Mariette Snyman

View Original

Meestal moeg? Só skep jy gesonde grense

See this content in the original post

Voel dit soms of jy net gee en gee? Dalk is die begrippe “other-centeredness” of “adult child” op jou van toepassing. Persoonlike ontwikkelingspesialis Judy Klipin se insigte en selfsorgwenke kan uitbranding voorkom.

Jy is altyd besorg oor ander. Jy hou ’n ogie, beplan, organiseer, herinner, gee praktiese hulp, en lê soms wakker. Partykeer klop jou hart warm in die wete dat jy waarlik omgee. Ander kere pleit ’n stemmetjie: Ek kort ook ’n blaaskans - wie kyk na mý?

“Ek sien soveel kliënte wat oorweldig voel, hul lewenslus verloor het en sukkel om vorentoe te beweeg,” sê Judy Klipin, persoonlike ontwikkelingspesialis en Martha Beck Master Life Coach van Johannesburg. “Hulle ly aan uitbranding – en nie noodwendig weens meedoënlose ure en harde werk nie. Die oorsaak lê dikwels by ’n diepgewortelde patroon wat ander mense voorop stel. Hoewel dit edel klink en in verskeie godsdiens- en kultuurkringe aangemoedig word, is dit op die lange duur ongesond om ‘goed te doen’ ten koste van jouself. Jy lewer die grootste bydrae as jy self versorg, vervuld en gelukkig is.”

Judy gebruik die term “other-centeredness” vir die geneigdheid om outomaties eerste aan ander se behoeftes aandag te gee. Sy verduidelik waar die verskynsel vandaan kom, hoe om dit raak te sien, en hoe other-centered mense ’n beter balans tussen hul eie behoeftes en dié van ander kan handhaaf.

“Die spreekwoord lui dat goeie heinings goeie buurmanskap verseker,” sê Judy. “Net so is gesonde grense noodsaaklik vir gesonde verhoudings. Maar baie van ons weet nie hoe goeie grense lyk nie, veral as ons ouers dit nie voorgeleef het nie.

“Gestel ’n vriendin nooi jou na ’n partytjie waarvoor jy nie kans sien nie. Jy onthou jy het die vorige keer ook haar uitnodiging van die hand gewys en sien by voorbaat haar teleurgestelde gesig voor jou geestesoog. Wie weet - dalk praat sy nooit weer met jou nie! Uiteindelik voel jy so sleg dat jy instem om te gaan.

“Wat het gebeur? Jy het jou besluit gegrond op wat jy jou verbeel het haar reaksie sou wees. Jy het haar nie gevrá hoe sy sou voel nie, maar onbewustelik vir haar emosionele welsyn verantwoordelikheid geneem terwyl jy jou eie behoeftes ignoreer. Alles draai om haar; dis ’n sprekende voorbeeld van other-centeredness.”

Opoffering kan kleintyd al begin

“Hierdie proses is so subtiel dat ons dit maklik miskyk, dalk omdat dit meestal kleintyd gevestig word.

“Kinders weet instinktief dis slegs hul ouers wat tussen hulle en die dood staan. Wanneer hulle ’n ouer nie met hierdie taak vertrou nie, besluit hulle onbewustelik om die ouer te ‘versorg’ sodat die ouer in staat is om na húlle om te sien. Hul oorlewingstrategie is om sekere praktiese take en grootmensverantwoordelikhede op hul skouers te neem.

“Die klassieke voorbeeld van ’n volwasse kind is die kind van ’n alkoholis. Hulle moet onder meer help om die ouer teen kritiek uit die gemeenskap te beskerm en boonop heeltyd op hul hoede wees omdat die ouer onverwags gewelddadig kan raak, geld kan verkwis, of onvoorspelbaar kan optree.
“In my werk het ek besef nie net kinders uit huise waar alkohol misbruik word, dra hierdie las nie. Enige gesinsomgewing wat op fisieke, emosionele of geestelike vlak ontwrig is, kan volwasse kinders kweek.
“Die kernprobleem is die alomteenwoordige onvoorspelbaarheid in die ouerhuis. Die kinders kan hul waaksaamheid nie een oomblik verslap nie. Die oorsaak van die onbestendigheid kan finansiële druk wees, ’n ouer se chroniese siekte, depressie, ’n natuurramp, die kind wat kosskool toe moet gaan, of iets anders. Feit bly, dit skep angs wat dikwels lewenslank duur.
“Volwasse kinders is geweldig selfkrities omdat hulle kleintyd gevoel het hulle het skuld aan hul ouers se ongelukkigheid. As volwassenes glo hulle hulle moet onfeilbaar voorkom. Dis vir hulle moeilik om ander te vertrou, of om hulp te vra. Hulle kan oormatig afhanklik wees van ander se goedkeuring en van die wete dat hulle onmisbaar is.
“Hul verbete fokus op hul ouers se welsyn word na ander mense verplaas. Hulle hanteer gesinslede, kollegas of ander, onbewustelik as mense wat nie selfstandig en verantwoordbaar is nie, maar na wie omgesien moet word.”

Judy explains how to make work work for you, especially if you’d like to get more recognition & financial and other rewards at work.

Are you experiencing Covid fatigue? Judy explains how to recognise the signs and what to do.


Hulpmiddels: Transaksionele analise en die drama-driehoek

  • Transaksionele analise help om dié patroon te breek

“Om dié manier van dink en doen te verander verg bewustheid. In my werk met kliënte gebruik ek graag transaksionele analise, ’n sielkundige kommunikasieteorie wat die ‘transaksies’ bestudeer wat tussen mense plaasvind. Transaksionele analise belig drie egostate waaruit mense met mekaar omgaan.

Die drie egostate: Ouerstaat, Kindstaat en Volwasse staat:

1. Soms kommunikeer ons uit ons ‘Ouerstaat’, wat graag vir ander voorskryf en verantwoordelikheid neem.

3. Derdens kry ons die ‘Volwasse staat’ wat kalm, rasioneel en konstruktief kommunikeer.
“Kommunikasie uit jou Ouerstaat aktiveer maklik jou gespreksgenoot se Kindstaat, en andersom. Dink maar hoe dit voel wanneer jou maat jou oor die wasbak vol vuil skottelgoed betig - kompleet asof jy ’n kind is.
“Slegs wanneer jy uit jou Volwasse staat kommunikeer, is jy en die ander persoon op ’n gelyke vlak. Dis die ideaal, veral wanneer konflik hanteer of probleme opgelos moet word.”

  • Herken die “drama triangle”

“Nog ’n praktiese hulpmiddel wanneer ’n ongunstige verhoudingsbalans ter sprake is, is die sogenaamde drama-driehoek wat by transaksionele analise aansluit. Die sielkundige Stephen Karpman het dit ontwikkel om lig te werp op mede-afhanklike of co-dependent verhoudings, maar dis op enige lewensgebied en verhouding van toepassing.
“Stel jou ’n omgekeerde driehoek voor. Elk van die hoeke verteenwoordig ’n rol. Die onderste punt verteenwoordig die Slagoffer, links bo lê die Teisteraar of Boelie, en regs bo die Redder. Onthou dat die benamings op mense se persépsie van hulself of ander as ’n Slagoffer, Teisteraar of Redder dui.

Die drie rolle: Slagoffer, Teisteraar en Redder

1. Die Slagofferrol kom met die Kindstaat ooreen. Die Slagoffer se mantra is ‘Arme ek!’ Mense in hierdie rol voel magteloos, hopeloos, te na gekom en beskaamd. Hulle sukkel om besluite te neem, knelkwessies op te los, nuwe insigte te kry of die lewe te geniet.

2. Die Teisteraar is eintlik ’n Kritiese Ouer met die rympie: ‘Dis alles jou skuld.’ Teisteraars kritiseer en blameer, is outoritêr, meerderwaardig en rigied, en wil graag in beheer wees.

3. Die Redder of Versorgende Ouer dring aan: ‘Laat ek jou help.’ Redders voel skuldig as hulle nie instorm en red wat daar te redde is nie, maar in werklikheid help hulle iemand soms van die wal in die sloot.

“Die aspekte van die dramadriehoek is heelwat ingewikkelder as wat dit voorkom. Elke rol vervul sekere onuitgesproke, meestal onbewuste behoeftes, en dis waarom Slagoffers, Teisteraars en Redders mekaar aantrek.

Watter rol speel ek?

“Hoewel die meeste mense ’n voorkeurrol het, skuif hulle tussen die rolle rond. ’n Vrou wie se man aan dwelms verslaaf is, sal byvoorbeeld oudergewoonte as Redder optree. Op ’n dag raak dit vir haar te veel en neem sy die rol van Teisteraar aan. Wanneer sy hom slegsê, kan hý die Teisteraar word en sê dat sy net by hom bly omdat geen ander man haar wil hê nie. As dit haar ontstel, word sy tydelik die Slagoffer. Binnekort sal sy weer die Redder wees. Dis vir haar voordelig om die ‘wanfunksionele harmonie’ te handhaaf, want solank haar man haar nodig het, sal hy haar nie verlaat nie.

“Die dramadriehoek maak sin sodra jy besef geen deelnemer tree op uit ’n Volwasse Staat nie. Die werklike probleme wat die drama veroorsaak, word net opgelos wanneer een van die spelers ophou om ‘saam te speel’.

“Die uitdaging is om agter te kom wanneer jy deel van so ’n driehoek is. Jy het miskien ’n kollega wie se werk altyd laat is – en sy het altyd ’n goeie verskoning (die Slagoffer). Jy spring telkens in en tree as die Redder op, totdat jy eendag genoeg gehad het. Pleks van om na die rol van Teisteraar te beweeg of self ’n Slagoffer te word, kan jy uit die driehoek tree deur kalm, rasioneel en konstruktief te kommunikeer. Dit beëindig die drama.

“Ek moedig kliënte aan om ’n rolmodel as ’n voorbeeld van Volwasse Staat-optrede te identifiseer. Dit kan ’n fiktiewe karakter of ’n ware mens wees, solank dit iemand is wat hulle respekteer maar nie goed ken nie. My rolmodel is Nelson Mandela. As ek in die dramadriehoek beland, vra ek my af hoe hy die situasie sou hanteer het.

“Dis nie maklik om uit ’n gevestigde patroon te breek nie, maar bewustheid maak ’n reuseverskil. Wanneer jy jou betrap dat jy (al weer) iemand anders wil red, kan jy kies om die persoon te vra: ‘Is daar iets wat ek kan doen om te help?’ voor jy sommer self besluit wat gedoen moet word. Dit dwing die ander party om verantwoordelikheid te neem en te sê of hulle advies, geld, of jou motor vir ’n dag of wat nodig het.”


Selfsorgwenke: makliker as wat jy dink

“Sommige other-centered mense neem hulself letterlik nooit in ag nie. Hulle dink outomaties: ‘Die ander persoon is besiger/ belangriker/swakker as ek, daarom moet ek dit of dat vir hom doen.’ Hoewel hierdie soort denke onbewustelik ontstaan, kan dit bewustelik verander word. Dis belangrik om ’n gewoontepatroon deur iets anders te vervang. Geen verstandige ma sal die sleutel waarmee haar baba speel wegneem sonder om hom ’n ander speelding te gee nie. Net so gebruik ’n toegewyde lewensafrigter doeltreffende tegnieke om ’n kliënt veilig te laat voel gedurende die denkaanpassingsproses.

“Om jou denke in ’n positiewer rigting te swaai hoef nie ’n lang, uitmergelende gedoente te wees nie. En dit beskerm verhoudings. Mense wat voel hulle gee te veel, verander dikwels in martelaars. Min dinge doen ’n nabyverhouding soveel skade soos bitterheid en wrokkigheid.”

  • Ontwikkel vertroue

    ”Vertrou jy ander om verstandige besluite te neem, of wil jy altyd beheer uitoefen en vir hulle voorskryf? Laat mense toe om te wys waartoe hulle in staat is. Begin klein: moenie jou man die hele naweek alleen met jul baba los in die hoop dat hy die doeke gereeld sal omruil nie!”

  • Laat ander toe om te help

    “Die probleem met other-centeredness is dat jy nie na jouself omsien nie en ook nie toelaat dat ander dit doen nie. ’n Vars uitkyk kan jou doelbewus laat kies om mooi na jouself te kyk/na ander te kyk/hulle toe te laat om na hulself te kyk/hulle toelaat om na jou te kyk. Gun ander dié voorreg: letting them help you means letting them love you. Dis ’n wonderlike ervaring vir hulle én vir jou.”’


    Kontakdetail

    Judy Klipin is ‘n persoonlike ontwikkelingspesialis, ’n Martha Beck Master Life Coach, en ‘n Comensa registered coach van Johannesburg: 083 292 2535, Judy@JudyKlipin.com of www.judyklipin.com

    Hierdie artikel was oorspronklik in rooi rose.

    Foto’s: Unsplash