) wat my pa gebak het waaraan ons gesmul het. Hy het dit wawiele genoem. En die teatrale manier waarop hy, hopla, 'n pannekoek in die lug kon gooi om dit om te draai! Oupa se groen 1968 Moris Minor waarmee ek as ‘n tienjarige kind in ‘n groot oop veld onder oupa se wakende oog rondjies mee mag gery het.

Kosbaar ook is die herinneringe aan my moeder, ‘n laag geskoolde vrou wat smorgens om vyf uur uit haar bed uit opgestaan het om haar huis van hoek tot kant blink te politoer en om haar man en kinders te voed voordat sy vir 8 ure lank aan 'n vervoerband in 'n fabriek gaan werk het. Naweke was gereserveer vir was en stryk. Sy het nimmer nooit gekla nie, halwe aspirientjies uitgedeel en kinderkoppies gestreel.

Saam met Nelson Mandela, Genève, Switserland, 1995

2 In jou loopbaan het jy met mense uit alle vlakke van die samelewing gesels, en jy doen dit steeds. Wat verg dit van jou?

Toe ek nog kind was het my ma altyd gesê daai bek van jou gaan nog pakslae kry. Ek hou van gesels. Ek luister graag. Ek hou van stories. Ek hou van taal en ek hou van woorde. Woorde, soos musiek, is klanke met betekenisse en gevoelens.

Die lewe is ‘n storie. Elke mens is ‘n storie. Dit verg niks van my om met mense, uit welke vlak van die samlewing ookal, te gesels nie. Gesels is ook luister. Die Duitse filosoof en teoloog Paul Tillich beskryf luister as die eerste plig van die liefde. Om te praat en te luister is soos om hande vas te hou. Mense en hul doen en late is oneindig interessant. Elkeen het ‘n storie en is ‘n boek vol stories. Daarnaas is daar soveel stories wat vertel moet word. Luister is kragtig en skep bande. Dit is veral lonend om te luister na die stories van diegene wat stemloos, die verdruktes of die onsigbare is, want jy kan stem aan hulle gee deur te luister. En om hul stories met die wêreld te deel.

Johan se eerste besoek aan die Berlyn Muur, 1984, saam met die oud-SAUK kameraman Ivan Oberholzer

Uit my eie ongepubliseerde skrywe, Kaalkop Sonder ‘n Tuiste:

Ek het geleer om maklik tussen grense, mense en klasse te beweeg. Ek het my net so tuis in die woonkamers van die sosiale en politieke elite gevoel as in die agterkamers van die hoere van Duitsland. Ek het ook geleer dat jy die hoere beter kan vertrou en dat jy meer kon staat maak op die armes en die onderdruktes van die wêreld. Dat klein mensies minder lieg as die grotes. Dat skyn en bedrog die kapitaal van die heersende klasse is. Nie altyd nie, maar meestal.

Jy raak maklik verdwaald in die skaduwees van belangrike mense. Jy kan maklik die eienskappe aanneem van diegene in wie se lig jy skyn. Maar meestal weet jy dat jy in 'n wêreld van voorgee leef, want hulle is daar en jy is hier. Jy is bloot die middelman. Die dirigent wat hul glans verseker, wat hulle laat sing. Dit is die klein mensies wat jou laat huil.

Luister ook na Johan se gesprek met Mariette oor stories & prentjies, ouer word en ‘die saligmaker.’

Foto: Pexels

3 Jy woon al jare lank in Amsterdam. Watter vreugdes of interessanthede hou dit in? Ek is veral nuuskierig oor jou museumbesoeke.

Amsterdam is die historiese, argitektoniese, kulturele en sosiale hart van Nederland. Die stad het uit modder gegroei, rus op 11 miljoen houtpilare en is die skepping van ‘n vernuftige en hardkoppige (eigenzinnig) volk wat die natuur steeds trotseer. Versier met pop-agtige mooi gewelhuise en kanale, is Amsterdam die stad van Rembrandt van Rijn, Mondriaan en Van Gogh, Die Walle, bordele en dagga, poffertjies en pannekoek. Jy moet sielloos wees om nie die moederstad van die lae lande lief te hê nie.

Daarnaas is Amsterdam ‘n stad met ‘n uitsonderlike oop hart en bestaan daar ‘n sterk emosionele band tussen inwoner en stad. Die stad is moeder, tuiste, ‘n habitat waar mense gedy. Uniek. Betowerend. Magies. Menslik. Warmhartig. Welwillend. Ruimdenkend. Wys. Efficiënt. Tolerant. Respekvol. Onbevooroordeeld. Vry. Hier leef Individualisme (leven naar je eigen waarden) en die gemeenskap (wij), in harmonieuse sinergie met mekaar. Mense van alle kleure en kulture is trots om hulself Amsterdammers te noem. Ek woon nou al vir byna 30 jaar in hierdie mooi stad!

Stedelijke Museum, Amsterdam

Museumbesoeke? Jy vind my óf op my fiets in die Amsterdamse Bos of daar waar die groen groener en/of op sy groenste is. Of in een van Amsterdam se baie museums of tentoonstellingsruimtes. Dit is ‘n pensioenaris-ding wat ek terdeë geniet, 'n soort inhaal van alles wat ek nog altyd wou sien maar nooit genoeg tyd voor gehad het nie. Alles van die Rijks Museum, Die Stedelijk Museum, die Wêreld Museum, die Amsterdam Museum aan de Amstel tot die Versetmuseum of die Museum Ons' Lieve Heer op Solder is my tweede tuiste. Mees onlangse besoeke was die retrospektiewe uitstalling van die legendariese Marina Abramović en die Roemeense kunstenaar Ana Lupas se Aan hierdie kant van die Elbe-rivier tentoonstelling. Volgende op my lys is die Switserse feminis en aktivis Miriam Cahn se Reading Dust tentoonstelling wat sekerlik wenkbroue gaan lig. Daar is niks meer introspektief, nadenkend, selfs sielssoekend, soms verhelderend en rusgewend as om deur die gange en sale van ‘n kunsmuseum te wandel nie.

 

In Skagen, die mees noordelike dorp in Noorweë

4 Wat maak ‘n mens met die verlange na jou geboorteland en jou mense?

Jy ontkom nie die verlange nie. Ten minste, nie ek nie. Jy is en bly ‘n bloudruk van jou komvandaan. Ek noem myself ‘n AfriNederlander of ‘n AfriKaas en praat ook ‘n eiesoortige AfriNederlands. Na 30 jaar in die buiteland droom ek nog steeds in Afrikaans. Dink ek hoofsaaklik in Afrikaans. Ek vertroetel myself met Afrikaanse musiek. Ek vervaardig en bied ‘n Afrikaanse radioprogram aan wat weekliks op ‘n aantal plaaslike radiostasies in Suid Afrika uitgesaai word. Die program is potjiekos vir my siel en sus die verlange. Digitale kommunikasie is ‘n kosbare gegewe en hou my in kontak met my familie en geliefdes. Wat dit betref, het die wêreld inderdaad kleiner geword.

Hier is ook ‘n groot Afrikaanse gemeenskap en selfs ‘n Afrikaanse kerk, dus volop bobotie en boerbeskuit. Tegelykertyd is ek volledig “ingeburger” in Nederland en is daar sekerlik sprake van ‘n emosionele en geestelike band met die land en sy mense. Ons gedeelde genetika, geskiedenis, waardestelsel, kultuur en taal maak dit makliker.

Ek vermoed my verlange na my land en my mense is nie anders as dié van duisende moeders en vaders in Suid Afrika wie se kinders vandag oor die hele wêreld versprei is nie. Hierdie gedeelde heimwee en verlange na jou/ons geboorteland is/het deel van ons (volk se) storie geword. Om self 'n immigrant te wees, het my egter ook lesse in verdraagsaamheid geleer, veral in 'n tyd van massamigrasie en die gepaardgaande sosiale onrus waarmee baie lande, inklusief Suid Afrika, vandag mee gekonfronteer word. Ten slotte ‘n nota aan myself: niks en niemand weerhou my daarvan om terug te keer na die land van my geboorte nie.

Foto: Unsplash

5 Vertel van jou kat wat ook ‘n woordjie ingekry het op ons potgooi!

Haar naam is Josephine (met 'n baie uitgesproke Franse aksent) en tot my skande moet ek erken dat ek haar by 'n troeteldierwinkel gekoop het - iets wat hier in Holland ten sterkste afgekeur word. Ek was pas terug uit New Orleans waar ek saam met die sanger Valiant Swart aan ‘n televisiereeks (kykNet) gewerk het. By my terugkeer hert ek die pragtige swart en wit katjie in die winkelvenster gesien. Dit was liefde met die eerste oogopslag. Omdat sy so delikaat en fyn was, het sy my aan New Orleans se Southern Belles (omgangstaal vir 'n debutante of ‘n modieuse jong vrou) herinner en daarvandaan die naam Josephine. Sy is nou ‘n knorrige ou vroutjie vol fiemies, in mensejare in haar tagtigs maar steeds oh mon amour so elegant.

6 Jy is deurentyd aan die werskaf. Watter projekte lê jou na aan die hart?

Die weeklikse radioprogram hou my lekker besig en is dus nog steeds my pap en wors. Daarnaas werk ek saam met die bekende Nederlandse dokumentêre vervaardiger, Saskia Vredeveld, aan dokumentêre programme wat onder meer met Suid-Afrika verband hou. Ek het ook nog onlangs as navorser op die dokumentêr Klaas de Jonge, de prijs van vrijheid van die bekende Nederlandse fimmaker Marlou van den Berge gewerk. Die dokumentêr vertel die verhaal van die Nederlandse anti-apartheidsaktivis Klaas de Jonge wat in 1985 in Suid-Afrika gearresteer is op die vermoede van wapensmokkelary en terrorisme. Projekte wat nou verbonde is aan Suid-Afrika lê dus steeds naby aan my hart.

Ek word ook gereeld gevra om stories en gedigte in te spreek, iets wat ek graag doen. So het ek nou pas Stefaans Coetzee se nuutste bundel, Sel Ses, tot ‘n reeks hoorbeelde verwerk.

7 Wat is daar in die lewe waaraan jy jou verwonder?

Die nimmereindigende siklus van die lewe. Geboorte, lewe, dood. Die mens van kind tot kind. Die lewe wat op lewe lewe. Soos Ouroboros die slang van antieke Egipte wat met sy stert in sy mond homself voortdurend verslind en uit homself hergebore word. En die verbluffende unieke karakter van alles. Die groot oneindigheid. Ook die verwondering van die verbondenheid (interkonnektiwiteit) van alles, soos byvoorbeeld beliggaam deur die filosofie van Ubuntu.

Hierdie wonders, die nimmereindigende siklus van die lewe en die verstrengeling en onderlinge afhanklikheid van alles bied my 'n gevoel van nie net hoop nie, maar ook liefde. Verwonderend.

Meer oor Johan

Johan Allers is ‘n radio- en TV-joernalis, TV-programmaker, skrywer en podsendingsvervaardiger wat veral oor nuus en aktualiteitsgebeure berig, maar hom nie slegs daarop toespits nie. Talle Suid-Afrikaners onthou hom as die SAUK/SABC se buitelandse korrespondent, “ons man in die buiteland.” Johan is afgetree en woon in Amsterdam, Nederland.

YouTube-kanaal: https://www.youtube.com/@JohanAllers

Besoek gerus Alles Afrikaans op Facebook vir (onder meer) voorlesings deur Johan.

Hooffoto: Unsplash

Voorblad van “Sel Ses” deur Stefaans Coetzee: Grafitti Boeke

Foto’s van Johan Allers: verskaf