Mariette Snyman

View Original

Verstaan hoe jou tiener se brein gerat is

Hou jou tiener se impulsiewe optrede en gretigheid om nuwe dinge uit te toets - veral in ’n groep – jou snags wakker? Daar is ‘n wetenskaplike verklaring vir tieners se avontuurlus en oopheid. Lees hoe jy jou kind kan ondersteun.

Hulle lýk dalk volwasse, maar hulle is nie. Al troon hulle kop en skouers bo jou uit en bewonder jy heimlik hul sin vir humor en intelligensie, is tieners steeds in’n vroeër lewensfase. En dis nie jý wat so sê nie: dis die wetenskaplikes. Die breinkenners, om presies te wees.
“Dis ’n reuse-uitdaging om die ouer van ’n tiener te wees,” sê dr. Lorna Geer, voorligtingsielkundige van George wat in hipnoterapie spesialiseer. “Vandag se tieners leef in ’n gans ander wêreld as dié waarin hul ouers grootgeword het, en die eise van die grootmenslewe het ook ingrypend verander. Dink maar net hoeveel makliker dit ’n paar dekades gelede was om werk te kry en jou eie potjie te krap. Ouers is besorg oor hul kinders se toekoms en wonder hoe hulle kan help.
“Die belangrikste is dat ouers besef hoe nodig hul kinders hulle het. Al sou baie tieners dit nooit erken nie, het hulle ’n behoefte aan vastigheid en struktuur. Ouers kan dit verskaf, en ’n ruimte skep waarin tieners hul denke en sosiale vaardighede kan toets sonder dat hulle gevaar loop om verwerp te word.
“Dis natuurlik nie maklik om ’n veilige hawe te wees vir spruite wat fisiek, sosiaal, emosioneel en kognitief in flux is nie! Dit help baie as ouers begryp wat in hul tiener se kop gebeur. As jy weet hoe die brein in die tienerjare ontwikkel, verstaan jy skielik die jongklomp se avontuurlus, “onverantwoordelike” optrede en obsessiewe fokus op hul vriendekring. Jy besef hulle is nie bloot moeilik nie, maar besig met ’n normale groeikurwe. Die lewe wil hulle op volwassenheid voorberei.”

Neurologies voorberei op onafhanklikheid

“Watter uitkoms begeer jy vir jou kind? Stem jy saam dat die vermoë om onafhanklik in ’n volwasse wêreld te kan funksioneer, allerbelangrik is?

“Kinders moet die ouerhuis verlaat en leer om op hul eie bene te staan en hul eie lewe te lei, maar as jy mooi daaroor dink, is daar min van ons wat ons gemaksone vrywillig sal verlaat. Afgesien van die voordele wat ons moet prysgee, is dit angswekkend om alles wat bekend is vir die onbekende te verruil.

“Op ses jaar het die brein 90% van sy volle grootte bereik. Kenners het vroeër gereken dat die brein klaar ontwikkel is teen die tyd dat kinders hoërskool toe gaan. Sedertdien het ons geleer abstrakte denke skop eers op twaalf in en kinders begin dan eers byvoorbeeld die moontlike gevolge van hul optrede voorsien.

“Volgens die jongste navorsingsresultate duur breinontwikkeling reg deur adolessensie en die proses is eers tussen 25 en 30 voltooi. ’n Tienerbrein is dus nie ’n volwasse brein met minder myle op nie - dis anders gerat, spesifiek om daardie skuif uit die huis aan te vuur.

Dopamien en impulsbeheer

“’n Opvallende kenmerk van adolessente is dat hul brein sensitiewer vir die neuro-oordragstof dopamien is. Dopamien help ons om beloning raak te sien en stappe te doen om die beloning te kry. Dié insig help ons om tieners se impulsiwiteit te verstaan. Volwassenes sou nog wou sê: ‘Ja, maar …’ maar adolessente sê sommer net ‘Ja!’ En daar gaan hulle. Voeg tieners se voorliefde vir iets nuuts daarby en daar het jy die impulsiwiteit wat die groep aanspoor om die grootmenswêreld met al sy uitdagings te betree.

“Ouers vra dikwels: ‘Hoekom lyk dit of my kind blind is vir die risiko’s wat hy loop?’ Die antwoord hou weer eens met breinontwikkeling verband. Fisieke veranderinge in die brein vind in ’n stadige golfbeweging van agter na voor plaas. Die gedeeltes aan die voorkant wat onder meer met impulsbeheer, komplekse denke en langtermynbeplanning te make het, ontwikkel heel laaste.

“Elke ouer weet hoe intens adolessente emosie kan ervaar. By tieners is dié dele van die brein wat met emosionele reaksies verband hou ten volle aktief – selfs meer as by volwassenes. Die gedeeltes wat impulsiewe reaksies beheer, is in die stadium nog op pad na rypwording. Ons kan sê die versneller werk seepglad terwyl die remme nog nie behoorlik funksioneer nie. Weer is dit nie net ’n nadeel nie: jongmense met die durf om ’n nuwe omgewing te verken, pas makliker aan.”

Hoe tieners leer

“Tieners is meestal oorgehaal vir iets nuuts en gereed om los te breek. Op ’n manier eggo dit hul breinontwikkelingsfase. In adolessente breine is sekere dele nog nie met mekaar verbind nie – dit gebeur eers wanneer hulle volwasse is.

“Daarby het tienerbreine meer én sneller groeiende sinapse, die chemiese ‘bruggies’ waarlangs neurone vir mekaar boodskappe stuur om neuronetwerke te vorm. Elke voorval wat ons onthou, of elke nuwe ervaring help met die vorming van hierdie netwerke.

“Tienerbreine is nog soepel en vatbaar vir verandering. Enersyds verklaar dit waarom tieners inkonsekwent optree: jy weet nooit wanneer hulle dierbaar gaan wees en wanneer hulle jou iets gaan toesnou nie. Die feit dat hul brein a work in progress is, dra ook by tot hul frustrasie met hul omstandighede en met hulself.

“Baie mense dink jou leervermoë word op ’n jong ouderdom vasgelê, maar dis nie waar nie. Puberteit is die ideale tyd om op leer ‘verlief te raak’, mits die leerstyl en motivering die eienaar van ’n tienerbrein aanspreek!

“Leer het nie net te doen met die bou en versterking van neuronetwerke nie, maar ook met die wegsnoei van ou konneksies om vir nuwes plek te maak. Konneksies wat baie gebruik word, word versterk. Dié wat minder stimulasie kry, verdwyn. Dis letterlik ’n geval van ‘pasop waaraan jy dink’- dit het ’n uitwerking op die herstrukturering van jou brein!”

Psychologist and coach Hennie Vorster offers practical advice on better communication with your teen.

Lees ook: Voel jou tiener eensaam?

Slaap, alkolhol en dwelms se invloed op leer

“Die snoeiproses in die brein vind plaas wanneer ons slaap. Slaap is dus noodsaaklik vir leer en onthou. Ongelukkig kry die meeste tieners nie naastenby die aanbevole nege tot tien uur slaap per nag nie. Hulle is te besig, skermtyd vreet in hul slaaptyd in, en boonop wys navorsing dat hul slaapritme van dié van volwassenes verskil. Om een of ander rede is tieners gerat om drie tot vier uur later as grootmense op te staan en te gaan slaap. Opvoedingsinstellings neem dit nie in ag nie.

“Slaapdeprivasie bevorder buierigheid, benadeel die vermoë om besluite te neem, en rem die wegsnoei van sinapse. ’n Ander faktor wat leer bemoeilik, is tienerbreine se ontvanklikheid vir die toksiese uitwerking van alkohol en dwelms. Wanneer volwassenes alkohol gebruik, herstel hul breinselle sodra die alkohol gemetaboliseer word terwyl tieners se breinselwerking langer belemmer word. Die alkohol of marijuana wat ’n tiener in die naweek gebruik het, beïnvloed hom wanneer hy die daaropvolgende Woensdag vir ’n toets leer en sonder dat hy daarvan bewus is, probeer hy met ’n selfveroorsaakte leergeremdheid studeer.”

Puberteit en daardie hormone

“Emosioneel, sosiaal en kognitief neem tieners geweldige spronge in die rigting van onafhanklikheid, maar die proses verloop nooit glad nie. Hulle het ’n onderontwikkelde vermoë om te cope en stoei met nuutgevonde drange en dryfvere, seksuele bewustheid en oorweldigende gevoelens.

“Die hormone in ons vleis en melk lei daartoe dat puberteit voortdurend al hoe vroeër begin – meisies begin deesdae gemiddeld op tien jaar menstrueer. Afgesien van ingrypende liggaamsveranderinge en innerlike bewuswordings, word tieners met ’n oormaat inligting en keuses gebombardeer. Dis geen geheim dat pornografiese skakels tussen adolessente se selfone rondvlieg nie.

“Ouers wat kalm kan bly, waarlik luister en die lewe se uitdagings doeltreffend kan hanteer, kan baie doen om hul kinders minder kwetsbaar te maak. Dit verg vanselfsprekend ’n fyn balans om gesonde grense vir ’n kind se gedrag te stel sonder om sy waagmoed onnodig aan bande te lê.”

Also listen to Dr. Terri Henderson’s insights on what makes teenagers tick.

Tieners se fokus op vriende

“Baie ouers wroeg oor die invloed van vriende wie se breine ook in ’n proses van rypwording is, en daarom net so impulsief of ‘blind’ vir risiko’s as hul eie kinders is. Daar is wel goeie redes waarom tieners hul ouderdomsgenote se geselskap verkies.

“Eerstens lei tieners se voorkeur vir die ‘nuwe’ daartoe dat hul vriende in die stadium interessanter as gesinslede is - en boonop in ’n groter mate as in enige vroeër of latere lewensfase.

“Tweedens belê tieners onbewustelik in die toekoms namate hulle al hoe meer tyd saam met hul vriende deurbring. Wanneer hulle jonk is, funksioneer kinders in die wêreld wat hul ouers geskep het terwyl hulle die grootste deel van hul lewe gaan deurbring in ’n wêreld wat hulle en hul portuurgroep gaan beheer en herskep. Om hul ouderdomsgenote te leer ken en verhoudings met hulle te bou, is krities belangrik vir ’n suksesvolle bestaan.

“Hierdie verskynsel word bevestig deur die normale menslike reaksie op uitsluiting deur die groep. Sosiale verwerping sneller dieselfde breinreaksie as bedreiging van ons voedselvoorraad of fisieke gesondheid. Ons oorlewingsinstink is onlosmaaklik aan die groep verbind. Een komplikasie van die tienerjare is dat abstrakte denke tieners in staat stel om hulle voor te stel hoe ander hulle waarneem. Verbeeldingsvlugte oor moontlike verwerping deur die groep, of dit nou plaasvind of nie, kan baie angs veroorsaak.

“Tienertyd is nie maklik nie. Tieners is vir hulself én ander onvoorspelbaar of onverstaanbaar. Daar is weer eens ’n goeie rede daarvoor. Die feit dat alle dele van die brein nog nie met mekaar verbind is nie en dat die emosies die beheerstelsels vooruit is, maak van hierdie fase ’n hoogs funksionele aanpassingstydperk – dit spoor kinders aan om die nes te verlaat en hul eie pad te vind. Totdat dit gebeur, moet ouers hulle maar daaraan troos dat tieners wel die een of ander tyd grootword!”  

Kontakdetail

Dr. Lorna Geer is ‘n voorligtingsielkundige van George wat in hipnoterapie spesialiseer en in persoon sowel as aanlyn werk: 012 667 2417 of www.lornageer.co.za

Hierdie artikel het oorspronlik verskyn in rooi rose en op www.rooirose.co.za

Foto’s: Pexels, tensy anders aangedui. Modelle gebruik.