Voel jou tiener eensaam?
Hoe omskryf ons eensaamheid, en watter faktore kan daartoe lei? Moet jy bekommerd raak as jou kind knaend eenkant is? Wanneer moet jy ingryp, en hoe kan jy help? Sandy Lewis van Akeso en Netcare gee raad.
Eensaamheid is deesdae ‘n groter kwessie onder tieners en jong volwassenes as onder hul grootouers, het Britse navorsers vasgestel. “’n Derde van die jongmense tussen 16 en 24 voel die meeste van die tyd eensaam, byna drie keer soveel as mense bo 65.”
As jongmense vir wie die toekoms wink meer verlate voel as mense met die grootste deel van hul lewe en waarskynlik ‘n paar verliese agter die rug, wek dit kommer. As jy boonop in ag neem dat geen samelewing voor ons op soveel kommunikasieplatforms met ander in gesprek kon tree nie – en dit binne sekondes - wonder jy waar die knoop lê.
Die definisie van eensaamheid
Vir elke mens spel eensaamheid iets anders, maar dit kom daarop neer dat die aantal en kwaliteit van jou verhoudings minder is as dit wat jy begeer. Selfs al het jy ‘n hele rits vriende, kan jy geïsoleer voel indien jou vriendskappe nie ‘n vertrouensverhouding insluit nie.
Die impak van eensaamheid moenie onderskat word nie. Ons is sosiale wesens; ons behoefte om te “behoort” vorm deel van ons oerbedrading. In jagterversamelaar-gemeenskappe kon mense letterlik nie sonder die groep oorleef nie, en vandag sneller intense eensaamheid steeds die instinktiewe vrees vir die dood. Elkeen van ons het aanraking, oogkontak, lag en gesels net so nodig soos skuiling, kos en water.
Veral vir tieners, wat as deel van hul normale ontwikkeling toemend op aanvaarding deur hul portuurgroep en minder op hul gesin fokus, kan eensaamheid baie pynlik wees.
“Soms is periodes van eensaamheid onvermydelik, soos wanneer gesinne verhuis of tieners in konflik met vriende betrokke raak.
“Wat die omstandige ook al mag wees, is dit van kernbelang dat ouers besef hoe nodig hul kinders hulle het. Tieners en jong volwassenes se lewenservaring is nog beperk. Hulle sien nie altyd die groter prentjie nie. Daarby word hul breinontwikkeling eers teen ongeveer 25 jaar voltooi. Breingedeeltes wat met emosionaliteit verband hou, is ten volle aktief, terwyl die dele wat langtermynbeplanning en impulsbeheer behels steeds ontwikkel. Ouers kan onvoorwaardelike aanvaarding, ʼn veilige ruimte en breër perspektief verskaf sodat die kind geborge voel en verstandige besluite kan neem.
“As jy jou kind goed ken, sal jy sien wanneer eensaamheid haar lewenslus demp. Neem haar persoonlikheid in ag. Introverte laai hul batterye deur alleenwees, en word soms minder geraak deur eensaamheid as ekstroverte wat hul energie uit interaksie met ander kry. Vir albei groepe word eensaamheid egter ‘n probleem wanneer alleen wees nie meer ‘n keuse is nie maar chronies raak, en hulle nie self hul pad daaruit kan vind nie.”
Wat om te doen as omstandighede tot eensaamheid lei
“Gestel jou tiener het van skool verwissel en sukkel om vriende te maak. Sy bring pouses alleen deur en het naweke niemand om mee te kuier nie. Dalk voel sy dit beteken daar is fout met haar en dat sy ‘n loser, ‘n uitgeworpene, is. Hierdie interpretasie kan haar eiewaarde ‘n ernstige knou gee en haar minder geneë maak vir interaksie met haar ouderdomsgenote.
“Jy kan haar help om haar siening van die situasie te verander. Dit veronderstel natuurlik goeie kommunikasie, waaraan alle ouers in die lang termyn moet werk. Een ding wat intieme gesprekke makliker maak, is om jou ware gevoelens te wys, veral jou eie weerloosheid. ‘n Ander is om regtig te luister sodat sy voel jy verstaan wat sy sê en dat sy maar gedagtes kan verbaliseer wat háár bangmaak.
“Dalk het jy as jongmens self ʼn tyd van eensaamheid beleef toe jy in ʼn nuwe omgewing gaan studeer of begin werk het, maar uiteindelik jou voete gevind. Help haar om te begryp dat angstigheid, onsekerheid en negatiewe gedagtes in ‘n transformasieperiode ‘n normale reaksie is. Dit neem tyd om deel te word van ‘n nuwe gemeenskap en ‘n goeie steunstruktuur te ontwikkel. Die situasie hoef egter nie vir altyd te duur nie.
“Bo en behalwe die wete dat die situasie waarskynlik tydelik is, help dit as sy besef dat eksterne faktore soos die verhuising tot haar eensaamheid bygedra het, en dat dit nie veroorsaak is deur haar eie ontoereikendheid nie.
“Negatiewe denke kan eensaamheid egter vererger. Om verlate te voel laat jou die wêreld anders ervaar en beïnvloed jou optrede. Jy is sensitiewer vir sosiale ‘bedreigings’ en vrees makliker die ergste, soos verwerping deur ʼn individu of die groep. Dit stel jou op die verdediging en maak jou dalk meer veroordelend teenoor mense met wie jy te doen kry. Indien jy oogkontak of gesprekke vermy en wantrouig of krities is, voel ander dit aan en beweeg weg.”
Lees ook Dr. Lorna Geer se verduideliking van hoe jou tiener se brein werk.
Psychologist and coach Hennie Vorster offers practical advice on better communication with your teen.
Bedink saam praktiese planne om vriende te maak
“Gesels met jou kind oor die bose kringloop wat so kan ontstaan. Beplan saam hoe sy haar isolasie kan verbreek. Dalk kan sy ʼn klein stappie neem soos om iemand wat vriendelik lyk by die skool te begin groet – ʼn enkele goeie vriendin kan uiteindelik die verskil tussen eensaamheid en gemeensaamheid beteken. Sy kan hiermee volhou totdat die groet in ‘n gesprek ontwikkel.
“Miskien sal sy met jou aanmoediging die kans waag om aan te sluit by ʼn paar kinders wat sit en gesels. Dis wys om langs ʼn stiller persoon te gaan sit, eerder as die een wat die meeste praatwerk doen. Twaalfstapprogramme soos Alcoholics Anonymous beveel aan dat mense by minstens ses groepe probeer aansluit voor hulle moed opgee.
“Die belangrikste is showing up; al is dit moeilik, moet jou tiener vasbyt en by samekomste opdaag. Een of ander tyd moet dit vrugte afwerp.
“Begelei haar deur die proses en kyk nugter na die situasie. Gestel sy nooi iemand uit en kry ‘n ‘nee’, is dit dalk omdat die ander een reeds ‘n afspraak het, nie omdat sy ongewild is nie. Help haar om optimisties te bly.
“Ouers – nie die portuurgroep nie - is ‘n tiener of jong volwassene se eerste toevlug. Vestig ‘n diep, intieme konneksie met jou kind en maak seker sy voel deurentyd gekoester. Onthou dat aanraking soos ʼn hand op die skouer of ʼn speelsessie met ʼn troeteldier goedvoelhormone vrystel.
“Soms voel ouers hulle kan nie veel doen nie, byvoorbeeld wanneer hul kind in ‘n ander stad studeer. Dan is dit minder belangrik wát die ouers doen as dát hulle deurgaans kontak hou deur byvoorbeeld Whatsapp-boodskappe of skakels na interessanthede op die web te stuur. Hou aan om die verhouding te voed.”
Also listen to Dr. Terri Henderson’s insights on what makes teenagers tick.
En die invloed van die sosiale media?
“Die meerderheid jongmense en hul selfone is onafskeidbaar. Navorsingsresultate dui op ‘n direkte verband tussen ‘n toename in die gebruik van slimfone en die voorkoms van geestesgesondheidsprobleme onder adolessente.
“Hoewel sosiale media ‘n minder intimiderende manier kan wees waarop jongmense met ander kontak (en dalk vriende) kan maak, kan dit hulle ook uitgesluit laat voel. Hulle word verblind deur hul tydgenote se ‘perfekte’ lewens op sosiale platforms en vergeet hoe maklik dit is om ‘n vals beeld te skep. Wetenskaplike studies wys ook dat virtuele kontak nooit persoonlike kontak kan vervang nie.”
Wanneer jou tiener professionele hulp nodig het
“Eensaamheid kan verskeie nadelige gevolge hê, waaronder depressie en selfs selfdood. Hou jou kind fyn dop. Die goue reël is om professionele hulp te kry wanneer tekens van depressie soos hooploosheid, isolasie, ʼn negatiewe selfbeeld, irritasie, aggressie, ʼn beheptheid met die dood, selfskending of ʼn verandering in slaap- of eetpatrone langer as twee weke ononderbroke voortduur.
“Uiteindelik het die oorkoming van eensaamheid meer met ʼn jongmens se uitkyk te make as met die aantal virende wat hy of sy het. Ouers kan hul kind help om dié uitdaging die hoof te bied en ‘n veerkrag te ontwikkel wat hulle lewenslank goed te staan kan kom.”
Kontakdetail
Kliniese maatskaplike werker Sandy Lewis is die Compassion and Mental Wellness Lead vir Netcare Hospitale and Akeso Klinieke.
Meer inligting by https://www.akeso.co.za/ of 0861 435 787 (24 uur hulplyn).
Hierdie artikel is oorspronklik gepubliseer in rooi rose en op www.rooirose.co.za
Foto’s Unsplash. Modelle is gebruik.