Mariette Snyman

View Original

Natuurlike geboorte: wanneer is dit die beste keuse?

In baie lande word ‘n natuurlike geboorte toenemend as die beste opsie vir ‘n gesonde ma met ‘n normale swangerskap beskou. Is dit veilig – en is dit gewens? Geboorte-opvoedkundige Cozette Laubser belig die voorwaardes vir en voordele van ‘n bevalling sonder mediese ingrepe, onder die oog van ‘n opgeleide vroedvrou. Sy bespreek die ideale geboorteomgewing, die geboortespan, die rol van hormone in die kraamproses, die “fetus ejection reflex” en natuurlike en farmaseutiese maniere om pyn te beheer.

“Wat verkies jy – ’n vaginale geboorte of ’n keisersnit? Gaan jy ’n epiduraal kry?”

Dis twee vrae wat swanger vroue met goeie mediese sorg meermale hoor. Die antwoord word beïnvloed deur faktore soos mediese fondsbepalings, die wens om mediese risiko’s tydens die bevalling te beperk, besorgdheid oor die welsyn van die baba - en vrees vir die pyn wat ons met ’n natuurlike geboorte verbind.

An English translation of this article can be read here.

Ons leef in ’n tyd waar die vermyding en verligting van enige vorm van pyn voorop staan. Vorige geslagte moes geboortepyn maar verduur; óns voel ons kan dit systap. Maar voor ons besluit of pyn die vyand is, moet ons die geboorteproses van nader bekyk.

“Vroue se ervaring van geboorte verskil,” sê Cozette Laubser, geboorte-opvoedkundige en Paramana-doula van Johannesburg. “Sommige beskryf dit as pynloos. Ander sê die pyn was draaglik, terwyl party vroue angswekkende pyn onthou. Vreemd genoeg hou die mate van pyn nie noodwendig met faktore soos die ma se bou of die grootte van die baba verband nie.

“Kom ons kyk na pyn binne die konteks van ’n geboorte wat op fisieke én emosionele vlak glad verloop. Die doel is tog nie net om ’n baba in die wêreld te bring nie, maar om ’n nuwe eenheid te vestig: ma en baba of ma, pa en baba, dalk binne ’n groter gesin. Die geboorte is die eerste ontmoeting tussen mense wat hopelik ’n lang pad saam gaan stap, en die atmosfeer en emosionele ervaring laat ’n blywende indruk op elkeen wat betrokke is.

“Goeie” geboortehormone

“’n Ma se gemoedstoestand is onlosmaaklik met haar belewenis van pyn verweef. Pyn registreer in die brein, en sekere hormone kan die ervaring daarvan versterk, versag, of verhinder. Gewenste hormone wat die geboorteproses aandryf, sluit in:

Wanneer adrenalien ongewens is

“Oksitosien word deur adrenalien, die streshormoon wat ons vrystel wanneer ons koud kry of bang, angstig of gespanne voel, onderdruk. Vrees laat ons spiere verstyf, en die baarmoeder is die grootste en sterkste spier in die vroulike liggaam. Adrenalien beïnvloed die spiere wat die baarmoeder kan laat sluit en werk die uitsetting van die geboortekanaal teë. Verder lei spierspanning tot senu-impulse wat in die brein as pyn vertolk word. Adrenalien kan dus nie net die kraamproses pynliker maak nie, maar dit vertraag of selfs tot stilstand dwing.”

Die ideale geboorteomgewing

“Tydens ’n bevalling is dit optimaal dat oksitosien, endorfien en melatonien vrylik vloei en dat adrenalien beperk word. Hierin speel die geboorteomgewing, geboortespan, en begrip van die natuurlike kraamproses ’n deurslaggewende rol.”

Gedurende ’n bevalling word die werking van natuurlike hormone sterk deur die ma se emosionele toestand gereguleer. Die Franse verloskundige en geboortespesialis Michel Odent wys op die belangrikheid van ’n veilige, gemaklike geboorteomgewing. Volgens Odent kies soogdiere:

  • ’n omgewing wat fisiek en emosioneel veilig is

  • privaat is in die sin dat hulle nie voel hulle is onder observasie nie

  • donker en warm genoeg is en  

  • hulle die vryheid gee om rond te beweeg en na willekeur van posisie te verander.

Dink maar aan ’n mammakat wat ’n donker, knus plek kies waar niemand haar sal steur nie.”

Is die beste geboorteomgewing vir ander soogdiere ook die beste vir mense?

“Dis insiggewend dat die menslike denkvermoë wat ons van ander soogdiere onderskei, tydens ’n bevalling ’n struikelblok kan wees. ‘Ons is die enigste spesie wat ons vermoë om geboorte te skenk kan betwyfel,’ sê die Amerikaanse vroedvrou Ina May Gaskin, en soos ons gesien het, bevorder twyfel en vrees die afskeiding van adrenalien.”

Instink of intellek?

“Michelle Odent wys op die fetus ejection reflex wat spontaan laat in die geboorteproses kan voorkom, ideaal gesproke wanneer die ma deurentyd volkome veiligheid en privaatheid ervaar het sonder steurende ligte, geraas of ander onderbrekings. ’n Golf hormone sneller sterk, vinnig opeenvolgende kontraksies wat die baba uit die baarmoeder in die geboortekanaal stoot. Die drukking van die baba in die vagina stimuleer weer die Ferguson-refleks - twee of drie kragtige kontraksies wat die baba uitstoot sonder dat die ma eens doelbewus hoef te druk.

“Die fetus ejection reflex kan skielik inskop en gaan dikwels met emosionele en oënskynlik irrasionele optrede van die ma gepaard. Sy kan daarop aandring om onmiddellik die geboortekamer te verlaat, of skree dat sy liewer wil sterf; sy kan haar in ’n beknopte ruimte soos die toilet afsonder; sy kan regop sit of vooroor leun terwyl die intense, onwillekeurige kontraksies haar baba die wêreld in stoot. In hierdie omstandighede word die baba dikwels in die amniotiese sak gebore, die vagina skeur selde, en die nageboorte skei binne minute van die uterus.”


Cozette describes how skin-to-skin contact right after birth bonds Baby, Mom and Dad - and what to do if the opportunity wasn’t there.

Also listen to Cozette’s explanation of how nurturing your baby “upgrades” your brain - even if you’re not the birth mom, you and the little one benefit!

Newborn Brain Essentials by Cozette Laubser - also available in Afrikaans - has been launched! You can find it here.

Listen to Cozette discussing crucial questions related to parenting, pregnancy and birth - including when you’re ready to become a parent.


Dr. Melodie de Jager introduces the blog “The Art of Co-creating”, created for the woman who wants to be a mom but doesn’t know where to start.

 

Voordele en nadele van ‘n kliniese hospitaalomgewing

Hoekom hoor ons selde van sulke veilige, betreklike maklike geboortes?

“Die hoofrede is die groot mate waarin geboortes na hospitaalomgewings verskuif het.

Die voordeel is dat ’n goed toegeruste hospitaal met kundige personeel in ’n ware noodgeval die tegnologie het om ’n lewe met chirurgie te red.

Die nadeel is dat die fokuspunt van mediese opleiding val op dit wat verkeerd kan loop en hoe om dit reg te stel. Hierdie benadering geld hoë sowel as lae risikogevalle, hoewel baie kraamgevalle nie ’n hoë risiko dra nie. Die Wêreldgesondheidsorganisasie beveel byvoorbeeld aan dat keisersnitte slegs in 10% tot 15% van kraamgevalle gedoen word. In die private mediese sektor in Suid-Afrika gebeur dit vier tot ses keer meer.

“Wanneer ons byvoorbeeld sonder goeie mediese redes induseer, forseer ons ’n proses wat nog nie reg was om te begin nie. Praktyke soos ondersoeke om te sien hoe ver die serviks ontsluit het, of aanwysings oor wanneer die ma moet druk, kan met die geboorterefleks inmeng; dit stimuleer die ma se dinkbrein en haal haar uit haar instinktiewe brein.”

Om op die rug geboorte te skenk is moeiliker

“Om volgens die algemene hospitaalgebruik op jou rug geboorte te gee, is teenproduktief. In vergelyking met die hurkposisie vernou die pelviese opening met tot 30%. Boonop druk ’n vrou letterlik opdraand – wanneer jy lê, krul die geboortekanaal boontoe, en jy druk teen swaartekrag. In die lêposisie vernou die bloedvate en gevolglik kry nóg ma nóg baba die optimale hoeveelheid bloed en suurstof. Die risiko van ’n lae hartklop by die baba neem toe.”

“Om op die rug geboorte te gee stel ’n vrou nie net meer bloot aan pelviese, spinale en senubeserings of verlengde pyn ná die geboorte nie, maar dit kan die kraamproses vertraag én pynliker maak. Wanneer die mediese personeel sien die proses vorder nie na wense nie, word hulpmiddels soos ’n tang of vakuum dikwels ingespan om die baba te verlos. Ironies genoeg versterk bevallings wat nie glad verloop nie die uitkyk dat natuurlike geboorte riskant en onvoorspelbaar is, en in elk geval ’n intervensie soos ’n keisersnit gaan verg.

“In lande soos Brittanje en Nederland is daar geruime tyd reeds ’n terugkeer na natuurlike geboorte onder die oog van opgeleide vroedvroue. Dit word beskou as die beste opsie vir ’n gesonde vrou met ’n normale swangerskap – met ander woorde, in gevalle wat nié ’n hoë risiko dra nie. In Suid-Afrika begin hierdie uitkyk stadigaan veld wen.

“Vroedvroue hanteer tuisgeboortes, geboortes by geboortehuise (met onmiddellike toegang tot ’n ginekoloog en hospitaal), geboorteklinieke wat formeel soos hospitale funksioneer, en by sekere hospitale wat vroedvroue die reg gee om ’n ma sonder oponthoud te laat opneem indien ’n noodtoestand sou ontstaan.”

Geboorteplek en geboortespan

Watter wenke het Cozette vir voornemende ouers wat die natuurlike roete oorweeg?

  • Die eerste stap is om met die hulp van ’n ginekoloog of ander kundige vas te stel of ’n natuurlike geboorte moontlik is, in die lig van die ma se mediese geskiedenis en ander faktore.

  • Dan volg die keuse van die geboorteplek. ’n Tuisgeboorte is ’n toepaslike roete vir ’n gesonde mamma en baba wat die omvattende voordele van ’n algeheel natuurlike geboorte wil ervaar. Onthou dat slegs nie-farmaseutiese pynverligtingsopsies beskikbaar gaan wees.

  • Wat die geboortespan betref, is die teenwoordigheid van ’n gekwalifiseerde en ervare vroedvrou maak ’n tuisgeboorte ’n veilige opsie, veral as sy ’n ginekoloog het wat in ’n noodgeval beskikbaar is, en ’n mediese inrigting maklik en vinnig bereik kan word. Natuurlike geboortes word ook in ander geboorteplekke hanteer.

    “Die geboortespan is van kardinale belang omdat die ervaring van veiligheid, sekuriteit en vertroue essensieel is vir die optimale vordering van die kraamproses.

    “Die span sluit soms ’n doula in, ’n nie-mediese metgesel wat die ouerpaar ook gedurende die swangerskap en ’n paar weke ná geboorte kan ondersteun. ’n Doula sorg dat die vrou gemaklik is en dat haar kraamdoelwitte geëer word. Sy neem nie die pa se rol oor nie, maar omdat sy die geboorteproses ken en vertrou, bring sy kalmte. Onthou, adrenalien kan die proses negatief raak – senuagtigheid en kommer is aansteeklik. Volgens onlangse navorsingsresultate kan die teenwoordigheid van ’n doula die kans op ’n keisersnit met 60% verlaag.

‘n Vars benadering tot geboortepyn

“Geboorte kan ’n vreugdevolle ervaring wees, mits die ma reg ondersteun word. Sy moet voel sy is in goeie hande, gelief, nie alleen nie, en dat sy gerespekteer word. Wanneer geboortepyn onhanteerbaar word, moet ’n ma uiteraard die keuse hê om pynstillers te gebruik.”

Natuurlike teenoor farmaseutiese pynbeheer

“Vir my beteken natuurlike geboorte die kraamproses begin spontaan en eindig ná die spontane lewering van die plasenta, sonder die gebruik van enige medikasie of instrumente. Die proses word deur die ma en baba gelei. Die vrou kan geluide maak, eet en drink, en rondbeweeg soos sy verkies – kortliks, sy kan doen wat sy moet om in die proses haar eie ritme te vind. Sodra daar mediese ingrepe is, is ’n vaginale geboorte nie meer heeltemal natuurlik nie.”

Natuurlike pynbeheer

  • Die belangrikste is endorfien, die liggaam se eie morfien, maar dit moet deel vorm van die cocktail of hormones wat natuurlik afgeskei word.

  • Vir ’n groot persentasie vroue bring ’n waterbad teen liggaamstemperatuur enorme pynverligting. Die baba kom uit in ’n omgewing soortgelyk aan die baarmoeder, en is rustiger en meer ontspanne.

  • Sekere posisies kan pyn verlig. Wanneer die ma erge rugpyn ervaar omdat die baba met haar ruggie teen haar ma se rug lê, help dit as die ma hande viervoet staan omdat die baba se rug dan effens wegtrek. Baie ma’s doen dit instinktief.

  • Ritmiese asemhaling, klanke of beweging – soos ritmiese swaaibewegings saam met haar lewensmaat – kan die ma se pyn help verlig. Party vroue herhaal ’n frase of mantra hardop of in hul gedagtes.

    Farmaseutiese pynbeheer

“Dis belangrik om te weet dat hierdie middels moontlik pyn kan verminder, maar dit nie sal uitwis nie. Verwagtende ouers moet die voor- en nadele deeglik navors en verstaan hoe pynbeheeropsies hul baba se aanpassing ná geboorte kan raak in terme van asemhaling, voeding, binding, en so meer. Dit kan ook bepaal of hul baba outomaties in die neonatale waakeenheid opgeneem word.

“Mediese ingrepe stuur die geboorteproses in ’n spesifieke rigting. ’n Drup belemmer byvoorbeeld jou bewegingsvryheid en ’n epiduraal beperk jou tot jou bed. Een intervensie se newe-effekte kan tot ’n volgende lei, soos wanneer ’n induksie dit moeiliker maak om die baba uit te druk, en ’n tang of vakuum dan gebruik word.

“Wat ook al gebeur, bly die belangrikste verantwoordelike, ingeligte optrede om die welsyn van ma en baba te verseker.”

Counselling psychologist Luricka Fick explains what postnatal depression is and when to get help.

Kontakbesonderhede

Cozette Laubser is ‘n geboorte-opvoeder, Paramana-doula, gevorderde BabyGym-instrukteur en Play Learn Grow-fasiliteerder van Johannesburg.

Sy skeduleer gratis inligtingsessies oor natuurlike geboorte op aanvraag.

Epos: cozette@sensiblebirth.co.za

Webwerwe: www.sensiblebirth.co.za en www.theartofcocreating.co.za - kyk veral na die podsendings

Facebook: Sensible Birth

 

Hooffoto: Pexels

Ander foto’s: Unsplash, tensy anders aangedui. Modelle is gebruik.

Hierdie artikel het oorspronklik verskyn in rooi rose.