Mariette Snyman

View Original

Is jou kind ADHD of begaafd?

Met aandagafleibaarheid/hiperaktiwiteit is ons almal bekend, maar nie met begaafdheid nie. Gesinsberader en “transformational parenting coach” Mia von Scha skets die eienskappe van begaafdes, watter toestande of kwessies met ADHD verwar kan word, die voor- en nadele van “giftedness” en hoe om hierdie kinders te hanteer. Daarby het begaafde kinders meermale begaafde ouers!

“Mevrou, jou dogter kan nie stilsit nie. Sy moet vir aandagafleibaarheid getoets word en moontlik Ritalin gebruik,” het die graadeenonderwyseres vir Mia von Scha gesê. Mia het gewonder of die juffrou aan die verkeerde kind dink: “Tuis kon my oudste ure aaneen konsentreer.”

Dié voorval het Mia – gesinsberader, transformational parenting coach, kinderboekskrywer en inspirasie-spreker – ’n nuwe rigting laat inslaan. “Ek was vasbeslote om die situasie uit te pluis. Dit het ’n paar jaar geneem, maar vandag kan ek my kennis van kinders wat op die begaafdheidspektrum lê, gebruik om ander ouers te help.

“Dis interessant dat ons almal bekend is met aandagafleibaarheid/hiperaktiwiteit, maar onseker is oor wat begaafdheid behels. Een van my kwalifikasies is ’n BA-graad in sielkunde, en begaafdheid was nie deel van ons leerplan nie. My oudste was in ’n Johannesburgse private skool. Hoewel sy intellektueel vier of vyf jaar voor haar ouderdomsgroep gemeet het, het die skool geen aandag daaraan gegee nie – selfs ná my uitdruklike versoek. Dis begryplik dat ’n kind wat reeds met breuke kan werk, moeilik konsentreer wanneer die les op eenvoudige optelsomme fokus.”

“Overexcitability” en ander kenmerke van begaafdheid

“Die werk van ’n Poolse psigiater en sielkundige, Kazimierz Dabrowski, het my siening van begaafdheid ingrypend beïnvloed. Hy het intensiteit, sensitiwiteit en ooropwekking (overexcitability) as die kerneienskappe van begaafdheid geïdentifiseer. Overexcitability of OE is aangebore en dui op ’n verhoogde ontvanklikheid vir stimuli. Alle begaafdes openbaar nie hierdie supersensitiwiteit nie, maar dit kom in ’n groter mate by kreatiewe en begaafde mense voor as in die gemiddelde bevolking. OE’s kan op een of meer van vyf gebiede voorkom:

1 Psigomotories

Psigomotoriese overexcitability dui op verhoogde prikkelbaarheid van die senuspierstelsel. Wanneer hulle emosionele spanning beleef, kan hierdie mense impulsief optree, kompulsief praat, onaanvaarbare gedrag of senuagtige gewoontes toon, gedrewe voorkom, slaaploosheid ervaar, kompulsief begin organiseer, en uitermate mededingend raak. Die grenslose fisieke en verbale aktiwiteit wat hulle so geniet, kan ander oorweldig. Hul huisgenote en klasmaats wens hulle wil tog net stilsit en stilbly!

2 Sensueel

Sensual OE is ter sprake wanneer al vyf sintuie in die hoogste rat funksioneer.


Spanning kan veroorsaak dat hulle hulle ooreet, ’n aanval van kooplus kry, of smag na die fisieke genot wat hulle beleef wanneer hulle die middelpunt van belangstelling is. ’n Lawaaierige klaskamer of krapperige uniforms kan hulle ontstem. Hulle het ’n groot behoefte aan fisieke gemak, soos sagte klere.

3 Intellektueel

Hierdie OE word gekenmerk deur die behoefte om kennis in te win en inligting te begryp, te analiseer en te integreer om by die waarheid uit te kom. Hierdie kinders is ywerige lesers, nuuskierig, en dikwels fyn waarnemers. Hulle kan lank konsentreer en met probleemoplossing volhard. Hulle is gek na teorieë en dink na oor hul manier van dink. Hul sterk fokus op morele denke beteken hulle kwel hulle oor “volwasse” kwessies soos haweloosheid. Hulle kan gou krities of ongeduldig raak, of so opgewonde dat hulle ander onderbreek.

4 Verbeeldingsverwant

Mense met imaginational OE se gedagtewêreld is ryk aan beelde, metafore, fantasie en verwikkelde drome. Die digkuns, drama of musiek kan hulle fassineer. Hulle het ’n goeie sin vir humor, maar omdat hulle hul maklik die ergste scenario kan voorstel, kan hulle bang wees om te waag of iets nuuts te probeer. Dié kinders vermeng soms fiksie en die werklikheid en het dikwels verbeeldingmaatjies. Hulle konsentreer moeilik in ’n klaskamer waar ’n rigiede akademiese leerplan kreatiwiteit oorskadu.

5 Emosioneel

Emosionele ooropwekking vind uiting in uiterste of komplekse emosies, baie keer in fisieke reaksies soos maagpyn of ’n blosery. Hierdie kinders vorm nou bande met mense, plekke en voorwerpe, is empaties en voel dikwels verantwoordelik vir ander. Hulle kan angstig wees, skaamte, skuldgevoelens of depressie ervaar, en minderwaardig of ontoereikend voel. Hulle hanteer verandering moeilik en is geneig tot meedoënlose selfkritiek. Dié mense het ’n groot behoefte aan sekuriteit. Hul verhoogde emosionaliteit kan op alledaagse take soos huiswerk inbreuk maak.

Lees ook hierdie artikel om uit te vind of jy (of jou kind) ‘n “empath” is.

Ouers val dikwels ook op die begaafdheidspektrum

“Wanneer ek ouers aan Dabrowski se werk voorstel, gaan daar dikwels vir hulle ’n lig op. Hulle besef nie net hul kinders nie, maar ook hulle is begaafd: dis ongewoon dat gesinslede se IK met meer as tien punte verskil. In ons samelewing identifiseer ons wel begaafdes wat uitstaan, soos ’n kind wat reeds op agt maande leer lees, maar talle begaafdes se vermoëns is minder ooglopend.

“Baie mense aanvaar dat begaafde kinders fluks en voorbeeldig is en net A-simbole kry. Volgens my skatting geld dit sowat 30% van dié kinders. Die meerderheid kan ’n klas ernstig ontwrig. Hulle is verveeld, en span daardie skerp brein in om hulself en ander te vermaak. Baie van hulle het vrede met huiswerk.

“Ongelukkig lei begaafdheid meermale na aangeleerde hulpeloosheid. Omdat die werk so maklik is, raak die kinders lui. Hul eerste ware uitdaging kom wanneer hulle die dag begin werk of studeer – en dan gee hulle moed op omdat hulle nooit geleer het om uitdagings die hoof te bied nie. Dis tragies as dit gebeur.”

Ander moontlikhede wat nes ADHD kan lyk

“Ek sien talle ouers wat ongemaklik voel wanneer aandagafleibaarheid/hiperaktiwiteit of AA/HA by hul kinders gediagnoseer word. Hul kind ervaar duidelik probleme, maar hulle twyfel daaraan dat medikasie die beste oplossing is.

“Vir sulke ouers sê ek: trust your gut. Jy ken jou kind die beste. As jy ander oplossings wil oorweeg, kan ek help.

“Ek is nie ’n sielkundige nie, maar die tradisionele sowel as alternatiewe modaliteite waarin ek opgelei is, het juis my uitkyk verbreed. Die diagnose van AA/HA is altyd subjektief – geen bloedtoets of skandering kan dit bevestig nie – en in my ervaring is daar sowat vyftig ander moontlikhede wat na AA/HA kan lyk.

“Hier is ’n paar: lae bloedsuiker, voedingstekorte, ’n gebrek aan vitamien B, bloedarmoede, te hoë mangaan- of kwikvlakke, allergieë, hartsiekte, porfirie, ’n wurminfestasie, ’n candida albicansinfeksie, die newe-effekte van medikasie, te min oefening, stres, slaapstoornisse, leerprobleme, of ’n gebrek aan respek vir die kind se waardes en behoeftes in die skoolkonteks.

“Saam met ouers fokus ek op ouderdomsgepaste gedrag, ontwikkelingsverskille en leerstyle. Ons eksperimenteer met leefstyl- en ander veranderinge wat ’n positiewe verskil kan maak.

“Ek het ’n graadeenkind gesien wat nie kon konsentreer, aanwysings volg of opdragte voltooi nie. Hy het swak fyn motoriese vaardighede gehad en aggressief opgetree. Sy juffrou het gevrees hy sou die jaar druip. Nadat hy ’n goeie probiotika begin neem het, en sy dieet aangepas en skermtyd beperk is, was hy binne ’n betreklike kort tydperk een van die topdrie leerders in sy klas.

“Ek wil allermins die indruk wek dat alle kinders se aandagafleibaarheid, of vermeende aandagafleibaarheid, so maklik opgelos kan word. Party situasies is ingewikkeld, veral as ’n kind begaafd is én’n toestand soos disleksie of outisme het.

Medikasie of nie?

“Gedrag is ‘n vorm van kommunikasie. Ons moet probeer agterkom wat ‘n kind se gedrag aan ons wil oordra. In die oë van ons samelewing kommunikeer AA/HA-simptome die behoefte aan medikasie. Maar Ritalin en soortgelyke middels is nie geneesmiddels nie. Hulle spreek slegs simptome aan. Hulle is ’n management tool. Ek het al ’n klas van 30 kinders teëgekom waarvan 15 op hierdie medikasie was. Die ouderdomsgroep waaronder die gebruik van Ritalin die vinnigste toeneem, is voorskoolse kinders.

“Ek glo AA/HA-simptome spoor ons aan tot verandering. Dis ’n gawe eerder as ’n straf. Ons kan vra: wat verklap my kind se simptome omtrent die manier waarop ons leef? Vir mense met ’n oop gemoed is daar báie inligting beskikbaar.”

Begaafdheid het voordele én nadele

“Nes enige ander saak het begaafdheid voor- én nadele. Begaafde kinders is eintlik kinders met spesiale behoeftes.

“Bewustheid maak al klaar ’n verskil. Talle ouers wat Dabrowski se werk leer ken, sê: ‘Vir die eerste keer maak sekere aspekte van my lewe sin. Ek het altyd geweet ek is anders en geglo daar is fout met my. Ek bekommer my oor dinge waaraan ander hulle nie eens steur nie. Nou weet ek ek is normaal – altans, in dié deel van die bevolking waar ek inpas!’

“Kinders se hebbelikhede word ook meer verstaanbaar, soos ‘stoutigheid’ wat op sensoriese oorlading of verveling dui, of ’n kind se dae lange hartseer ná ’n nuusberig oor hongersnood.”

Hoe weet ouers of hul kind begaafd is?

“’n Sielkundige of psigometris kan die kind toets, verkieslik iemand wat in begaafdheid spesialiseer. ’n Begaafde kind se antwoorde verskil soms met goeie rede van die standaardantwoorde. Dit moet in ag geneem word. Ouers kan ook mensa.org besoek. Dit bied uitstekende hulpbronne.”

Op die vraag of ouers die etiket van begaafdheid om ’n kind se nek moet hang, sê Mia: “Dis ’n persoonlike besluit. Ongelukkig kleef daar ’n stigma aan begaafdheid, asof ouers hulle aanmatig wanneer hulle sê hul kind is begaafd.

Rol af vir Mia se oorsiglys met eienskappe van begaafdheid.

“Die waarde van die ‘etiket’ van begaafdheid lê daarin dat dit kommunikasiekanale kan oopmaak. Hopelik sal onderwysers die kind met groter begrip hanteer, en ouers kan hul kind beter begelei. Diep binne weet hierdie kinders hulle is ‘anders’ en as hulle nie verstaan hoekom nie, verklaar hulle dit dalk op ’n negatiewe manier.

“Wanneer jou kind sê: ‘niemand in my klas lag vir my grappies nie. Ek is seker simpel,’ kan jy antwoord: ‘Jou brein werk anders as die meeste van jou maats s’n. Hulle begryp dalk nie nou jou sin vir humor nie, maar binne ’n jaar of wat sal dit verander.’ Of: ‘Jou brein registreer en verwerk meer inligting. Moenie sleg voel omdat jou maats nie so begaan is oor besoedeling nie.’

“Dis belangrik dat jou kind verstaan begaafdheid maak nie een mens beter as ’n ander nie. Dis ’n gawe, soos in die woord giftedness. Die bepalende faktor is wat jy met jou gawe doen. As iemand met sporttalent nie toegewyd oefen nie, gaan hy nêrens kom nie. Begaafdheid is ’n vorm van potensiaal, en jou kind het die keuse en die verantwoordelikheid om hierdie talente te verwesenlik.”

Aanduidings van begaafdheid

Hier is Mia se oorsiglys met eienskappe van begaafdheid:

  • Ongewone wakkerheid, selfs as baba

  • Vinnige leerder

  • Uitstekende geheue

  • Buitengewoon groot woordeskat en komplekse sinne

  • Gevorderde begrip vir metafore en abstrakte idees

  • Geniet dit om probleme op te los

  • Kan hulself op voorskoolse vlak leer lees en skryf

  • Diep, intense gevoelens en reaksies

  • Uiters sensitief

  • Denke is abstrak, kompleks, logies en insigryk

  • Idealisme en ’n sin vir geregtigheid op ’n vroeë ouderdom

  • Besorgdheid oor sosiale en politieke kwessies en onreg

  • Verdiep in eie gedagtes – dagdromer

  • Leer basiese vaardighede vinnig en met min oefening aan

  • Vra indringende vrae

  • Uiteenlopende belangstellings of gefokus op een gebied

  • Hoogs ontwikkelde nuuskierigheid

  • Eksperimenteer graag

  • Kombineer idees of voorwerpe op ’n ongewone manier

    Kontakdetail

    Mia von Scha, vroeër van Johannesburg, woon op die Engelse platteland en doen Skype-sessies met kliënte: transformationalparenting.guru of mia@transformationalparenting.guru

    Mia se aanlynkursus “ADHD: Alternatives to medication” is beskikbaar by udemy.com


    Hierdie artikel is oorspronklik gepubliseer in rooi rose en ook op www.rooirose.co.za

    Foto’s Unsplash, tensy anders aangedui. Modelle is gebruik.